Lees Hebreërs 5:11-6:3
“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap (6:1)
Die bekende skrywer, Wilbur M. Smith, skryf in Profitable Bible Study dat die meeste boeke van die Bybel in minder as 20 minute deurgelees kan word. Die hele Ou en Nuwe Testamente, sê hy, kan hardop, stadig en met gevoel in 72 uur deurgelees word. Dan beweer hy: It will astonish many to know that one single, normal issue of The Saterday Evening Post contains as much reading matter as the entire New Testament.” Baie duisende lees so ’n koerant maklik in minder as ’n week deur, skryf hy en voeg by “The number of Christians who read the New Testament through every week, or even one whole book of the New Testament every week, are so few that we need not talk about it.” In die Ou Testament is daar 13 boeke en in die Nuwe Testament 17 boeke wat uit minder as 10 hoofstukke bestaan. Die hele Ou Testament het 930 hoofstukke en die hele Nuwe Testament 261 hoofstukke. Saam is dit 1 191. Gedeel deur die 365 dae van die jaar hoef ‘n mens minder as 3½ hoofstukke per dag te lees om die Bybel in ’n jaar deur te lees. Ons geestelike lewe en geestelike groei is afhanklik van die lees van God se Woord. “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei (1 Pet.2:2 Ou Vertaling).
“Here, vandag lees ek met sielehonger u Woord.”