Di 6 Jan: Die Pad deur die Kerkhof

Lees 2 Korintiërs 5:110

“Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon” (8)

’n Bejaarde predikant het eenkeer in ’n plaas­omgewing op die grondpad verdwaal. Nêrens was ’n padwyser om hom rigting te gee nie. Hy het die rit alleen aangepak. Uiteindelik sien hy ’n boerewoning. Hy draai in en vra pad. ’n Sproetgesig seun kom na hom toe en beduie vir hom die pad. “Gaan reguit aan met hierdie pad soos Oom gekom het. Net op­pas, daar is heelwat slegte kolle en sanderige plekke. Op een plek is daar ’n sloot oor die pad, maar as Oom mooi op die klipperige spoor hou, sal Oom nie in die modder vassit nie. As Oom dan nog ’n ent aanhou, kom Oom by ’n begraafplaas. Ry reguit deur die be­graaf­plaas. Die hek sal oop wees. Nes Oom deur die be­graafplaas is, sal Oom op die teerpad kom. Draai dan regs en die plek waarheen Oom op pad is, is net ’n klein entjie om die draai.” Toe hy verder ry, dink die ou dominee by homself. Dit is net soos dit nou met hom in sy lewe gaan. Sy lewenspad is nou, veral na sy vrou hom ontval het, ’n stampe­rige, sanderige, slo­terige grondpad. Soms voel dit vir hom ook of hy wil vasval. Maar net nog ’n entjie en dan kom hy ook by sy eie begraafplaas aan en sy probleme sal verby wees, want net na die be­graaf­plaas is God se hoofweg en God se woning is net om die draai.

Die grondpad van ons aardse lewe is nie vir ons al­mal só ’n moeilike en onbegaanbare pad nie. Som­mige grondpaaie is so netjies geskraap en ver­sorg, dat dit so glad soos ’n teerpad ry. Dit is ’n groot guns as die Here sy kind so seën dat sy aardse lewe son­der stampe en stote verloop. So iemand moet dan steeds uitsien na die baie heerliker hemelse be­stem­ming. Johannes waarsku in 1 Johannes 2:15 teen `n te maklike pad: “Moenie lief raak vir hierdie sondige wêreld of die dinge wat dit ’n mens aanbied nie. Want as ’n mens se hart vol word van hierdie dinge van die wêreld, is daar nie plek om die Vader lief te hê nie.” Baie van ons ervaar egter ’n stamperige pad. Dawid se pad was baie stamperig, so erg dat hy uitroep: “Ek is uitge­put van verdriet, ek huil die hele nag deur, ek deur­week my bed met trane…” (Ps.6:7). Beproewinge, maar ook baie seëninge, was Dawid se lewens­er­varing. Reeds van uit sy Ou Testamentiese posisie ver­­trou hy vir sy eie behoud in Christus se opstan­ding, soos Petrus dit in Handelinge 2:26-27 vertolk: “Daar­­om is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe, want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie…” As ons stip na die kruis en dan na die leë graf kyk, word ’n op­stan­dingshoop en blydskap in ons harte wakker. “In sy groot ontferming het Hy (God) ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onver­ganklike, onbesmette en onverwelklike erfe­nis wat in die hemel…in bewaring gehou word” (1 Pet.1:3,4).

“Here, vandag soek ek krag en oorwinning uit u opstanding.”