Ma 26 Jan: Die Veilige Plek

Lees Johannes 10: 1 – 13

“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape (14).

’n Sakeman, Allen Emery, was in die wol­be­dryf. Eenkeer het hy ‘n nag saam met ’n herder en sy skape op die Texasprêrie deurgebring, skryf Robert J. Morgan in From This Verse. Skielik, in die middel van die nag, het die lang ge­huil van die prêriewolwe opgeklink. Die skape wat gelê en slaap het, het verskrik met ’n jam­mer­like geblêr op die been gekom. Die herder het vinnig opgestaan en meer hout op die vuur gegooi. Die vuur het vinnig opgevlam. In die gloed van die vuur het Allen om hom rondgekyk. In die donker het duisende liggies gevonkel. Hy het besef dit is die weerkaatsing van die vuurlig in die skape se oë. Hier is Allen se eie opmer­king hieroor: “In the midst of danger the sheep were not looking out into the darkness, where the coyotes were wailing, but were keeping their eyes set in the direction of their safety, look­ing toward the shepherd.”

Ons ken ook vrees – al wys ons dit nie altyd nie. Allerhande wolwe huil daar buite en bedreig ons. Jesus se vergelyking van ons met ’n herder se kudde is baie vertroostend. Ons is deel van sy kudde as ons in Hom as ons Verlosser vertrou. En Hy is ’n getroue en betroubare Herder. Hoe geluk­kig is ons nie! Ons het ’n getroue en almagtige Her­der wat ons bewaak.

Ons is swak, maar ons skuil by Hom. Hou die oë vertrouend op Jesus: “…die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins. En Hy sit nou aan die regterkant van troon van God. Hou Hom voor oë…dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Heb.12:2,3).

“Here, vandag kyk ek na U en ek skuil by U.”