Do 1 Jan: Die Nuwe Jaar Het Begin

Lees Psalm 16:5-8

Ek het eenkeer in ’n geselskap gesit terwyl ’n klein seuntjie in sy spel heen en weer oor die mat hardloop. Die hoek van die tafel, amper in die middel van die vloer, was net so hoog as die seuntjie se kop. ’n Skerp hoek. Elke keer as die kind rakelings met sy koppie by die uitsteek tafelhoek verby hard­loop, hou ek my asem op. Sy pa het die gevaar ook ge­sien. Hy het nie die kind se spel belet nie. Hy het ook nie die gevaarlike tafel verskuif nie. Hy het sy hand oor die tafelhoek gesit en ons het met die ge­selskap voort­gegaan. Ook nie lank nie toe gebeur wat ons almal voorsien het. Meneertjie hardloop met sy koppie teen die gevaarlike tafelhoek vas. Maar dit is nie die tafel­hoek wat hom tref nie. Hy kry nie seer nie. Dit is sy pa se sagte hand waarmee sy kop in aanraking kom. So handel ons Hemelse Vader ook met ons. Ons gaan voort met ons lewe en die gevaarlike elemente bly om ons, maar ons Vader beskerm ons teen die leed wat dit ons kon aandoen.

“Here, vanjaar vertrou ek op u alsiende Oog wat die gevaar sien, en u almatige Hand wat dit toemaak.”