SKRIFDEEL: Miga 6 : 6 – 9 (Ou Vertaling)
“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (8)
In The Challenge skryf ’n persoon oor ’n waarheid wat vir sy hart oopgegaan het, toe hy een aand onder ’n lamplig deur geloop het op pad iewers heen. Toe hy reg onder die lig was kyk hy toevallig af op sy voete. Sy skaduwee was ’n klein ronde kring om sy voete. Namate hy verder stap, groei sy skaduwee en word langer en langer. Hy draai om en gaan terug na die lig toe. Sy skaduwee krimp en reg onder die lig is daar feitlik geen skaduwee nie, net ’n kringetjie om sy voete. Die skrywer druk sy gedagtes oor hierdie ondervinding so uit: “When we get away from the Light of the world, the Lord Jesus Christ, we begin to think more highly of ourselves that we ought to think. It is when we are closest to the Light that we get the truest measure of ourselves.”
Hoe kleiner ons in ons eie opinie is, hoe bruikbaarder is ons vir die Here. Bewus van Jesus se grootheid ken ons ons eie kleinheid. Johannes die Doper het van Jesus gesê: “Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie” (Joh.1:27). Hy het ook gesê: “Hy moet meer word en ek minder” (Joh.3:30). ’n Nederige mens, iemand wat nie van hom/haarself ’n hoë opinie het nie, is nie net vir die Here meer bruikbaar as ’n selfvoldane, trotse mens nie, maar so iemand is vir ander ook aangenamer om mee saam te leef, as iemand wat gedurig vol is van homself of haarself. Uit die nederige persoon vloei ’n aangenaamheid van lewe.
Iemand het die opmerking gemaak, dat die groot voëls nie sing nie. ’n Volstruis, ’n adelaar, ’n aasvoël, sing nie. Die sangers is die klein voëltjies, die kanaries, die duiwe, die nagtegaal. ’n Trotse mens is dikwels ook ’n onvriendelike mens, stuurs en eenkant. God is lief vir ’n nederige mens: ”So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die heilige is: ’Ek woon in ’n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes” (Jes.57:15,16).
“Here, vandag wil ek naby U bly om in my eie oë klein te wees.