Di 16 Des: Buig om te Drink

SKRIFDEEL: Jesaja 55: 1 – 6

“Kom, almal wat dors is, kom na die water toe…”(1)

’n Dorstige handelsreisiger het ’n Ameri­kaanse hotel­por­taal binnegestap. In die hoek was ’n meganiese fon­tein. Bokant die fontein het ’n uitnodiging gehang: “Buig en drink”. Toe hy dit bereik steek hy sy hand uit om die fon­tein oop te draai, maar daar was geen hand­vatsel nie. Toe soek hy ’n drukknoppie of ska­ke­laar. Geen. Hy lees weer die uitnodiging bokant die fontein. Met ’n verleë glimlaggie buig hy versigtig vorentoe. Nog ’n bietjie; nog ’n bietjie – en regtig, heerlike koue water begin vloei. Die fontein word deur ’n elektroniese “oog” be­heer. Sodra die buigende liggaam by die “oog” verby beweeg, laat die kraan die water vloei.

Die Bybel gebruik oorvloedig die beeld van water om geestelike lewe te beskryf. “…wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh.6:35). “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!”(Joh.7:37). “…die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei…” (Openb.7:17). En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openb.22:17). Om by die water wat die Here Jesus gee, te kom, hoef ’n mens nie inspan­nend op te klim boontoe nie. Fonteinwater word bereik wanneer ’n mens laag buig, kniel. ’n Mens hoef nie eers iets lofwaar­digs of inspannends te doen, om die ewige lewe wat die Heilige Gees in die hart gee te ontvang nie. ’n Mens kom in gebed na die Here Jesus toe; vra, neem, glo. Hy gee vir ons die lewende water in die hart.

“Here, vandag buig ek en in geloof en neem ek en drink ek die water wat U gee.”