Lees Johannes 5: 24 29
“Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat…gehoor gee, sal lewe.” (25).
In The Way Out vertel P. W. Philpott dat hy een Januarie-aand, as jongman, in ’n klein Kanadese dorpie, op ’n straathoek, by ’n groep mense verbyloop wat besig is om ’n opelugdiens te hou. ’n Vrou sing met ’n mooi, helder stem ’n lied. Hy gaan staan om te luister. Vir hom is alles nuut, want geestelike liedere, kerk of Sondagskool was ver buite sy belangstellingsveld. Die vrou sing:
When I survey the wondrous Cross
On which the Prince of Glory died
My richest gain I count but loss
And pour contempt on all my pride.
Na elke vers sing sy ’n refrein:
O Calvary! Dark Calvary!
Speak to some heart from Calvary.
Terwyl sy so sing, haar gesig opgehef na die hemel, maak die Heilige Gees in hierdie luisterende wêreldse man, die kruis van Golgota ’n werklikheid. Vir die eerste keer daag dit in sy hart dat Jesus Christus in sy plek aan die kruis gesterf het. Hy het nie geestelike kennis of ’n raadgewer gehad om vir hom te sê wat besig was om met hom te gebeur nie. Hy skryf: “Later, when I began to read my Bible and found those terms of ‘saved’ and ‘born again’, I felt: ‘Why, they express my experience. I was surely ‘born again’ as I stood before the Cross of Christ. As one of the old hymn writers has expressed it:
My conscience felt and owned its guilt,
And plunged me in despair;
I saw my sins His blood had spilt
And helped to nail Him there.’”
Toe hy daardie aand by die huis kom, doen hy iets wat hy nog nooit voorheen gedoen het nie. Voor hy in die bed klim, kniel hy en hy bid. En tot sy groter verbasing en blydskap, spreek hy God aan as: “…my dear heavenly Father” en voeg by: “For 58 years now, I have been thus addressing Him. He has been more than a Father to me.”
Die volgende dag het hy verder hulp gekry. ’n Man wat as ‘n Christen bekend was, het uit die bloute met hom ’n gesprek aangeknoop. Die man het hom dalk daardie aand by die opelugdiens raakgesien. Die man maak sy sakbybeltjie oop en lees vir hom stadig Johannes 5 vers 24: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” Die man vra hom om dit self te lees. Hy kan die betekenis nie mooi snap nie. Die man vra hom om dit weer te lees. Toe vra hy vir hom: “Weet jy wie dit sê?” Maar hy weet nie. Die man antwoord: ”Dit is Jesus self wat hierdie wonderlike woorde vir jou sê.” Die man laat hom die vers weer lees en vra: “Wat sê Hy hét jy nou?” Hier is Philpott se eie woorde: ”’Why, He says I have everlasting life.’ Then the man asked, ’Now, what do you say you have?’ And in 58 years I have never doubted that great and glorious fact. I have eternal life!”
Deur die Heilige Gees word geloof in ons hart gewek en ons word as kinders van God wedergebore: “julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganlike, deur die lewede woord van God wat tot in ewigheid bly” (1 Pet.1:23).
“Here, vandag glo ek dat ek deur U die ewige lewe het.”