“Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword… daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy `n barmhartige en getroue Hoëprieser voor God kon wees…(14-17)
Baie jare gelede sit `n ou man met gehawende en stofbedekte klere aan, op die klipmuurtjie, wat om die Withuis, die woning van pres. Lincoln, loop. Sy gesig is nat van die trane. Hy maak `n droewige figuur van ellende uit. `n Seun wat `n metaalband voor hom uitrol, kom by die ou man tot stilstand. Hy wil weet wat fout is met die bejammeringswaardige ou man. Die ou man kom regop. Hy vertel sy storie. Sy seun veg in die sg. American Army of the Potomac. Hy is van drostery aangekla en tot die dood veroordeel. Die pa wou met president Lincoln praat, sy seun se omstandighede verduidelik en genade vra, maar die wagte wil hom nie deurlaat na die president toe nie. “Ek sal jou na hom toe neem,” bied die seun aan. “Jy?” sê-vra die ou man verbaas. “Ja. Hy is my pa en hy laat my enige tyd by hom inkom.” So kry die ou man toegang tot die president deur dié se seun. Na hy sy eie seun se saak bepleit het, kry hy sy seun se vryspraak van sy doodsvonnis. Die verhaal eindig: “Thus, it is that through Jesus Christ, the Son, we have access to God the Father.”
Dit is die vooraand van Kersfees. Dit is wat Kersfees vir ons beteken. Die Seun van God het soos ons mens geword om ons plek te kon inneem en later aan die kruis ons straf vir ons sondes te kon dra. Hierdie groot liefdesguns aan ons, moet deel wees van ons Kersvreugde. Kom ons dink daaraan en ons loof dit! “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom” (Joh.14:6).
“Here, vandag is U my oop deur na God toe.”