Di 9 Des: 'n Saak van die Hart

Lees Johannes 12: 1 – 8

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardus­­olie…op Jesus se voete uitge­giet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie” (3)

Michael LeBoeuf skryf in sy boek, How to Win Customers and Keep Them for Life, van die be­roemde New Yorkse diamanthandelaar, Harry Win­ston, wat ge­hoor het van ’n ryk Hollandse diamantversame­laar wat na ’n bepaalde diamant soek om by sy versameling te voeg. Winston het die Hollander gebel en vir hom gesê hy dink hy het dié bepaalde diamant. Die versamelaar het New York toe gevlieg en Winston se ver­koops­man het vir hom die diamant gewys en breed­voe­rig al die fyn tegniese eienskappe beskryf. Die ver­samelaar het belangstellend geluister, maar weg­­gedraai met die woorde: “Dit is ’n pragtige steen, maar nie presies waarna ek soek nie.”

Winston het op ’n afstand na hulle gestaan en luister. Toe die versamelaar wegdraai, keer Win­ston hom en vra: “Sal jy omgee as ek die diamant net weer vir jou wys?” Die versamelaar was da­de­­lik bereid. Winston het dieselfde diamant weer vir hom gewys, maar in plaas van op die tegniese aspekte te konstreer, het Winston spontaan oor sy eie bewondering vir die diamant en die treffen­de ele­men­te van die prag van die diamant ge­praat. Die versamelaar het dadelik van opinie ver­ander en die diamant gekoop. Terwyl hulle wag dat die diamant verpak word, vra die versamelaar vir Winston: “Hoe­kom het ek ingewillig om die dia­mant by jou te koop, terwyl ek na jou verkoops­man se praatjie dit nie wou koop nie?” “My verkoopsman ken di­a­­mante beter as ek,” antwoord Winston, “maar ek het diamante lief. Dit is vir my meer as net ’n verkoopsartikel. Dit is ’n wonderbare deel van die skepping.” LeBoeuf sluit af: “People are more persuaded by die depths of your beliefs and emotions than any amount of logic or knowledge you possess.”

Liefde en bewondering vir die Here Jesus, spreek duideliker tot ’n ander se hart, as die kennis wat ons van die Bybel of die geloofsleer het. Maria se daad uit liefde en bewondering vir die Hei­land het die huis met ’n soet geur gevul. Leer Hóm ken en laat die Heilige Gees die hart met liefde vir Hóm vul, en ons getuienis sal mense na Hom toe trek.

“Here, vandag bring ek my liefde en bewondering vir U na u voete toe.”