SKRIFDEEL: Spreuke 18: 1 – 15 – Lewende Bybel
”As ’n mens sommer jou opinie oor ’n saak gee voordat jy mooi geluister het waaroor dit gaan, is jy dom en sal jy in die skande kom” (13)
’n Plaasseun het eenkeer masels gekry en moes toe in ’n donker kamer in die plaashuis bly, so¬dat sy oë nie deur die sonlig beskadig word nie, soos sy ouers geglo het. Die tyd het hom gou verveel en hy het by sy buitedeur gekniel en deur die sleutelgat gekyk wat buite aangaan. Hy kon nie wyd sien nie. Hy kon net die dinge sien, wat in die nou sigveld van die sleutelgat by die deur verbygaan. Een oggend kom sy pa se spog perd by die deur verby, gelei deur ’n stalwerker. Die perd se pens en bene is vol bloed. Dadelik is die seun kwaad. Die slegte werker, dink hy, hy het die perd natuurlik oor ’n doringdraad laat spring en die perd het homself beseer. Hy wonder wat sy pa met hom sal maak. Hy verdien om terdeë gestraf te word. Net toe verskyn sy pa in sy gesigsveld en hy sien hoe sy pa met die werker praat en oor die perd se pens streel. Hy kan nie hoor wat gepraat word nie, maar hy word eintlik warm net by die gedagte wat sy pa nou vir die werker sê. Bietjie later kom loer sy pa by hom in. Die eerste waarna hy vra, is wat sy pa met die slegte werker, wat die perd verniel het, gaan maak. Sy pa gaan sit op die bed. ”Nee, Seun, daar is nie fout nie,” sê hy bedaard. Die perd was siek en die werker was so oplettend om dit raak te sien en vir my daarvan te vertel. Ek het dadelik die veearts laat kom en hy het bloedgelaat. Dit is die bloed wat jy aan die perd se pens en bene moes gesien het. Jy het deur die gaatjie te min gesien en daarom het jy ’n verkeerde gevolgtrekking gemaak. Leer vanmôre hierdie goeie les: moet jou nooit uitspreek oor iets wat jy net deur ’n gaatjie sien nie.”
Dit is die groot gevaar om uit te praat oor iets wat mens net by iemand anders gehoor het. ’n Verstandige mens kry éérs die feite voor hy sy gevolgtrekking maak. Ons onderlinge verhoudinge, en veral ons verhouding as Christene met mekaar, vra vir versigtigheid in ons beoordeling van mekaar: “Wees altyd beskeie…geduldig, en verdra mekaar in liefde” (Ef.4:2).
“Here, vandag wil ek versigtig wees in wat ek van ’n ander hoor en dan van die ander dink.”