“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (v17 Ou Vertaling).
Vyf honderd jaar gelede was dit in Engeland ’n misdaad om ’n Bybel te besit. Gelukkig het ons in ons land nog nooit so ’n belewenis gehad nie! Die Bybel kon nog altyd vryelik gelees word. Tog het ’n paar manne in Engeland, gewaag om ten spyte van die verbanning van die Bybel, die Bybel in gewone mense se hande te plaas. Sulke soort mense het die Bybel ook aan ons besorg.
Een van hulle was William Tyndale. Hy het homself aan God met ‘n eed verbind om in élke gewone mens se hande ’n Bybel te plaas. Sy bekende woorde was: “Every ploughboy should know the Scriptures.” Hy is uit Engeland verban om nooit weer terug te keer nie. Op die Europese vasteland het hy jare gewerk om die Bybel in Engels te vertaal. Sy eerste Engelse Nuwe Testament is in 1525 gedruk. Met die behulp van vriende het hy duisende Bybels Engeland ingesmokkel. Hy is in hegtenis geneem en in ’n koue sel in Vilvorde, België opgesluit. Daarna is hy op ’n brandstapel verbrand. William Tyndale het, in navolging van sy Meester, sy lewe gegee om vir ons die Bybel te gee. Sy laaste woorde was: “O Lord, open Thou the King of Engeland’s eyes.” Sy gebed is sodanig beantwoord dat die tradisionele Engelse Bybel die “King James Version” genoem word.
Die toegang van die evangelie in hierdie wêreld word heftig deur Satan weerstaan. Deur die krag van die Heilige Gees oorwin Christus se koninkryk en die evangelie het sy loop. Die uitbreiding van God se koninkryk het egter ’n hoë prys. Ons dank God vir manne en vroue wat in die wêreld se geskiedenis, bereid was om die hoogste prys, hul lewe, te betaal om die evangelie uit te dra. Dit spreek ons eie hart aan? Wat maak ons met hierdie groot skat wat na ons toe oorgedra is? Satan kon die verpreiding van die Here se woord nie keer nie. Nou doen hy, vir hom, die tweede beste ding: hy keer dat mense hulle Bybel lees! Hoe slaag hy by u daarmee? Lees die Here se woord. Oordink sy woord. As ons met oop oë en oop hart die Bybel lees, groei ons in ons kennis van God se koninkryk en ons groei in ons geestelike lewe. Uit die Woord, deur die Heilige Gees se werking, leer ons die Here Jesus ken. “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:18 Ou Vertaling).
“Here, vandag dank ek U vir my Bybel en ek wil u Woord lees en oordink en onthou.”