SKRIFDEEL: Lukas 5: 1 – 11
“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so ’n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur” (5,6)
In Wes-Texas is daar ’n beroemde olieveld, bekend as The Yates Pool. Gedurende die depressiejare, was die olieveld, ’n ene Yates se skaapplaas. In die depressiejare het hy swak gevaar met sy boerdery. Hy kon die rente op sy verband nie betaal nie. Die gevaar het bestaan hy kon binne afsienbare tyd sy grond verloor. Hy kon sy gesin nie versorg nie en hy het van ’n staatsubsidie afhanklik geraak. Op ’n dag kom ’n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis aan. Daar is dalk ’n oliebron op sy grond. Kan hulle vir olie boor? Hy gee sy samewerking. Op 370 diepte boor hulle ’n oliebron raak wat 80 000 vate olie per dag lewer. Aangesien die grond nog aan Yates behoort het, behoort die mineraalregte toe ook aan hom. Hy leef op ’n staatstoelaag en wis nie hy is ’n multimiljoenêr nie! Die skrywer van die verhaal in Parables stel dit so: A multimillionaire living in poverty: What was the problem? He did not know the oil was there. He owned it, but he did not possess it. That is like many Christians today who don’t realize how rich they are in Christ.
Dit is ’n groot ontdekking om tot die insig van ons rykdom in Christus te kom. Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Petrus in sy hart steeds blind gebly vir sy rykdom in Christus. Dit was eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus 3 keer verloën: “Ek ken die man nie!” – en na die uitstorting van die Heilige Gees, dat sy oë vir sy groot rykdom in Christus vir oopgegaan het. In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: “Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet.1:4). In ons omgang met God deur sy Woord en gebed en die werking van die Heilige Gees in ons hart, word die Here Jesus in ons oë al groter en leer ons ons rykdom ken.
“Here, vandag wil ek leer hoe ryk ek in U is.”