“`n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie… iemand wat onreg kan verdra. Met vriendelikheid moet hy sy teenstanders teregwys” (24,25).
“Father Graham was an old-fashioned gentleman, beloved by every one, and his influence in the little town was great, so good and active was he,” vertel ‘Our Young Covenanters’,” vir ons die storie. `n Jongman in die dorpie is deur iemand erg beledig. Verontwaardig en woedend het hy na Father Graham toe gekom vir raad. Hy is nou op pad na die persoon toe, vertel hy vir Father Graham, om dadelik `n behoorlike verskoning te eis. “Ou seun,” praat Father Graham met die ontstoke jongman, “laat `n ou man wat lief is vir vrede vir jou `n brokkie advies gee. `n Belediging is soos modder; dit borsel baie makliker af as dit droog is, as wanneer jy nat modder probeer skoonkry. Wag `n rukkie totdat julle albei se humeure afgekoel het, en dan gaan julle die saak makliker regmaak as wat nou kan gebeur. As jy nou gaan, gaan julle net baklei. Our Young Covenanters sluit die storie so af: “It is pleasant to be able to add that the young man took his advice, and before the next day was gone the insulting person came te beg fogiveness.”
Al verloop die uiteinde van `n twis nie so mooi en maklik soos hierdie een nie, is dit `n groot en verstandige waarheid. As kalmte van gemoedere ingetree het, kan enige saak makliker uitgepraat word as wanneer al die betrokkenes kwaad is. Laat die modder eers droog word.
Net so mooi is die storie van die dogtertjie wat oppad is skool toe. Alles aan haar is wit: wit rokkie, wit kousies, selfs wit skoentjies, en sy dra vir haar juffrou `n bossie wit blomme. Sy loop by `n seuntjie verby wat op die sypaadjie sy modderkoekies sit en maak. Toe sy by hom kom, gaan sy net so effens staan dat hy kan sien hoe mooi sy is. Hy kyk vir `n oomblik en toe tel hy `n modderkoekie op en gooi dit teen haar vas. Bederf is die wit rok! Vir `n oomblik kyk albei ewe verskrik na mekaar. Toe breek sy een van die wit blommetjies af en gooi dit op sy skoot. Hy gee net een skree, spring op en hardloop huis toe. Die ene trane land hy by sy ma en vertel wat gebeur het. Verstandig gaan die ma na die huilende dogtertjie toe, neem haar na haar eie huis toe en so saam-saam sorg die twee ma’s dat die wit uitrusting herstel word. Die middag speel die kinders weer saam.
“Here, vandag loop ek saam met U die weg van vredemaak.”