Sat 27 Des: Span jou Seile!

SKRIFGEDEELTE: Filippense 3:10

"Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan Sy lyding."

Ella Wheeler Wilcox het geskryf: "Een skip vaar oos en 'n ander vaar wes met die selfde winde wat waai. Waarheen jy vaar word bepaal deur hoe jy die seile span, en nie deur die winde nie. Die noodlot is soos die winde van die see, dit waai ons deur die lewe. Dit is hoe jy jou seil span wat die doel bepaal en nie die kalmte of struwelinge nie."

Het jy al ooit opgelet hoe dieselfde omstandighede een mens onderdruk en 'n ander aanspoor tot groter hoogtes? "warheen jy vaar word bepaal deur hoe jy die seile span, en nie deur die winde nie." Dit is duidelik dat Paulus sy seile moes span: "Al wat ek wens, is om Christus te ken." En hy het geweier om van koers af te dwaal of om 'n kompromis aan te gaan.

Intimiteit met God was Paulus se enigste doel. Is dit maklik om so 'n doel te bereik? Nee! Dit beteken dat jy nooit kan opgee nie en jouself baie tyd moet gee om dit te bereik. Jy kan nie Godvresendheid op 'n skedule plaas nie. Jy moet geestelike dissiplines soveel oefen dat hulle later gewoontes word. Jou verstand het tyd en ervaring nodig om hulle te assimileer. Soos enige nuwe gedrag moet hulle eers deurdink, aanvaar en aangepas word. Soos die tyd verbygaan sal sommige van hulle posvat en deel word van 'n konstante lewensstyl. As jy terugkyk op jou lewe sal jy agterkom dat jy wel verander het. Hoe? Jy het jou seile in 'n nuwe rigting gespan en word nie meer doelloos rondgewaai deur die winde van drange, omstandighede, gerief, openbare mening of eie belang nie. Om soos Christus te wees is 'n reis, nie 'n bestemming nie. Beplan dus vir 'n leeftyd van reis en maak seker dat jy dit geniet terwyl jy op pad is.