Lees 2 Korintiërs 5:110
“Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon” (8)
’n Bejaarde predikant het eenkeer in ’n plaasomgewing op die grondpad verdwaal. Nêrens was ’n padwyser om hom rigting te gee nie. Hy het die rit alleen aangepak. Uiteindelik sien hy ’n boerewoning. Hy draai in en vra pad. ’n Sproetgesig seun kom na hom toe en beduie vir hom die pad. “Gaan reguit aan met hierdie pad soos Oom gekom het. Net oppas, daar is heelwat slegte kolle en sanderige plekke. Op een plek is daar ’n sloot oor die pad, maar as Oom mooi op die klipperige spoor hou, sal Oom nie in die modder vassit nie. As Oom dan nog ’n ent aanhou, kom Oom by ’n begraafplaas. Ry reguit deur die begraafplaas. Die hek sal oop wees. Nes Oom deur die begraafplaas is, sal Oom op die teerpad kom. Draai dan regs en die plek waarheen Oom op pad is, is net ’n klein entjie om die draai.” Toe hy verder ry, dink die ou dominee by homself. Dit is net soos dit nou met hom in sy lewe gaan. Sy lewenspad is nou, veral na sy vrou hom ontval het, ’n stamperige, sanderige, sloterige grondpad. Soms voel dit vir hom ook of hy wil vasval. Maar net nog ’n entjie en dan kom hy ook by sy eie begraafplaas aan en sy probleme sal verby wees, want net na die begraafplaas is God se hoofweg en God se woning is net om die draai.
Die grondpad van ons aardse lewe is nie vir ons almal só ’n moeilike en onbegaanbare pad nie. Sommige grondpaaie is so netjies geskraap en versorg, dat dit so glad soos ’n teerpad ry. Dit is ’n groot guns as die Here sy kind so seën dat sy aardse lewe sonder stampe en stote verloop. So iemand moet dan steeds uitsien na die baie heerliker hemelse bestemming. Johannes waarsku in 1 Johannes 2:15 teen `n te maklike pad: “Moenie lief raak vir hierdie sondige wêreld of die dinge wat dit ’n mens aanbied nie. Want as ’n mens se hart vol word van hierdie dinge van die wêreld, is daar nie plek om die Vader lief te hê nie.” Baie van ons ervaar egter ’n stamperige pad. Dawid se pad was baie stamperig, so erg dat hy uitroep: “Ek is uitgeput van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deurweek my bed met trane…” (Ps.6:7). Beproewinge, maar ook baie seëninge, was Dawid se lewenservaring. Reeds van uit sy Ou Testamentiese posisie vertrou hy vir sy eie behoud in Christus se opstanding, soos Petrus dit in Handelinge 2:26-27 vertolk: “Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie…” As ons stip na die kruis en dan na die leë graf kyk, word ’n opstandingshoop en blydskap in ons harte wakker. “In sy groot ontferming het Hy (God) ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel…in bewaring gehou word” (1 Pet.1:3,4).
“Here, vandag soek ek krag en oorwinning uit u opstanding.”