“Die Here beskerm jou” (5)
Dr. Tony Campolo skryf in sy boek A Dreamer for the Kingdom dat hy opgegroei het in ’n digbevolkte, besige stad. Sy ma het ’n tienderjarige dogter, wat naby hulle gewoon het en ook skool toe moes loop, gevra om teen ’n nickle a day haar oog oor hom te hou as hy skool toe en terug loop. Die skool was agt blokke ver en hulle moes verskillende besige strate kruis om by die skool te kom. In sy tweede skooljaar het Tony opstandig geraak dat hy elke dag saam met die buurdogter moet skool toe stap. Hy wou alleen loop. “Ek kan alleen loop. Ek belowe, ek sal baie versigtig wees,” het hy gesoebat. Uiteindelik het sy ma toegegee. Vir die volgende twee jaar het Tony self skool toe en terug gestap. Hy was baie versigtig. Hy het nie met vreemdelinge gepraat of nuuskierig agter ander dinge aangegaan nie. Jare later, by ’n familiesamekoms, het hy grootgepraat oor sy onafhanklikheid en sy familie herinner aan sy selfstandigheid toe hy as klein seuntjie die moeilike pad skool toe alleen geloop het. Sy ma het gelag. “Dink jy regtig jy was alleen?” vra sy. “Elke oggend as jy skool toe loop, het ek jou gevolg tot jy veilig by die skool aangekom het. Elke middag as die skool moet uitkom, het ek vir jou buite gewag, maar so dat jy my nie sou sien nie, en dan het ek weer agter jou aangeloop tot ons by die huis gekom het. Ek wou naby jou wees, as jy in daardie besige strate my dalk sou nodig kry.”
Glo ons dat die Here elke dag naby ons was toe ons deur 2014 gestap het? Kom ons glo dit vir 2015. Jesus het sy dissipels belowe: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20). In die Here se Woord is God se nabyheid by ons ’n voortdurende belofte: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (9).
“Here, vandag rus ek in U teenwoordigheid”