Ma 5 Jan: Hy faal jou Nie

SKRIFDEEL: Lees Psalm 116

“Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het… ek het benoud en bekommerd geword… ek was magteloos, maar Hy het my gered…die Here het goed aan my gedoen” (2,3,6,7)

Dr. J. H. Jowitt was eenkeer in groot moei­likheid wat hom radeloos gelaat het. Dit was asof hy nie met sy gebed die Here kon bereik nie. Hy kon aan geen uitweg dink nie. Hy het hom tot sy vriend, dr. Berry, van Wolverhampton, gewend vir raad. “Wat sou jy in my plek gedoen het?” vra hy vir dr. Berry. “Ek weet nie, Jowitt,” antwoord dr. Berry. “Ek is nie daar nie, maar onthou, jy is ook nog nie daar nie. Wanneer moet jy in die saak optree?” Dr. Jowitt antwoord: “Vrydag.” “Dan,” antwoord dr. Berry, “sal jy Vrydag jou weg oop sien. Die Here sal jou nie in die steek laat nie.” En so was dit toe ook. Toe Vrydag aanbreek, het dr. Jowitt ’n oplossing vir sy probleem gekry en geweet wat hom te doen staan.

Hieroor sê dr. F. W. Boreham – hy het op 14 jarige ouderdom in ’n steenfabriek begin werk waar hy sy regtervoet in ’n ongeluk verloor het; hy was 24 jaar oud toe hy in sy eerste gemeente gekom het; hy het 46 boeke geskryf voor hy dood is op 88-jarige ouderdom: ‘’Gee God tyd. Al moet jy soos Abraham reeds die mes ophef om jou Isak te offer, sal jy betyds die plaasvervangende ram met sy horings in die takke vas sien staan. Jy sal die plek van jou beproewing dan ook noem: Die Here voorsien. (Gen.22:8-14). Gee God tyd. Al storm die moeilikhede op jou af soos Farao se leërmag op Moses en die Israe­liete afgestorm het, sal jy die pad sien wat God betyds vir jou deur die water oopkloof (Eks.14:15-18). Gee God tyd. Al droog die spruit op, sal jy betyds God se leiding ontvang om na die weduwee in Sarfat toe te gaan (1 Konings 17:7-9).

Ons kan gerus voel. Die Here verseker ons in Psalm 31:15 (Lew.Bybelvert.) van betydse hulp: “Ek vertrou op U, want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede”.

“Here, vandag laat ek al my bekommernis in U hande rus.”