SKRIFDEEL: Matteus 4: 1 – 11
“’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (4)
’n Vrou wat erg aan senuweespanning gely het, het die wêreldberoemde dr. Howard A. Kelly besoek. Die lewensdruk het ’n tol geëis, fisies en selfs verstandelik. Sy het hom van al haar simptome vertel en hy het haar deeglik ondersoek. Sy voorskrif het haar verbaas. “Wat jy nodig het, Mevrou,“ het hy gesê, “is dat jy die Bybel meer sal lees.” “Maar, Dokter….” het die verwarde vrou begin teëpraat. Hy het met simpatieke gesag herhaal: “Gaan huis toe en lees vir ’n maand lank jou Bybel ’n uur elke dag, en kom dan terug na my toe.” Eers wou sy haar vererg. Sy besef toe egter met ’n steek van haar gewete dat sy die afgelope tyd die lees van die Here se woord totaal verwaarloos het. By haar huis het sy gaan bid en haar versuim van die lees van die Here se woord, en haar gebedsomgang met God, bely. Met haar terugkeer na die Here toe en haar daaglikse Bybellees en bid, het die vreugde van haar vorige geloofsverhouding met die Here teruggekeer. Toe sy ’n maand later na dr. Kelly toe teruggaan sê hy dadelik: “Wel, ek sien jy was ’n gehoorsame pasiënt. Voel jy steeds dat jy medikasie nodig het?” “Nee, Dokter,” antwoord sy, “ek voel ’n nuwe mens. Maar hoe het u geweet dat ek dít nodig gehad het?” Hy tel sy eie verslete en goedgemerkte Bybel op. Hy sê: “As ek my daaglikse Bybellees verwaarloos, verloor ek nie net my vreugde nie, maar ook my bron vir krag en bekwaamheid….” Hy gaan voort, in sy eie woorde: “Your case called not for medicine, but for a source of peace and strength ouside your own mind. My prescription, when tried, works wonders!”
Ons daaglikse Bybellees moet nie net met ons oë wees om die inhoud te ken nie, maar ook met ons denke om wat geskryf is te verstaan, en ook met ons hart, om wat ons lees en verstaan, te oordink. Iemand het gesê oordenking van die Here se Woord is so nodig soos die spysvertering van die kos wat ons eet. Ons is nie alléén in die oordenking van die Here se woord nie. Deur die Heilige Gees is die Here by ons en praat Hy met ons. Die Heilige Gees maak die Bybelwoorde wat ons lees en verstaan vir ons voedsel, water, lig, krag, medisyne. “…wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak (Trooster – Ou Vert.), die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh.14:26).
“Here, vandag lees en oordink ek u Woord.”