SKRIFDEEL: Lukas 10:25-37
“Hy het na hom toe gegaan…hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem…” (34)
Op ’n koue wintermiddag in Londen sit ’n ou man naby die hoek van ‘n straat op sy lae stoeltjie en bedel. Met vingers, blou van die koue, probeer hy sukkelende op ’n goedkoop viool speel. Die vals klanke trek min aandag. Min geldstukkies beland in sy omgekeerde hoed. Die ysige wind dryf die mense vinnig na hulle bestemming toe. Twee welgeklede mans steek by die ou man vas. Die een man spreek hom in gebroke Engels, met ’n vreemde aksent, aan: “Jy kry maar min in, nè? Niemand wil gee nie, nê? Kom ons máák hulle gee.” Hy neem die viool by die verbaasde ou man en stem dit in. Toe die strykstok oor die snare streel, is dit of daar lewe in die viool kom. Soet klanke, vol musiek, stroom uit. Mense kom tot stilstand, bly staan en luister. ’n Skare vergader. Die straathoek verander in ’n konsertverhoog. Die ou man se hoed word rondgestuur. Dit word swaar van al die muntstukke. Die vreemdeling gee die hoed vol geld en die viool aan die ou man terug. Die ou man is oorstelp van vreugde en opwinding. “Dankie! Dankie!” prewel die ou. “Wie is u, Meneer?” Die man glimlag. “My naam is Paganini.”
Dit was gerieflik binne Paganini se vermoë om die nodige taak, wat totaal buite die ou man se vermoë was, te verrig. Ons het elkeen vermoëns wat aan ander ontbreek. Ons kry ook geleenthede om vir ander dié dinge te doen wat vir hulle nodig is, maar wat hulle nie kan vermag nie. Dit is soos ’n dankoffer aan God, wat vir ons ons gawes gegee het, as ons vrywillig en hartlik vir iemand ’n onmoontlike knoop deurhaak. “Ek was oë vir die blindes en voete vir die kreupeles…” (Job 29:15).
“Here, vandag hou ek my oë oop vir ’n geleentheid om iemand te help met die gawes wat U aan my gegee het.”