SKRIFDEEL: Johannes 20: 19 – 31
“Maar Thomas sê vir hulle: ‘As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek nie…sal ek nooit glo nie.’ Ag dae later…het Jesus gekom en tussen hulle gestaan…Daarna sê Hy vir Thomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande…’” (25,27).
’n Man het eens ’n fabriek besoek. Die bestuurder het hom in die fabriek rondgewys. Die netjiese toestand van alles in die fabriek en die geesdrif van die bestuurder, het op die man ’n groot indruk gemaak. Hy het die bestuurder opreg bedank vir die moeite om hom so rond te wys en sy hand uitgesteek om die hom ’n hartlike handdruk te gee. Hy het van so ’n energieke man ’n stewige handdruk verwag, maar die hand wat hy neem was pap en sonder krag. Hy het die bestuurder se hand teleurgesteld gelos. Die bestuurder het verleë geglimlag: ”Verskoon asseblief my hand. Toe ek ’n vakleerling was het ’n spyker my hand deurboor. Daarna kon ek nooit weer my hand toemaak nie.” Die besoeker steek dadelik weer sy hand uit. ”Mag ek u weer ’n handdruk gee, Meneer,” sê hy met aandoening, ”en mag ek u herinner aan ’n ander Man wie se hand 2 000 jaar gelede ook met ’n spyker deurboor is en wat daarna ook sy hand nooit weer kon toemaak nie.”
Die Here Jesus se hande was tydens sy lewe op aarde altyd oop vir enigiemand wat Hom nodig gehad het en iets van Hom gevra het. Toe is sy hande deurboor, sodat Hy aan ons die ewige waardes van vergifnis van sonde, verlossing, die kindskap van God as ons Vader, en ewige lewe kon gee. Sy hande bly altyd oop, om aan ons alles te gee wat vir ons geestelike of tydelike lewe nodig is. Kom na Jesus toe. Vra wat u nodig het.
“Here, vandag kom ek na U toe en ek vra.”