Lees Kolossense 3: 5 – 17
“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe” (13).
Victor Guaminga, ’n ywerige, belydende Christen in Ecuador, was projek-koördineerder van World Vision se werk in sy land. In die World Vision-kwartaalblad van Maart 1986, word onder die opskrif: Forgiveness Unclogs a Pipeline, vertel hoe Victor Guaminga sy tuisdorp, Laime Chico, van skoon water wou voorsien om die kwale wat deur vuil water oorgedra word, teë te werk. Maar die waterbron was ’n redelike afstand van Laime Chico af geleë, en die pyplyn sou deur ’n naburige dorp, wat vyandig teen Laime Chico was, gelê moes word. Toe dáárdie dorp van die pyplyn hoor, het hulle ook dadelik gedreig om enige poging om die pyplyn te lê te beveg en enige pype wat aangelê word, dadelik te beskadig. In Laime Chico was ’n sterk, lewende kerk. In die ander dorp was nie ’n kerk nie. Daar was dus geen Christelike basis waarop die probleem benader kon word nie. Laime Chico se kerk besluit toe om in die ander dorp ’n evangeliese veldtog te hou, met die hoop dat daar ook ’n kerk kan ontstaan en ontwikkel. Dit was ’n moeilike en ook ’n gevaarlike poging. Die belangstelling was gering. Uiteindelik het vier van die dorp se mense hul harte vir Christus oopgemaak. Hierdie vier persone se geestelike lewe het stadig ontwikkel en deur hulle getuienis het nog ’n paar mense by die klein gemeente aangesluit. Die kerk het stadig gegroei. Toe kom die man wat die pyplynplan die heftigste beveg het tot bekering. Hy het sy verkeerde houding ingesien, sy buurdorp se vergifnis gevra en sy ondersteuning vir die pyplyn beloof. Vyf jaar na die aanvang van die varswaterplan het die eerste skoon, drinkbare water deur die nuwe pyplyn na Laime Chico toe gevloei. Maar nie net na Victor se dorp toe nie, maar toe ook na die eens vyandige dorp toe. ’n Rukkie later is die water ook na twee ander dorpe in die omgewing toe aangelê. In die vier dorpe is daar nie nou net skoon drinkwater nie, maar in elkeen van die dorpe is daar ook groeiende kerke. Nie net gewone water nie, maar ook die water van die lewe het na dorstige mense toe ’n weg gevind, toe die prop van haat uit hulle harte verwyder is.
Mense se lewens is die pyplyn waarmee God sy water van die lewe na verlore mense toe lei. Nyd en haat en toorn kan van die ergste verstoppings wees wat die Here se werk belemmer. Paulus en Barnabas het eenkeer vir mekaar kwaad geword en hulle kon nie langer met mekaar saam werk nie. “Hieroor het hulle so skerp verskil dat hulle van mekaar geskei het…” (Hand.15:39). Die Heilige Gees word deur onmin tussen Christene bedroef en die vloei van geestelike seën droog op.
“Here, vandag ondersoek ek my hart en ek bely enige nydgevoel teen ’n ander aan U.”