Ma 19 Jan: 'n Gevaarlike Plek

SKRIFDEEL: Openbaring 20: 11 – 15

“As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (15)

George Lennox was ’n berugte perdedief in vroeë Amerika, skryf Die Bode van Maart 2004. Eenkeer moes hy vir sy gevangenisstraf in ’n steenkoolmyn werk. Hy werk op ’n gevaarlike plek, word hy gewaarsku. Hy maak dit as onsin af. Ure later stort die dak van die myn ineen en hy word lewendig begrawe. Twee uur later is hy onder die steenkool uitgegrawe en deur die tronkdokter dood verklaar. Toe sy tronkmakkers hom in sy kis plaas, laat hulle hom per ongeluk val. Tot almal se verbasing kreun hy en maak sy oë oop. Sy verligting en blydskap, toe hy sien hy is in die tronkhospitaal, was aanrypend. In sy diep bewustelose toestand het hy verdoemenis ervaar. So beskryf hy dit:
“Ek het die hele oggend ‘n voorgevoel gehad iets vreesliks gaan gebeur. Toe die steenkooldak padgee, was dit stikdonker om my. Voor my het ’n ysterhek oopgeswaai. Dit was doodstil en ek was stoksiel alleen. Ek het deur die hek geloop. Voor my het ’n skrikwekkende gedaante verskyn. Seker drie meter lank, met vlerke op sy rug. Hy was heeltemaal kaal. Sy oë was twee vuurballe, sy hare swart, ruig en lank, tot op sy skouers. Sy tande was soos ’n roofdier s’n. Aan weerskante van die gang kon ek mense hoor skreeu en smeek na water en ek het gewéét dit is die hel. Ons het op ’n breë vlakte uitgestap. Ver bokant my, in die verte, het ek die helder verligte hemelstad, waarvan die Bybel vertel, gesien, met vreugdevolle verlostes en engele wat rond beweeg en die lieflikste liedere sing. Ek het my ou Moeder, wat aan ’n gebroke hart oor my slegte lewe gesterf het, ook gesien. Sy het my smekend na haar toe gewink. Maar tussen ons was ’n onoorbrugbare kloof. Ek het by die ingang na die Poel van Vuur gekom. Groot golwe vuur en swael het oormekaar gerol, soos die branders van die see in ’n hewige storm. Uit die diepte van die vlammende branders het mense telkens verskyn om net weer onder die golwe te verdwyn. Hulle vloeke en jammerlike geroep na water was hartverskeurend. “Dit is jou lot vir ewig,” neem my gids van my afskeid. Die grond sak onder my voete weg en ek is in die poel van vuur. ’n Onbeskryflike dors oorweldig my.
In daardie oomblik van diep verlorendheid, maak ek my oë in die tronkhospitaal oop. En was ek bly! Maar één ding is seker. Daarheen wil ek nooit, nooit weer gaan nie. Die eerste ding wat ek gedoen het, na ek in die hospitaal bygekom het, was om my hart vir die Here te gee, in Hom te glo en my te bekeer. As ek nou sterf sal ek na die stad van lig toe gaan om vir ewig saam met die verlostes fees te vier.

Ons weet nie of die hel regtig so is nie. Lennox was nie regtig dood nie, so hy was nie regtig by daardie skrikwekkende, aaklige plek nie. Dit lyk eerder of die beeld wat sy vroom moeder se onderrig in sy gemoed weggebêre het, in daardie omstandighede na vore gekom het. Jesus het geweet hoe dit regtig is om verlore te gaan. In sy gelykenis van die rykman en Lasarus skets Hy dit baie kortliks. Iets daarvan kom in Lennox se vertelling na vore: “Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe…(sover kén ons die proses! Dan die onbekende deel)…Toe hy in die doderyk in pyn ver keer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader…stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, ek ly verskriklik in hierdie vuur…” (Luk. 16: 22-26). Maar Lennox se droom of visioen het die verdoemenis vir hom so ’n werklikheid gemaak, dat hy na Jesus toe gevlug het. Vir ons moet dit ook werklik word.

“Here, vandag vlug ek na U toe vir redding.