Do 11 Des: Hoe kom ek Daar?

SKRIFDEEL: Handeling 4:8-13

“…dié Jesus, vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het …Hy bring die ver­lossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (10,12)

Baie jare gelede, ek was nog ’n jong man, bel die gemeente se koster my een oggend. Aan sy stem hoor ek hy is ontsteld. Hy wil nie oor die te­le­foon sy probleem vir my vertel nie. Ek skrik. So gou ek kon besoek ek hom. Hy en die tannie wag my op die voorstoep in. Ons het net in die sit­kamer gaan sit toe hy my sy moeilikheid vertel. “Ek het laas nag gedroom,” begin hy. “Ek droom ek klim met ’n touleer op hemel toe, maar nes ek halfpad kom, val ek af tot onder. Dan probeer ek weer op­klim, maar halfpad val ek af. Elke keer gebeur dit. Hoekom kan ek nie in die hemel kom nie? Ek en my ou vrou leef tog ’n skoon lewe. Ons leef vir die kerk. Ons probeer die Here dien. Hoekom val ek af? Hoe kom ek in die hemel?”

Ek het vir ’n paar oomblikke verslae gesit. Sover ek weet lei die oom regtig ’n onbesproke lewe. Dit is net ’n droom weet ek, maar ek weet ook: ’n mens droom die dinge wat mens in die hart kwel. Ek vra hom die enigste vraag waaraan ek kon dink. “Oom Hansie, het Oom al ooit die Here Jesus in Oom se hart as Verlosser aangeneem?” Vir ’n rukkie sit hy stil net na my en kyk. Ek word bang en dink ek het die oom met so ’n direkte vraag verneder. Maar hy het my vraag verstaan. Hy antwoord: “Ek glo en ek stem in met wat die Bybel van die Here Jesus Christus sê. Maar ek het Hom nog nooit definitief gevra om my te red nie.” “Is Oom gewillig en begerig om dit vanoggend te doen?” Dadelik knik hy met sy kop. Ek kniel saam met die twee ou mense by die rusbank. In ’n eenvoudige gebed dank oom Hansie eers sy Verlosser, die Here Jesus Christus, dat Hy vir hom aan die kruis gesterf het. En toe vra hy die Here om hom te red en sy sonde te vergewe. Na hom bid die tannie min of meer die­selfde woorde. ’n Tyd daarna sê oom Hansie een­dag vir my: “Ek kan nie verstaan dat die Here sy hand so­veel jare na my toe uitgehou het en ek dit nou eers geneem het nie.”

Geloofsekerheid kan in iemand se hart ontbreek omdat daar nooit ’n besliste geloofshandeling was om Chris­tus as Verlosser aan te neem nie. Die gebrek aan geloofsekerheid beteken nie noodwendig ’n ge­brek aan saligheid of vervreemding van God nie, maar dit kán ook verontrustende simptoom van ’n ver­lore toestand wees. Liewer moet mens seker maak en ’n definitiewe onderhandeling met die Here Jesus aan­gaan om Hom as Verlosser aan te neem. Dan ge­tuig mens daarvan teenoor ’n betroubare vriend wat dit sal verstaan of ’n mens se dominee. Die mon­delinge getuienis oor die geloofsposisie van persoon­like redding is vir ’n mens se eie geloof­sekerheid no­dig. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood op­ge­wek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word verygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. (Rom.10:9,10,13).

Die Engelse woorde van die 2de vers van die be­kende Hallelujalied: “O blye dag, waarop my siel deur Jesus bloed gereinig is” klink so: “It’s done, the great transaction’s done, I am the Lord’s and He is mine.”

“Here, vandag glo ek U is vir my sonde gekruisig.”