Do 4 Des: Die Prent word Duideliker

SKRIFDEEL: Lukas 23: 32 – 43

“…hulle het Hom daar saam met die misdadigers gekruisig…Toe sê Jesus: ‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!’” (34).

In die boek “God Confronts Man in History” vertel Henry Sloane Coffin dat twee Japanese vroue ’n ver­oor­deelde moordenaar in sy sel besoek het. Hulle wou met hom oor vergifnis en die ewige lewe praat. Hy was totaal belangeloos. Hulle het ’n Nuwe Testament op die tafel neergesit en vertrek. Na sy doodsvonnis voltrek is, is die volgende brief in die Nuwe Testament gevind:

“Die Nuwe Testament het my nie genoeg beïndruk dat ek dit wou lees nie. Ek het dit in die rak gebêre. Toe ek na ’n ruk moeg was van niks doen, het ek dit weer geneem en begin lees. Hierdie keer lees ek hoe Jesus voor Pilatus gebring is, onskuldig tot die dood veroor­deel is en gekruisig is. Dit het my aan die dink gesit. Ek weet hoe dit voel om gevang en tot die dood veroordeel te word. My aandag het verskerp toe ek lees: ‘Jesus sê: Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.’ Ek het opgehou lees. Ek het gevoel ’n vyfduim­spyker slaan in my hart in. Wat het die vers aan my openbaar? Sal ek dit die liefde van die hart van Christus noem? Sal ek dit sy meegevoel noem? Ek weet nie wat om dit te noem nie. Ek weet net, ek het met ’n onuit­spreek­like dankbaarheid sy liefde en vergifnis geglo. Ek is gered voor ek tereggestel is.”

Die lees van daardie Nuwe Testament het vir hierdie man toenemende lig oor Jesus gebring. Die hoor en die lees van die Woord bring geloof in die hart. Ons leer die Persoon van die Here Jesus al dui­deliker ken namate die Here se woord ons hart verlig. Ons is bevoorreg om Bybels te hê waarin die pre­diking van die profete en apostels opgeteken is en wat ons kan lees. Die bron waaruit ons ons ge­loof skep om in Christus te glo, is byderhand. “Hoe kan hulle Hom aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie ge­hoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? Die geloof is dus uit die gehoor…en die gehoor is deur die woord van God”(Rom.10:14 OU VERT.).

“Here, vandag wil ek u woord lees en U beter leer ken.”