“Soos ’n herder versorg Hy sy kudde…”(11).
Die bekende prediker en Christenskrywer, dr. F. B. Meyer, sê van die Oosterse herder: “Hy loop voor sy skape uit. Hulle kom waar hy reeds gewees het. Enige aanval op hulle moet met hom rekening hou, want hy gaan voor hulle uit. Dawid, wat self ’n herder was en geweet het hoe ’n herder teenoor sy skape voel en wat ’n herder vir sy skape doen, sê van die Here: ‘Die Here is my Herder.’ Jesus het Homself ‘die Goeie Herder’ genoem. As God ons Herder is en as ’n herder voor sy skape uitgaan, beteken dit God is voor ons. Hy is reeds in môre. Ons moet nog by môre kom. Dit is môre waarvoor ons bang is. Môre hou vir ons bedreiging in. Maar God is reeds daar.
Al die môres van ons lewe moet eers by God verby kom voor hulle by ons kan kom. Ons kan met vrede in ons hart vorentoe gaan, want ons sal God daar vind.”
’n Ou vrou het eens gesê sy is nie bang vir die toekoms nie. Sy het baie gisters belewe. In elke gister het God vir haar gesorg. En vandag het sy uitgevind: God het ook vir vandag vir haar voorsiening gemaak. Daarom weet sy, môre sal Hy haar inwag en vir haar sorg.
Ons kan God vertrou. Die Here Jesus het sy dissipels, kort voor Hy van hulle sou weggaan terug hemel toe en hulle hulle pad alleen sou moes loop, die groot gerustelling gegee: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God. Glo ook in My” (Joh.14:1). Wat moet ons doen met die bekommernis wat in ons hart opstapel? ”Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1Pet.5:7). “Moenie bang wees nie, Ek is by jou. Moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (Jes.41:10).
”Here, vandag wil ek met vertroue in U as my Herder die toekoms ingaan.”