Lees Openbaring 21:1 – 8
“Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde” (6).
Dr. Charles S. Robinson het vir ’n vooraanstaande sakeman gevra: “Wat beteken Christus vir u?” Die man het geantwoord: “Ek dink nooit oor Hom nie.” Toe voeg hy met ’n skewe glimlaggie by: “Christus Jesus maak nie deel uit van my leefwêreld nie.” “As ek mag vra. In watter jaar is u gebore?” vra dr. Robinson vervolgens. Dadelik verstrek die man die jaartal. “Voor Christus of na Christus?” vra dr. Robinson, ook met ’n skewe glimlaggie. Verleë kyk die man na dr. Robinson. Hy verstaan die vraag. Gedurig gebruik hy die jaartal wat begin met Christus se geboorte en hy het gedink Jesus Christus maak nie deel uit van sy leefwêreld nie.
Dit is vir niemand moontlik om van Christus Jesus, die Here, af weg te kom nie, want Hy omspan die heelal en die ewigheid. Gelukkig elkeen wat betyds by Hom as Verlosser uitkom: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). “Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Dit is jammerlik ongelukkig om eers as dit te laat is, by Hom, as Regter, uit te kom: “Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit…Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak… Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het… As daar bevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi” (Op.20:11-15). Het die Here Jesus Christus al as Verlosser in u leefwêreld plek gekry? Moenie uitstel nie.”Kom! En elkeen…wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Op.22:17).
“Here, vandag maak ek my lewe vir U oop.”