Do 22 Jan: Heroorweeg dit Eers

Lees Matteus 7: 1 – 6

“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy bie op nie?” (3)

Die gewilde skrywer en prediker, F. W. Bore­ham, het eenkeer sy geduld verloor met die kritie­se en snedige dinge wat ’n mnr. Critingden kwytge­raak en selfs in die pers oor hom geskryf het. Na nog ‘n besonder neerhalende kritiek teen hom in die jongste koerant, het Boreham gaan sit en woe­dend aan Critingden ’n skerp, bestraffen­de brief ge­skryf. Hy het die koevert toegeplak, ‘n seël op­ge­sit en by die deur uitgestap om die brief in die pos­bus te gaan gooi. Dit was ’n lieflike aand vir stap en Boreham het by die posbus verby gestap sonder om die brief te pos, met die gedagte dat hy met die terugstap die brief sal pos. ’n Blok verder loop hy ’n vriend raak wat vir hom sê: ”Arme ou Cri­tingden is dood.” Boreham vra geskok. “Regtig? Waaraan is hy dood?” “Hy is skielik dood – vroeg vanmiddag. My jy weet, ek dink dit is vir die beste. Hy het dit moeilik gehad. Jy weet seker van alles.” “Nee,” antwoord die steeds geskokte Boreham,” ek weet omtrent niks van hom af nie.” “O, ek het ge­dink almal weet. Hy het net twee kinders gehad, ’n seun en ’n dogter. Kort na sy vrou se dood is die seun in ’n ongeluk dood. Die dogter het haar ver­stand kwyt geraak en is nou in ’n gestig. Arme ou Critingden. Dit het hom totaal verbitter en hy het om­trent almal se vyand geword.” Boreham is te­rug na sy huis toe sonder om die brief te pos. Hy was be­­skaamd oor homself en diep vernederd oor sy eie kleinlikheid. Hy het die brief in klein stukkies opgeskeur en hulle een vir een in die kaggelvuur gegooi. Toe het hy daar voor die kaggel gekniel, sy lelike gesindheid en swak­heid bely en gebid dat hy die gena­de mag hê om in die toekoms moeilike mense met liefde vriende­lik en sag sal hanteer, soos hy graag wil hê mense met hom moet doen.

Ons menslike natuur is vinnig om nyd met nyd te beantwoord. Tensy ons in ons geestelike lewe so groei dat die Heilige Gees Christus se lewe en ge­sind­heid in ons die oorhand laat kry, sal ons gedurig ru­sie met rusie antwoord. “Laat julle steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor be­geer­tes van julle sondige natuur nie…vyandskap, haat na­ywer, woede, rusies…Die vrug van die Gees daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vrien­delikheid, goedhartigheid…” (Gal.5:16,19,22).

“Here, vandag bid ek dat die Heilige Gees my versterk.”