Vry 5 Des: Die Prys

SKRIFDEEL: Johannes 3: 9 – 21

“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (16).

In die dae van die Goot Depressie was ’n man van Mis­souri, John Griffith, die kontroleur van die groot op­haalbrug oor die Mississippirivier, skryf D. James Kennedy in, Is It Nothing to You, van 19 Maart 1978. Een somerdag in 1937 wou John Griffith sy 8-jaar seuntjie, Greg, vermaak. Hy neem hom saam werk toe, sodat hy die groot verkeer en die werking van die ophaalbrug kan sien. Ná die oggendverkeer oor die brug, het John die brug opgehaal, sodat skepe met die ri­vier op en af kon vaar. Greg het met die middag­ete vol plesier op die waarnemingsdek by sy pa ge­­sit en eet. Die tyd het vinnig verby geglip. Skie­lik skrik John vir die gefluit van ’n aankomende trein. Hy kyk op sy horlosie en sien dis werklik al 1.07nm. en dit is die Memphis Express, met 400 pas­sasiers aanboord, wat aangestorm kom en die brug is nog opgehaal. Hy spring af van die waar­ne­mingsdek af en hardloop beheertoring toe om die brug betyds te laat sak vir die trein om oor die ri­vier te ry.

Net voor hy die hefboom oorgooi om die brug te laat sak, kyk John vinnig af om te sien of daar nie dalk ’n boot in die pad is nie. Hy sien ’n gesig wat sy hart in sy keel laat ruk van skrik. Greg het van die waarnemingsdek af gegly, en het in die massiewe ratte van die brug, bietjie laer af, be­land. Sy linkerbeen sit tussen die twee groot ratte wat die brug beheer, vas. John snak na asem. Hy dínk aan ’n plan om sy kind betyds uit die ratte, wat nou in werking gestel moet word, te red. Hy weet daar is geen uitweg nie. Óf die trein met sy 400 pas­sa­siers moet in die rivier beland, óf sy seun moet tussen die ratte vergruis word.

Die na­de­rende trein fluit weer. Hy hoor die ge­klik van die trein­wiele. Hy laat sak sy kop in sy lin­ker­arm en druk die hefboom vorentoe. Die mas­siewe brug sak in sy plek in en die vinnige trein jaag oor die brug verby. Met traanbedekte gesig kyk John op na die trein. Hy sien die passasiers agter die trein­ven­sters. Kennedy skryf: “There were businessmen cas­sually reading their af­ter­noon papers, finely dres­sed ladies in the dining car sipping coffee, and children laughingly push­ing long spoons into their dishes of ice cream No one looked at the con­trol house, and no one looked at the great blood­spattered gear­box. With wrenching agony, John Griffith cried out at the steel train: ‘I sacri­fic­ed my son for you people Don’t you care?’ The train rushed by, but nobody heard the father’s words.”

Hierdie pa se seun het per ongeluk in die brug se ratte beland. God het sy Seun uit liefde vir die wê­­reld gegee om in die wrede ratte van die straf op sonde vergruis te word. Paulus begin sy brief aan die Galasiërs met hierdie herinnering: “…die Here Jesus Christus, wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te vol­bring” (Gal1:4). En hy beklemtoon dit aan die Efe­siërs: “…soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was” (Ef.5:2). Maar, soos die Memphis Express jaag die wêreld vrolik verby en dink nie aan die prys wat God en sy Seun, ons Here Jesus Christus, betaal het om ons van die verdoemenis te red nie. Kom ons bedink weer die evangelie en open ons harte dat die Heilige Gees die waarheid en betekenis in ons harte kan wakkermaak, en ons ons weer aan God kan toewy. Wat het die God gekos om my te red en vir my die ewige lewe te gee?

“Here, vandag oordink ek en loof ek U vir die groot prys wat U uit liefde vir my betaal het.”