Een Tree

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2).

’n Jong predikant ry een aand, na ’n diens in ’n minder gegoede deel van die dorp, in ’n stamp­­vol bus, huis toe. Met sy Bybel onder sy arm vasge­knyp, staan hy saam met ander in die gang. Van die passasiers, duidelik ’n ru­we jongklomp, begin met hom gekskeer. Een roep, bo die ander geraas van die bus, uit na hom toe: “Haai, Domi­nee, hoe ver is dit he­mel toe?” Sy maats lag luid­rugtig. Die ander men­se in die bus is dood­stil. Al­mal wag vir sy ant­woord. Hy draai na sy trot­seer­der toe. Hy ant­woord met ’n vrien­de­li­ke, maar dui­delike stem: “Net een tree, Me­neer. Sal jy my toe­laat om jou die weg te wys?” Daar eindig die geskrewe storie ongelukkig.

Ek wens ons kon weet of die jong boelie be­gerig was om te luister, en hoe die jong pre­dikant van so ’n oom­blik gebruikgemaak het om die evan­gelie te ver­kondig. Want op hier­die aller­be­langrikste vraag is die ant­woord kort en duidelik. Die tronkbewaar­der van Filippi het dit vir Paulus en Silas gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle ant­woord was: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (Hand.16:30,31). Die een tree hemel toe gaan by ’n oop deur in. Die Here Jesus het daardie deur, wat ’n soliede, ge­slote yster­deur was, weens ons son­de­­skuld, oop­gesluit, toe Hy ons sonde­skuld aan die kruis uitge­delg en vernietig het. Ons kan die tree oor die drumpel van geloof, die ewige lewe in, dadelik neem. Sê vir Jesus: “Jesus, Here, red my nou, asseblief.” Met Jesus aan die kruis in gedagte, gló Hy kan dit doen. Met die lewende Jesus nou by jou, glo Hy hoor en doen dit. Sê vir Hom dankie. Die moordenaar aan die kruis het dit gedoen. Daar waar hy aan sy kruis langs Jesus hang, sê hy vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus ant­woord hom: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

“Here, vandag gaan ek in u hemelse koninkryk in, deur die oop deur van u dood aan die kruis..”

Die Enigste Redding

Lees Hand.4:1-22

“Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (2).

Enkele jare gelede raak twee manne in hul boot, bo­kant die Niagrawaterval, in die moei­lik­heid. Hulle roei wanhopig, maar die stroom voer hulle vinnig na die don­derende val toe. Op die oewer word koorsagtig po­gings aangewend om die twee manne te red. Net betyds word ‘n tou na hulle toe uitgegooi. Dit beland binne-in die boot.  Die een man gryp die tou da­delik gretig vas. Juis op daardie oomblik dryf ’n hout­stomp teen die boot vas. Tot almal se ontsteltenis gryp die ander man paniekerig die drywende stomp en klou kramp­­agtig daaraan vas. Die mense skree vir hom om die stomp te los en ook die tou te gryp, maar hy klou net stywer aan die stomp vas. Die man wat die tou gegryp het, is veilig aan wal ge­bring. Die ander man is met stomp en al by die waterval af.

Die mens bevind hom vir sy sieleheil in net so ‘n groot gevaar. Gelukkig is daar redding, hoe sterk die afwaartse stroom ookal mag vloei en hoe hard die waterval ook al dreun. Die veilige tou van Christus se verlossing word uitgegooi en ’n mens kan dit gryp en gered word.

Een oggend leun ’n predikant, by die aanvang van sy preek, oor die kansel en sé met groot erns: “Ek het ’n vraag om te vra. Ek kan dit nie beantwoord nie. Geen engel in die hemel kan dit beantwoord nie. Geen duiwel uit die hel kan dit beantwoord nie. Kan ú dit beant­woord? Dit is die vraag: Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid verontagsaam?” Dit word doodstil in die kerk. Niemand kon dit beantwoord nie. Niemand kon dit teëspreek nie. Dit is ’n vraag wat die Woord van God self in Hebreërs 2:3 vra: “…hoe sal ons dan ontkom as ons so `n groot saligheid verontagsaam het?” Vir ons almal is daar net één betroubare red­dings­wete: weens die son­des wat ek gedoen het, is ek verlore en ek kan my aak­lige lot, die verdoemenis, op geen manier ontkom, as om te vertrou in die Here Jesus Christus, die Seun van God, wat aan die kruis op Golgota die straf vir al my son­des gedra het en my só met God versoen het nie. Ek moet na Hom toe vlug en vir Hom sê: “Ek is sondig. Ek is verlore. Red my, asseblief.” Dít is die red­dingstou wat ons gryp, waarmee ons in die vei­ligheid van die ewige lewe, wat God ons uit genade gee, gebring word. Deur die Evan­gelie Woord, open die Heilige Gees ons oë en hart om hierdie redding aan te neem.

So het Jesus Self Nikodemus se vraag oor die ingang in God se konikryk beantwoord: “Net soos Moses des­tyds die koperslang in die woestyn op ’n paal gehang het, so sal Ek, die Redder, ook op ’n paal gelig word, sodat elkeen wat op My vertrou die ewige lewe kan hê. Want God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar hy sal die ewige lewe hê’” (v.10-14).

“Here, vandag gryp ek die reddingstou van Jesus se kruisdood”

Die kunstenaar by die orrel

Lees Galasiërs 5:13-26

“Laat julle lewe… deur die Gees van God beheers word, dan sal julle NIE swig voor begeertes van julle sondige natuur nie” (16).

In die Senior Teacher word vertel, die bekende komponis, Mendelsohn het, eenkeer ’n katedraal besoek, omdat hy gehoor het, een van Europa se kosbaarste orrels word in daardie katedraal gebruik. Hy het ’n rukkie gestaan en luister hoe die bejaarde orrelis op die orrel speel en hom voorberei vir die komende Sondag se kerk-diens. Toe die ou man by die einde van die stuk kom, wat hy besig was om te speel, gaan Mendelsohn nader en vra of hy op die orrel mag speel. “Ek ken jou nie,” antwoord die orrelis, “en ons laat nie enigeen op hier­die orrel speel nie. Uiteindelik oorreed Mendelsohn die ou man en hy laat Mendelsohn by die orrel plaasneem. Mendelsohn begin speel en die kerk word gevul met musiek soos die orrelis nog nooit in sy lewe gehoor het nie. Diep geraak lê hy sy hand op Mendelsohn se skouer. “Wie is jy,” vra hy met ’n gebroke stem. “Mendelsohn,” antwoord die komponis. Verslae sê die ou orrelis: “Om te dink ek was so dwaas om te weier dat Mendelsohn op my orrel speel!” Die persoon en die hande wat die orrel bespeel het, het bepaal watter musiek uit daardie groot orrelpype kon vloei.

’n Mens het ’n wonderlike lewe, met wonderlike eien-skappe, want God het die mens oorsponklik na sy eie beeld geskape. Die soort lewe wat uit die mens vloei, sy dade, sy woorde, het bedorwe geraak, want Satan het baas van ons lewensorrel se klawers geword. Solank Satan die orrelis in ons lewe is, sal daar net wanklanke uit ons lewe te voorskyn kom. Met ’n mens se bekering word Jesus die Een wat ons lewe beheer. Soos die ou kerkorrelis kan ons ook weerstand bied en Hom verhin-der om sy musiek uit ons lewens te laat voortkom. Die Here Jesus het in sy Persoon teruggegaan hemel toe, maar na Hy verheerlik is, het God die Heilige Gees op sy kerk uitgestort en deur die Heilige Gees woon Christus in sy dissipels. As ons al die klawers van ons lewe oorgee aan die Heilige Gees dan bring hy die musiek uit ons le-wens te voorskyn wat God verheerlik, vir ons medemens aangenaam is en in ons hart vrede laat woon. “Ek bid dat God deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Chris-tus deur die geloof in julle sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees”(Ef.3:16).

“Here, vandag gee ek my hele lewe aan U oor.”

Geloof teenoor gevoel

Lees Johannes 6:34-40

“…en Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie” (37).

Die bekende prediker, D. L. Moody, preek een aand in Phi­la­­delphia. Amper heelvoor, aan die linker­kant, sit ’n jong vrou, haar oë op hom gerig,  asof sy elke woord indrink. Onmid­dellik na die diens gaan hy reguit na haar toe. “Is jy ’n Chris­tin?” vra hy haar. “Nee, maar ek wens ek was een. Ek soek al drie jaar na die Jesus.” “Daar moet iewers ’n misver­stand wees,” ant­woord Moody haar. Sy kyk vreemd na hom. “Glo jy my nie?” “Ongetwyfeld het jy gedink jy soek na Jesus,” sê Moody, “maar dit kan nie drie jaar lank neem, voor ’n ernstige soeker en ’n gewillige Ver­losser, me­kaar vind nie.” “Wat moet ek dan doen?” vra sy. “Ek dink dit is waar die fout lê: jy probeer iets doen. Jy moet net in Jesus glo.” “O, ek is siek en sat vir daardie woord!” roep sy uit. “Dis altyd net: ‘Glo, glo, glo!’ Ek weet nie wat dit is nie.” Moody antwoord: “Kom ons verander die woord ‘glo’ na ‘vertrou’. As jy Hom vertrou, daad­werklik, sal Hy jou red.” Sy huiwer ’n oomblik, sê toe met nadruk: “Ek vertrou Jesus, maar,” voeg sy in dieselfde asem by, “ek voel niks beter nie.” “A, nou ver­staan ek,” reageer Moody dadelik. “Vir drie jaar soek jy na ’n nuwe en ander gevoel, in plaas van net na Jesus te soek. Jy vertrou Jesus nou om jou te red en Hy het belowe om jou te red as jy hom vertrou, so, aanvaar dit dat Hy jou nou gered hét en moenie vir ’n gevoel soek nie. Vertrou net,  sê vir die Here dankie dat Hy jou gered het, soos Hy beloof het, en getuig daarvan.”

Ons wil die vrede en blydskap ervaar, wat ons verwag, met geloof in Christus moet saam­gaan. Vrede en blydskap is nie die bewys van redding nie, maar ’n vrug, ’n gevolg van redding. Sommige mense se bekering is ’n onmid­dellike, dra­­matiese ervaring. Vir ander is dit ’n bedaarde, asof dit nie ge­beur het nie, ervaring. Dit is soos die huwelik. Die bruidegom en die bruid is nog onge­troud, al staan hulle saam voor die kansel. Dan antwoord die bruidegom “ja” op die huweliksgelofte. Nou is die bruid nog nie met hom getroud nie. Dan antwoord sy  “ja”, en dan is sy  met hom getroud. Vir sommige bruide bring dit ’n opwelling van emo­­sie te weeg, vir ander is dit asof dit nie eers gebeur het nie. Maar vra vir die bruid on­middelik, na sy “ja” ge­antwoord het, en sy sal sê sy is nou getroud. Nie om­dat sy getroud voel nie, maar omdat sy die hu­we­liks­for­mulier  glo en weet, sy het die bruide­gom as haar man aange­neem. Later volg aller­lei gevoe­lens. Dit is hoe die geloofstap van vertroue in Christus as Verlosser ook ver­loop. ’n Mens wéét jy het Jesus aan­ge­neem as Verlosser en Hy het belowe, Hy néém jou aan en Hy vergewe jou jou sondes. Uit Die Boodskap haal ek Romeine 10:8-10 aan: “Ek vertel vir mense dat God hulle vryspreek. Ek roep hulle ook op om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om te erken dat Jesus die Here van jou is en met alles in jou te glo dat God Hom uit die dood laat opstaan het. Geloof is om God op sy woord te glo. Dit is om vir Hom te sê: ‘Ek glo in Jesus. Hy is die Here van my lewe.’ God sal vir die res sorg: Hy sal jou vryspreek van al jou sondes, jou red. Die Bybel sê mos: ‘Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.’”

“Here, vandag weet ek U het my gered.”

Kopie van die oorspronklike

Lees Johannes 14:15-25

“… die Vader…sal vir julle…stuur… die Gees van die waarheid….Hy sal  by julle bly en in julle wees…”(16,17)

In die St. Peter’s Church in Cologne hang twee eender­­­se skilderye van Petrus se kruisiging. Ons weet uit oor­le­wering Petrus het gevra om on­der­stebo gekruisig te word, omdat hy homself onwaardig geag het om soos Christus, in ’n regop posisie, aan die kruis te hang.. Die bestaan van die tweede skildery, wat ’n kopie van die eerste een is, word deur Herbert Lockyer in The Heritage of Saints soos volg verklaar: In die begin van die 19de eeu het Napoleon, die stad Cologne, in sy seevierende optog ge­plunder. In die proses van sy plundertog het Napoleon die oor­spronk­like skildery van Petrus se kruisiging saam­ge­neem. Nadat die kerk weer herstel is, het dieselfde kun­stenaar, wat die eerste Peterus­skildery geskilder het, weer ’n skildery, so na as moontlik aan die eerste een, ge­skilder. Die oorspronklike skildery is later gevind en aan die kerk terugbesorg en langs die kopie van die skil­de­ry opgehang. Kunskenners sê daar is so min verskil tussen die twee skilderye dat die oorspronklike nie van die kopie onderskei kan word nie. Herbert Lockyer maak uit hierdie insident ’n geestelike toepassing. “Jesus is in hea­ven. But the Holy Spirit is here, and He is die master Artist and in die absence of the Original, He is painting the likeness of Jesus upon the unworthy canvas of your life and mine.”

God se bedoeling met sy kinders op aarde, die ge­lo­wi­ges, is om die Here Jesus Christus se beelddraers te wees: “…dié wat Hom lief het, dié wat volgens sy besluit ge­roep is…het Hy ook bestem om gelykvorming te wees aan die beeld van sy Seun… (Rom.8:28,29). Uit onsself het ons nie krag om Jesus se voorbeeld te volg en deur ons le­we, Hom aan die wêreld, bekend te maak nie. “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle” (Rom.8:8,9). Deur die Heilige Gees woon Christus in ons en afhangende van ons ver­hou­ding en gemeenskap met Hom, kleur die Heilige Gees, soos ’n kunsskilder, ons lewe in met Christus se le­we en dit verskyn in ons gedrag, ons houding, ons woorde, ons gesindhede.

“Here, vandag beleef ek my Christenlewe deur ú krag in my.”

Die regte verbinding

Lees: Handelinge 16: 22 – 34

“Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin  (31)

In die ou gees­te­li­ke tyd­skrif, Het Zoeklicht, word vertel van ’n By­bel­kolporteur wat eendag in 1855, in Toulon, ’n Nu­we Testament aan ’n soldaat gee wat dit aan­neem, met die opmerking, “Ek kan my pyp daar­mee aansteek.” Jare daarna is die kol­porteur weer in Toulon. Hy besoek ’n gesin wat in rou oor hulle seun wat dood is. Sy ma sê vir die kol­por­teur: “Ons seun het in groot vrede gesterf. Hy het al sy troos in hierdie boekie gevind.” Sy gee vir die kol­porteur ’n verslete Nuwe Testament. In die bin­ne om­slag staan geskrywe: ”Ontvang in Toulon – verag – ver­ont­agsaam – ge­lees – geglo – Jesus Christus as my Saligmaker ge­vind.” Dit was daardie soldaat se Nuwe Testament. Hy het be­tyds die regte ewigheids­verbinding gemaak.

In ’n Spoorwegbode word vertel van twee mans wat op ’n spoorwegstasie in ’n rytuig klim, ter­wyl die ran­geer­dery nog aan die gang is. ’n Spoorwegman kom vra hulle om in die volgende rytuig te klim. Er­gerlik wil die een man weet wat dan verkeerd is met die rytuig waarin hulle reeds sit. Die spoor­weg­man glimlag en antwoord: “Daar is niks met die rytuig verkeerd nie. Dis net  aan niks gekoppel wat julle iewers sal bring nie.” Min van ons het nié ’n geloofsposisie of gods­diens nie. Die belangrike vraag is egter: “Sal dit my in die ewige saligheid bring?” Dit is nie die geloofs­bin­ding wat ’n mens in die hemel bring nie, maar ’n mens se persoonlike verbinding met Jesus Chris­tus wat ’n mens red. Sonder die persoonlike ver­bin­ding met die Here Jesus Christus – ek het Hom as my persoonlike Verlosser aangeneem – kan ’n mens godsdienstig wees en baie Bybelkennis hê en goeie dinge doen, maar ’n mens is nie vir die ewig­heid gereed nie. Dit is dan wel ’n rytuig wat op die spoor staan, maar dit is nie aan die lo­ko­mo­tief ge­kop­pel nie. Die reddende verbinding met Chris­tus Je­sus is die glo en weet: Hy het my sondes aan die kruis gedra, my aangeneem en aan my die ewige lewe gegee, want ek het sy roeping geant­woord en Hom as my Ver­losser aangeneem. “Maar aan almal wat Hom aan­ge­neem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

 “Here, vandag neem ek U aan as my Verlosser.”

Belangrike Briewe

Lees     Johannes 3: 1 – 21

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (16).

Elizabeth Barrett se ouers het haar onterf en alle ban­de met haar gebreek, toe sy met Robert Brown­ing getroud is. Van haar kant het sy haar ver­hou­ding met haar ouers probeer red. Elke week het sy vir hulle geskryf, vir hulle vertel hoe lief en hoe nodig sy hulle het, hoe sy na hulle verlang, hoe dit met haar in haar huwelik gaan, watter mooi voor­uit­sigte sy en haar man het.

Vir tien jaar het sy nooit van hulle gehoor nie. Toe op ‘n dag kry sy deur die pos ‘n groot karton­doos van hulle af. Uitgelate van blydskap maak sy die groot doos – ‘n versoeningsgeskenk het sy gedink – opgewonde oop. In die doos was al die briewe wat sy in die tien jaar aan hulle ge­skryf het. Nie één was oopgemaak nie! Hierdie lief­des­brie­we van Elizabeth Barrett het ‘n onskat­bare deel van die Engelse klassieke-literatuur geword. Maar die doel waarvoor sy dit geskryf het en die pragti­ge einde wat die storie kon gehad het, is nooit bereik nie, enkel omdat die ouers nie een van die briewe gelees het nie.

Ons verhouding met ons Hemelse Vader is ook gebreek – van ons kant af. In sy groot liefde het ons Vader ook aan ons geskryf. Die Bybel is God se brief aan ons, hoe lief Hy ons het, hoe Hy vir ons die pad terug na Hom toe voorberei het, hoe ons na Hom toe kan kom. ‘n Hele boek, hoof­stuk­ke op hoofstukke, bladsye en bladsye, verse op verse. Hy verlang na ons versoening met Hom. Hy skryf oor sy liefde vir ons, wat  Hy vir ons wil doen, hoe dit tussen ons en Hom moet wees. “Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoe­diging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees” (Rom15:4).

Die groot oorsaak van geestelike armoede, swakheid, duisternis, is die ongeopende Bybels. As ons die Bybel met soekende hart lees, verlig die Heilige Gees ons hart en ons leer deur die Here Jesus Christus, God ken as ons Vader wat ons lief­het en vir ons sorg.

”Here, vandag open ek u Woord met dankbaarheid en verlange om U met my te hoor praat.”

'n Dag se belangrikste sake

Lees Josua 24: 14 – 18

“…kies dan vandag wie julle wil dien…wat my en my familie betref, ons sal die Here dien” (15)

As dinge vir ons te veel word en ‘n dag se 24 ure is te min om alles te doen wat nodig is, moet ons die storie van die mayonnaise-bottel en die twee koppies koffie onthou, sê dr. Dick Krüger vir ons. Dan vertel hy van die professor wat voor sy fi­losofieklas staan en ‘n groot mayonnaise-bottel in sy hande hou. Woorde­loos begin hy die bottel vol golfballetjies pak.  Hy vra vir die klas of hulle saam­stem die bot­tel is nou vol. Ja, hulle stem saam, die bottel is vol.. Hy neem ‘n dosie vol al­basters en begin dít in die bottel gooi. Hy skud die bottel effens, die al­bas­­­ters rol in al die holtes, tussen die veel groter golfballetjies, in. “Is die bottel nou vol?” wil die pro­fesor voorts weet. “Ja,” stem die studente saam, “nóú is hy vol.” Die professor tel ‘n doos vol sand op en gooi die sand tot bo in die bottel. Weer vra hy of die bottel nóú vol is. Die studente lag en stem een­parig saam, nou ís die bottel régtig vol. Van onder die tafel bring die pro­fessor twee koppies koffie te voor­skyn. Hy gooi altwee koppies koffie in die bottel, en dit sypel in die sand en tussen al die hol­tes in.  Die studente skaterlag. “Goed,” sê die pro­fes­sor, toe die gelag bedaar, “ek wil hê julle moet elk­een die bottel as ‘n beeld van sy lewe beskou. Die golfballe is die belangrike dinge in die lewe: jou ge­sin, jou gesondheid, jou vriende, jou voorlief­des. As alle ander dinge vergaan en hierdie dinge bly, sal jou lewe stééds sinvol wees. Die albasters is  die ander dinge wat ook saakmaak: jou beroep, jou huis, jou motor. Die sand is al die ander dinge, klein goedjies wat die lewe kan vol maak. As jy die sand eerste ingegooi het, sou daar nie plek ge­wees het vir die albasters, en nog minder vir die golfballe, nie. Gee aandag aan die dinge wat reg­tig belangrik is vir jou geluk. Bring tyd deur by jou kin­ders, by jou ouers, besoek jou grootouers, maak tyd vir roetine, mediese ondersoeke. Daar sal altyd nog tyd wees om die huis aankant te maak, die vullis te ver­wyder, tuinwerk te doen, koerant te lees, TV te kyk. Sorg vir die golfballe, die dinge wat reg­tig saakmaak. Besluit wat voorrang in jou lewe moet kry.  Die ander dinge is die sand. Dit sal wel insypel.” Een van die studente steek sy hand op. “En die koffie?” Die professor glimlag. “Ek is bly jy vra. Die koffie wys dat hoe besig ‘n mens se dag ook mag wees, daar is altyd nog tyd vir ‘n koppie koffie saam met ‘n vriend.”

Dit is ‘n waardevolle storie, dink ek. Ons ervaar dat ‘n mens se dag so vol kan raak met algemene dinge, dat belangrike dinge uit­bly, as ons nie versigtig beplan nie. Ek is net spyt die professor het nie eerste ‘n tennisbal ingesit en toe golf­bal­le, albasters en sand nie. En dan vir die student gesê, belangrikste bo alle ander dinge, is ons om­gang met God. As ons nie doelbewus tyd maak vir ons gebeds­le­we en die lees van God se woord nie, kry ons nie daarvoor tyd nie. Hoeveel keer sê iemand nie: “Ek het vandag reg­tig nie tyd gekry om te bid of my Bybel te lees nie.” Dit is onuitspreeklik voordelig vir ‘n mens om die dag op die knieë en by die oop Bybel te begin. “Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae” (Ps.90:14 Ou Vert.).

“Here, vandag wil ek U eerste stel in my program.”

Van naby ken

Lees: Romeine 8: 12 – 17

“Die Gees…laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak… (15).

Steve Flaig, van Grand Rapids, Michigan, het gewéét hy is ‘n aangenome kind. Op sy 18de verjaarsdag besluit hy om uit te vind, wie sy regte ma is, vertel Rev. A. Sar­gent die storie wat Neil Verwey vir my (in Engels!) per inter­net uit Japan stuur. Sy aangenome ouers, Pat en Lois Flaig, het hom in sy voorneme ge­steun. Pat Flaig het by D.A.Blodgett for Children, die agent­skap wat Steve se aanneming hanteer het, vir agtergrond inligting aange­klop. ‘n Paar maande later kry hy Steve se eie ma se naam, Christine Tallady. Sy was enkel en baie jonk toe Steve gebore is. Sy het die aannemingsrekord laat oop bly, met die hoop haar seun sal eendag na haar soek.

Na Steve sy eie ma se naam gekry het, het hy op die in­ter­net na haar woonadres begin soek. Sonder suk­ses. Na vier jaar ontdek hy hy spel haar naam verkeerd as Talladay, terwyl sy Tallady is. Toe hy Tallady in die re­kenaar intik, kry hy haar adres. Minder as ‘n myl van Lo­wes Store, waar hy werk, af.  Opgewonde vertel hy dit vir sy baas by Lowes Store. Verbaas sê sy baas: “Be­doel jy Christine Tallady, wat hier werk?” Steve was stomgeslaan. Steve sê hieroor: “For the next seve­ral weeks I would walk by her, look at her from a distance, not knowing how to approach her. Should I just walk up to her and say, ‘Hi, I’m Steve, your son.’ What if she rejected me?” En toe, op Vry­dag 14 Desember 2007, ontmoet Steve en Chris­ti­ne, wat mekaar al so lank op ‘n afstand ken, me­kaar as moeder en kind! “It was a tearful and joyful re­union,” sê Steve later hieroor.

Rev. A. Sar­gent bring hieroor, hierdie boodskap na ons harte toe: “Toe jy en ek gebore is, het ons op grond van die skepping aan God behoort. Ons deel aan die sondeval het ons van God geskei. ‘Julle sondes het julle afgesny van God. Hy het weg­­gedraai van julle. (Jes.59:2)‘ Maar God het Hom­self en sy liefde, vir ons, deur sy Woord aan ons bekend gemaak. Hy verlang ons moet Hom soek. ”God se doel (met ons is) om Hom te soek. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie” (Hand.18:27). Hy het sy Seun aan die kruis laat sterf vir ons son­des sodat ons met Hom herenig kan word.

As ons God net op ‘n afstand ken, soos Steve en sy ma, kan ons deur die Here Jesus Christus as ‘n eie kind naby aan God kom. Vertrou in Jesus as u Verlosser. Sê vir Hom, hardop of in u hart: “Here Jesus, red my, asseblief.” En word ‘n naby kind van God deur sy Gees in u hart.

“Here, vandag vertrou ek in U vir my redding.”

Plekke Omruil

Lees 2 Korintiërs 5: 11 – 21

“Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (21)

In ’n dokter se wagkamer sit ’n lang ry mense hul beurt en afwag. Elke keer wanneer iemand ingeroep word, skuif die ry een sitplek op. ’n Man het ingekom, die situasies opge­som en ewe getroos op die laaste oop stoel gaan sit. Mettertyd het hy opgeskuif totdat hy die vol­gende een sou wees wat na die dokter toe kan in­gaan. Skielik gaan die deur oop en ’n vrou, wat sigbaar siek is, kom binne. Sy kreun toe sy die lang ry wagtende mense, wat alweer bygekom het, sien. “Ag, Meneer,” sê sy vir die man wat nou heelvoor sit. “Mag ek asseblief eer­ste ingaan. Ek voel so bitterlik sleg!” Hy huiwer nie ’n oom­blik nie. Hartlik sê hy: “Verseker.” Juis op daardie oomblik gaan die deur oop en ’n ver­pleeg­ster roep: “Vol­gende, asseblief!” Dank­baar gaan die vrou in. Die man wil weer gaan sit, maar die man wat tweede gesit het, het reeds die eerste stoel in­ge­neem. Hy wil protesteer, maar een uit die ry roep: “Dis reg so. Jy het jou eerste plek vir haar gegee en nou moet jy haar laaste plek vat.” ’n Goedige, “Hoor! Hoor!” klink op. Die man glimlag en gaan ewe getroos weer op die laaste oop stoel sit. Hy sê: “Julle is reg, vriende. Ek het my goeie sitplek vir haar gegee en nou moet ek haar swak sit­plek in­neem. Dit is presies wat die Here Jesus vir ons gedoen het. Hy het sy goeie posisie as Seun van God en erfgenaam van die hemel vir ons ge­gee, en Hy het ons swak plek as verlore son­daars in­ge­­neem en in ons plek die straf vir mis­daad, die kruis­­dood, gesterf, so­dat ons deur geloof in Hom kin­ders van God kon word en plek in die hemel kon kry.” ’n Eerbiedige stilte het in die wag­kamer geheers. Hulle het die boodskap verstaan.

Die man was self ’n Christen, maar hy het ook in sy hart ’n gereedheid gehad om ’n geleentheid om vir die He­re te getuig, te benut. Uit ons eie het ons nie so ’n gre­tigheid om Jesus se verlossing oral bekend te maak nie. Ons het behoefte aan so ‘n inwoning van die Heilige Gees in ons hart, dat ons hart sal brand om Jesus se Naam en sy Verlossing oral te verkondig.

“Here, vandag benut ek geleenthede om vir U te getuig.”

Wie respek verdien

Lees Johannes 12:20-29

“As iemand My dien, sal die Vader hom eer” (26)

Die Skotse sendeling, David Livingstone, is in 1873 op 60-jarige ouderdom dood. Hy kon sy lewe in gerief by sy tuiste in Skotland geslyt het, maar hy het die sendingveld gekies. Oor hierdie keuse het hy gesê: “Mense praat van die opoffering wat ek gemaak het, om die grootste deel van my lewe op die Afrikasendingveld deur te bring. Dit is net ’n klein terugbetaling vir die groot opoffering wat my Verlosser gemaak het, om sy hemeltuiste en sy Vader se troon prys te gee om vir my ’n ewige saligheid te kom bewerk!” Na David Livingstone se dood het ondersteuners van sy sendingwerk in Afrika, dadelik aan die werk gespring om sy lig­gaam terug te bring Engeland toe. Hy is in 1874 in die Westminster Abdy in Londen begrawe.

Die dag met sy begrafnis het duisende mense die strate waar­langs die stoet sou beweeg vol­ge­staan om ’n laaste eer aan hom te bewys. Tussen die skare het ’n boemelaar gestaan: vuil, klere flenters, hare en baard lank en deurmekaar. Hy het droewig gestaan en huil. Iemand vra hom: “Wat makeer, ouman? Hoekom huil jy so vreeslik?” Snikkend antwoord die ou man: “Ek en Davie het saam grootgeword. Ons het saam skoolgegaan. Ons was in dieselfde klas. Ons het saam op ’n skoolbank gesit. Saam gewerk. En toe het hy sy pad gekies. En kyk wat kry hy vandag. Almal ken hom. Die hele volk eer hom. Ek het ook my pad gekies, en wat kry ek vandag? Ek is onbekend, verwaarloos, eerloos. Ek het niks om na uit te sien nie, as net ’n dronkaardsgraf.”

As David Livingstone met sy eertydse vriend kon praat, sou hy seker vir hom ’n wonderlike uit­red­ding kon voorhou. Die uitredding van die evan­ge­lie van die Here Jesus Christus, vir iemand wat die pad van die verlore seun geloop het. Dit is hier­die wonderlike boodskap van redding wat Living­stone sen­ding­veld toe laat gaan het. Hy sou vir hom kon sê: “God het jóu ook lief. Hy het sy enigste Seun ook vir jóu sonde laat sterwe. Vlug met jou sonde en verlore lewe na Hom toe. Hy het ge­sê: ‘Ek sal hom wat na My toe kom nooit verwerp nie…” (Joh.6:37). Kom, begin ’n nuwe lewe saam met die Here Jesus.

 “Here, vandag bring ek myself na U toe.”

Soos die oorspronklike

Lees: 2 Korintiërs 3: 12 – 18

“Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word… Dit doen die Here wat die Gees is” (18).

In die Japan Times vertel R. Morihara van ‘n mnr. Imura, wat vir 19 jaar, aan ‘n replika van die 400-jaar oue Himejikasteel, in die agterplaas van sy huis, in Ise, Japan, gewerk het. Hy was 14 jaar oud toe hy in ‘n seunstydskrif ‘n foto van dié kas­teel gesien het. Van die begin af het die kasteel hom geboei. Reeds as seun besluit hy om daardie kasteel na te maak. Toe hy later getroud is, moe­dig sy vrou hom aan om sy seunsdroom uit­ te voer. Hy koop ‘n stukkie grond met ‘n pragtige uit­sig op die berge. Op die ouderdom van 60 jaar tree mnr. Imura af en begin al sy tyd aan die bou van sy kas­teel wy. Met groot sorg maak hy se­ker sy kasteel kom ooreen met die oorspronklike ses­­ver­dieping kasteel. Veral die geboë lyne van die dak, die wit mure, die ingewikkelde saamge­stel­de torinkie, die steenmure en grag is vir hom be­­lang­rik. In sy tuin voltooi die 69-jarige, voor­ma­lige ver­se­keringsinspekteur, in April 2007 sy 1:23-­skaal­mo­del van die Himejikasteel. ‘n Japanese amp­te­naar het gesê, as ‘n mens na ‘n foto van mnr. Imu­ra se kasteel kyk, sal mens dink dit is die regte kasteel. Sedert die voltooiing van mnr. Imura se kas­teel, word hy oorval deur besoekers wat na sy kasteel kom kyk. Die Himejiregering het hom as toeriste-ambassadeur van Japan benoem.

Nou skryf Neil Verwey, wat al meer as 50 jaar sen­de­ling in Japan is en wat die storie vir my ge­stuur het: “Mnr Imura is ‘n goeie verteenwoordiger van sy land, maar as jy in Christus glo, is jy sy am­bas­sadeur in jou omgewing, om mense te oor­reed om vrede te maak met God. ‘Ons tree dan op as ge­sante om Christus wil, asof God deur ons ver­maan: Ons bid julle om Christus wil, laat julle met God versoen’” (2 Kor. 5:20).

Die geheim van mnr. Imura se sukses met sy skaalmo­del, was die sorg wat hy aan die dag gelê het, om sy kas­teel, net soos die regte kasteel, te laat lyk. Sy kasteel was ‘n 1:23-replika, d.w.s. 23-keer kleiner as die die regte kasteel. Maar dit het soos die regte een gelyk.

Ons, Jesus se volgelinge, kan nie Jesus se grootte ver­teenwoordig nie. Hy is God, Seun van God, maar Hy het op aarde in sy gewone omgang met mense en sy om­gang met sy Vader, God in die hemel, vir ons ‘n lewensvoorbeeld na­ge­laat. Die Heilige Gees, wat na Je­sus se he­melvaart gekom het en deur wedergeboorte, Jesus se lewe in die mense wat tot redding kom, in­plant, verander ons mettertyd na Jesus se beeld: sy gedrag, verdraagsaamheid, toewy­ding, liefde. Die mate waarin Jesus se eie Persoon en beeld in ons lewe posvat, word ons God se ambassadeurs in ons omgewing en trek ons mense aan na Jesus toe.

Die Bybel is die spieël waarin ons kyk om die Here Jesus Christus se beeld te sien. Dan verander die Heilige Gees ons stadigaan, deur die krag en wil van God, na dié beeld, wat Hy vir ons in sy Woord wys. Ons moet dikwels en intensief na Jesus se beeld in die Skrif kyk!

“Here, vandag kyk ek na u beeld in u Woord en open my hart om deur U na dié beeld herskep te word

Saai en oes

Lees 2 Korintiërs 9:6-15

“Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes…want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk…(6-8).

Twee studente, wat aan die Leland Stanford Univer­siteit studeer het, moes werk vir hulle stu­die­gelde. Hulle fondse het gedaal en hulle moes ’n plan beraam vir groter inkomste. Hulle kry die gedagte om ’n konsert aan te bied waarin die Pool­se pianis, Ignace Paderewski, ’n klavieruitvoering sou gee. Die beroemde kunstenaar se bestuurder het ’n waarborg van $2 000 gevra. Die twee studen­te het voortgegaan en die konsert aangebied. Die aand se opbrengs was $1 600. Hulle het hulle saak aan Pa­derewski gestel, die volle $1 600 aan hom oorhandig en vir hom ’n skuldbewys van $400 ge­gee. “Nee, man­ne,” het Paderewski geantwoord, “dit sal nie werk nie.” Hy het die skuldbewys opgeskeur en die $1600 aan hulle teruggegee. “Trek julle onkoste af en gee vir julle elkeen 10% van die bedrag en laat ek die balans kry.” Die jare het  verby gerol en die Tweede Wêreldoorlog het uitge­breek. Paderewski het hard gewerk om sy hong­e­r, ster­wende Poolse landgenote te help voed. Pade­rew­ski het planne beraam om iemand in die buiteland om hulp te nader. Voor hy sy plan kon uitvoer, begin duisende ton voedsel instroom om die hongeres te voed. Na al die reëlings getref is om die voedsel reg uit te deel, het Paderewski Parys toe gegaan om Herbert Hoover, die sken­ker, persoonlik te gaan bedank vir sy wonderlike hulp. “Dis alles reg, mnr. Paderewski” het Hoover ge­ant­woord. “Ek het besef die nood is groot en ek is gelukkig in ’n posisie om te help. Buitendien, u sal dit seker nie onthou nie, maar u het eenkeer toe ek en ’n studente­maat in die moeilikheid was, ons uit ons ellende gehelp.”

Wat ons vir ’n ander doen, lyk soms vir ons gering, maar God, wat ’n goeie gewer liefhet, sal vir ons sorg as ons die dag in nood verkeer   “Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, propvol…” (Lukas 6:37-42). Dit is God wat ons help, maar Hy gebruik ’n menslike in­strument om dit te doen.

“Here, vandag wil ek iemand wat nood het, help.”

Om sterk te wees

Lees Filippense 4:1-9

“Die Here is naby . Moet oor niks besorg wees nie…” (5,6).

Wilson Pitner het te perd deur ’n woud gery.  Hy sien ’n wingerdstok, met ranke so dik soos sy arm. Hy kyk op. Die wingerd is ’n goeie tien meter of meer hoog, vas­ge­rank aan die tak van ’n eike­boom. By die voet van die hoë wingerd was ander wingerdstokke, klein en plat met los rankies na alle kante toe. “Ja,” sê hy vir homself, “ek sien wat die verskil maak. Die hoë wingerd het al vroeg die eikeboom se stam vasgegryp. So is dit met my ook. Ek is geneig om teen die grond te wees: moe­deloos en mistroostig. Maar as ek God vasgryp en aan Hom vas­hou, en my ranke om die dik takke van sy beloftes in sy Woord slaan, rig ek my op en ek voel getroos en sterk.”

Baie keer kry ons Dawid ook op so ’n swak plek, maar dan word hy weer deur die Here se be­lof­tes in die Here sterk gemaak. “Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my. My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry… maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand…Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit… aan die Here kom die lof toe, want Hy het sy trou op wonderbaarlike wyse aan my betoon…U het ge­luis­ter na my gesmeek toe ek na U om hulp ge­roep het…Wees sterk en hou goeie moed, julle al­mal wat julle vertroue in die Here stel” (Ps.31:10-25). Hierdie deur van hulp staan ook gedurig vir óns oop. Die Here Jesus se verdienste aan die kruis het vir ons die weg na die genadetroon toe oopge­maak. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons…En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is…(Rom.8:26,27)

“Here, vandag voel ek swak. Ek gryp U vas om my te help.”

Die gees van kersfees

Lees Matteus 10: 26 – 31

“Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie” (29,30). 

Die eerste week van De­sem­ber 1950 het die lid­ma­te van ‘n klein ge­meen­te in Noord-Ierland, tot ak­sie oorgegaan om hulle kerkie, wat in ‘n verwaarloosde toe­stand was, vir Kerfees skoon te maak en op te knap. Twee dae voor Kersfees tref ‘n storm die dorpie en maak hulle handewerk feitlik tot niet. In die muur, voor in die kerk, word die nuwe pleis­tering wat ‘n diep kraak in die muur moes bedek, feitlik wegge­stroop. Die volgende dag, die dag voor Kersfees, bring die gemeente­le­de hul be­sems en borsels en pro­beer om die kerkie so goed moontlik reg te kry vir die Oukers­aanddiens, dáárdie aand. Juis daar­die oggend, oppad kerk toe, om self hand by te sit met die  regmakery, stap die predi­kant by ‘n veiling ver­­by. Vir ‘n klein bedraggie koop hy ‘n pragtige ge­­bor­duurde, vyf me­ter lange, tafel­kleed. Dit sou die kraak in die muur mooi bedek en was ook ‘n ver­­sier­ing vir die muur.

By die kerk gekom, word sy aandag getrek deur ‘n vreemde, eensame vrou wat met hang skou­­­ers voor die kerk staan. Hy nooi haar saam met hom in die kerk in en laat haar solank op ‘n bank sit, terwyl hy, die kleed wat hy gekoop het, voor die kraak probeer drapeer. Toe hy die kleed oop­vou en laat afhang, kom die vrou met ‘n kreet reg­op. “Dit is myne!” roep sy uit. “Kyk in die hoek staan my drie voorletters. Dit was ‘n geskenk van my man.” Sy vertel vir die pre­di­kant sy en haar man het in Viënna gewoon. Met die oorlog het hy in ‘n kon­sen­trasiekamp beland. Sy het Engeland toe ge­vlug. Haar man is in die kamp dood, het sy ver­neem. Sy is juis nou op pad terug na haar tuis­dorp toe. Sy het in die predikant se dorpie, by `n welgestelde gesin, vir `n werk as goewernante vir die kinders, aansoek kom doen. Sy het die pos nie gekry nie. Sy wou die tafelkleed nie  terug neem nie. Dit dien `n goeie doel om die kraak in die kerkmuur te bedek.

Na die Oukersaand-diens kom ‘n man met die predikant praat. Hy wys na die ta­fel­kleed en sê aangedaan: “Ek het daar­die tafel­kleed in Viënna vir my vrou gegee. In die oor­log is ons van mekaar geskei. Ek het later verneem sy is in ‘n kon­sen­tra­siekamp dood. Ek woon nou hier. Daardie kleed  ontroer my ten diepste.” Die predikant luister het met groeiende opgewondenheid na die man. Hy vertel hom hoe die vrou die oggend gereageer het toe sy die tafel­kleed sien. Hulle wil nou dadelik met haar in aanraking kom, maar die predikant besef hy het nie haar adres geneem nie. Hy kon ge­luk­kig die welgestelde gesin se naam onthou en húlle kon die vrou se adres dadelik ver­strek. Die predikant en die man is sommer nog dieselfde nag na die dorp toe waar die vrou woon. Dit was ‘n vreugdevolle herontmoeting en vir hulle twee die beste Kersfees ooit. Die man en vrou was albei Chris­tene. Hulle het toegewyde lidmate van daardie ge­meente geword. Die kleed het lank teen die muur bly hang, as versiering, maar ook as getuienis van God se goed­heid en getrouheid aan sy kinders in tye van nood. Die kerkie het die naam gekry: “Die Tafelkleedkerk.”

God wat ons liefhet weet wie ons is en waar ons ons bevind en hoe ons lewensomstandighede loop. Ons om­standighede word soms soos ‘n spinnekopnes opge­knoop. God wat uit liefde vir ons sy Seun gestuur het om ons lewens reg te maak, en wat selfs weet hoeveel hare op ons hoof is, kan ons lewens regbuig as dit aan Hom oorgegee word. Kersfees herinner ons aan God se liefde.

“Here, vandag hoop ek met blydskap op U hulp.”

In 'n Oosterse stal

Lees     Johannes 1: 1 – 14.

“In die begin was die Woord…en die Woord was God…En die Woord het vlees geword…(1,14)

Na die kommuniste se oorname van Sjina in 1949, is die Engelse sendeling in Tibet, Geoffrey T. Bull, deur die kommuniste gevange geneem en met hulle saam­ge­voer. In sy boek, When Iron Gates Yield, beskryf Bull sy veel­eisende tog oor die be­vro­re berge, as ‘n gevan­gene onder hulle wre­de bewa­king. Een aand gaan hulle ’n klein berg­dorpie bin­­ne. Hy kry ’n sol­der­kamer om in te slaap. Die kamer was verrassend skoon en ’n kon­ka met smeulende kole versprei ’n aan­gename hit­te in die kamer. Hy wou hom net aan die weelde van die skoon, warm ka­mer oorgee, toe die wag op hom skreeu om die perde in die stal te gaan voer. Hy klou­­ter af stal toe. Daar was dit pikdon­ker en baie koud. Die mis en strooi op die vloer kraak onder sy skoene. Die per­de staan met hang­­ende sterte en maan­hare steun­end aan pale vasgemaak.

Hy skryf: “Koud, moeg, alleen en siek, begin ek vir myself jammer voel. In die donker daal dit skielik in my denke: Dit is Kersaand. (Nou sy eie woorde). I stood suddenly still in that Ori­en­tal manger. To think that Jesus came all the way from hea­ven to some wretched eastern stable, and what is more, to think that He came for me.” Die indruk wat die koue, nat, stinkende stal op hom gemaak het, na die ge­ringe weelde van sy ver­warmde solderka­mer­tjie, laat hom vra, of ons die vernedering en on­ge­rief en selfs af­stootlikheid van ’n Oosterse stal en vuil krip, waarheen Chris­tus van sy hemeltroon af gekom het, in ge­dag­te, hou as ons óns Kersfees vier?

Ons vreugde met Kersfees moenie gedemp word nie, want die engel se boodskap aan die herders in die Bet­­­lehemsveld bly waar: “…ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap … Vandag is daar vir jul­le…die Verlosser gebore, Christus die Here! En…julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê” (Luk.2:10-12).

“Here, vandag loof ek U vir Kersfees.”

Dink aan ander

Lees 2 Korintiërs 6:1-11 Die Lewende Bybel

“Ons gee niemand enige aanstoot nie…in elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God..deur die betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde…” 3,6.

’n Groep koloniste uit New Zealand het per ge­leent­heid per skip Engeland toe gereis om familie en vriende te besoek. By die laaste hawe, voordat hulle hul bestemming sou bereik, het hulle almal vir hul mense telegramme gestuur oor hoe laat hulle die volgende dag sou aankom. Hulle boot vaar voor­spoe­dig met die Kanaal op. Teen middag sak digte mis oor hulle toe. Die kaptein gooi anker. Uur na uur lê die skip daar. Dr. W. F. Boreham was een van die passasiers. Gewoond daaraan dat sy onge­duld in ’n situasie botoon voer, soek hy die kaptein op en sê vir hom: “Kaptein, dit is darem ‘n uiters tergende situasie. Ons het ons mense laat weet hoe laat ons aankom; Dit gaan darem vir hulle baie ongerieflik wees om soveel ure by die dokke op ons te wag.” Die kaptein antwoord: “Dr Boreham, u bevind u op ‘n 10 000 ton lynboot. U wil hê ek moet in die mis vaar en die klein bootjies soos bruin papier voor my opfrommel. Nee, ons het ander om aan te dink!”

Soms het ons in ’n situasie ’n meerdere gesag en ons kán óns wil en óns sin laat geld tot skade of ongerief van ander. In so geval verloën die Chris­ten homself en dink aan die ander wat ook betrokke is. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil.2:3,4).

 “Here, ek wil vandag ander se belange bo myne stel.”

Eers jaag sy - Nou vlug sy

Lees Romeine 6: 1 – 14

“Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus” (11).

`n Jong meisie het by haar plaaslike kerk aansoek gedoen om lidmaat van die kerk te word. Die kerkraad moes haar toets, om vas te stel of sy voldoen aan die geloofsoor­tuiging wat hulle van lidmate ver­wag. Die ouderling wat haar on­dervra, begin met die belangrike ba­siese vraag: “Het Chris­tus `n verskil in jou lewe gemaak?” Sy ant­woord positief; dit is sekerlik so. Die volgende vraag is `n moeiliker een: “Doen jy nog sonde?” Die jong­mei­sie erken dat sy wel nog sonde doen. Nou vra die ouderling: “As jy sonde gedoen het, voor Christus in jou lewe gekom het, en jy doen steeds son­des na Hy in jou lewe gekom het, watter verandering het Hy dan in jou lewe gemaak.” Sy oordink die vraag ’n rukkie, dan antwoord sy: “Me­neer ek dink dit is so: voor Christus in my lewe ge­kom het, het ek agter sondes aangejaag. Dit was vir my lekker. Na Christus in my lewe ingekom het, vlug ek vir die sondes. Soms haal hulle my nog in, maar ek is skaam en hartseer as dit gebeur.”

Dit is die bemoediging wat God se Woord  ons gee: “Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan die­selfe ge­meen­skap en reinig die bloed van Je­sus, sy Seun, ons van elke son­de. As ons be­weer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons­self en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en reg­verdig, Hy vergewe ons ons sondes en rei­nig ons van alle ongeregtig­heid…as een van ons son­dig – ons het Jesus Christus, die regver­dige, as ons voorspraak by die Va­der. Hy is ’n versoening vir ons sondes…” (1 Joh.1:7 – 2:2).

“Here, vandag bely ek my sondes aan U.”

Anja se bybel

Lees Psalm 1:1-6

“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind…”(1,2).

In ’n Oosblokland was Bybels skaars en feitlik on­moont­lik om te bekom. In ’n jong meisie, Anja, se hart het die saad van die evangelie, deur die Heilige Gees se wer­k­ing, selfs in ’n land soos dié waarin sy gewoon het, ’n ont­waking van geloof in Christus gebring. Meer as enige iets anders het sy verlang om ’n volledige Bybel te be­sit. ’n Reproduksie van ’n Bybel kon ’n gevangestraf van tot tien jaar ten gevolg hê. Gelowiges het egter so verlang na die woord van God dat hulle die lang en moeilike, en selfs ge­vaarlike, taak onderneem het om die Bybel deel vir deel met die hand oor te skryf. So het Anja ook te werk gegaan om haar Bybel te bekom. Waar sy ’n deeltjie van die woord van God kon kry, het sy dit oorgeskryf. Soms was sy ge­lukkig om ‘n paar blaaie van ’n Bybel in die hand te kry. Dit het sy in haar groeiende Bybel geplak. Anja het lank aan haar Bybel gewerk. Met uitsondering van ’n enkele skrif­deel, was haar Bybel volledig. Daardie klein deeltjie van die woord van God, het Anja se vurigste en onophoudelike gebed geword. Haar gebed is beantwoord. Op ’n dag kry sy by ’n ander gelowige ’n getikte kopié van die ont­bre­ken­de Skrifdeel. Vir Anja was dit ’n vreugdevolle oomblik toe sy die ontbrekende Skrifdeeltjie in sy plek plaas en sy ’n volledige Bybel in haar hande hou. Dit was nie ’n mooi Bybel nie. Sommige blaaie was getik, an­der handgeskrewe, ’n paar gedruk. Die blaaie was van verskillende groottes. Sommige oud en versle­te, ander nuut. Maar vir Anja was dit die kosbare, volledige Bybel.

’n Eie Bybel is vir ’n mens kosbaar. Dit dra die merke van ons eie geestelike lewe en ons omgang met God. Wanneer ons ons Bybel lees, word ons gedagtes met God se gedagte verenig. Dit hef ons op, maak ons wys, gee ons moed. Uit ons Bybel raak die ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van krag bewus. Wees lief vir u Bybel. Maak dit u kosbaarste besitting. Lees dit.

“Here, vandag eien ek my Bybel se kosbare inhoud opnuut vir my toe

'n Goeie motief die rede

Lees Galasiërs 2: 17 – 21

“Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê”(20).

’n Indiaanse opperhoof het by ’n sendeling die evan­gelie van Christus se liefde en redding ge­hoor. Hy het tot bekering gekom. Die lig wat in sy donker hart ingekom het, het hom met blyd­skap oor Jesus laat praat. Met hom het gebeur waar­van 1 Petrus 2:9 praat: “Julle (is) die volk…wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig”.

Een van sy vriende vra hom: “Hoekom praat jy so gedurig van die bleekgesigte se Jesus?” Hy het nie geantwoord nie, maar begin om droë bla­re en houtjies in ’n sirkel te pak. Daarna neem hy ’n rus­pe en sit dit in die middel van die sirkel neer. Steeds stilswyend steek hy sy sir­kel houtjies aan die brand. Hy en die vriend hou die ruspe dop. Toe die droë gras en houtjies goed vlamvat, begin die rus­pe vinnig rondkruip om uit­komplek te soek. Soos die vuur hoër brand, raak die ruspe benouder. Die hulpelose ruspe lig sy kop op so hoog as wat hy kan. Die op­per­hoof buig af, steek sy hand tus­sen die vlamme in, na die ruspe toe. Dadelik kruip die ruspe teen sy vinger op. Hy sit die ruspe sag­gies op die groen gras, weg van die vuur af, neer. “Dít het Jesus vir my gedoen,” sê die opperhoof sag. “Ek was in son­de verlore. Ek was vas. Jesus het afgebuig na my toe en my uit my ellende van sonde en verlorendheid gehaal. Hoe kan ek anders as om Hom lief te hê en altyd daarvan te praat?”

Hoe dieper ’n mens se sondebesef en gevoel van verlorendheid voor sy bekering was, hoe groter is die bewussyn van Christus se liefde vir hom. Sommige van ons ken ook daardie duistere put waar­uit God ons gered het. Ander van ons het matiger, maar nét sulke, werklike bekeringe gehad. Ons aanvoeling van Christus se redding is dan soms ook nie so heftig nie. Party van ons het aan moedersknie die Here gevind en opgegroei in ’n atmosfeer van Chris­­telike beskutting. Ons het nie ’n dramatiese be­kering gehad nie, en daarom is ons ge­loof­se­ker­heid ook soms nie helder nie. Nie die gevóél van geredheid nie, maar die wéte: Jesus Christus het vir my gesterf en ek het Hom as my Verlosser ver­trou en aangeneem, is die fondament van ons geloofsekerheid. Die Heilige Gees bevestig dit in ons hart: Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep:’Abba!’ Dit beteken, Vader. Hierdie Gees ge­tuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom.8:15,16). Luister met die be­lof­te van Christus se redding in die hart, na die Heilige Gees se innerlike versekering van u redding.

“Here, vandag luister na van u Gees in my hart  en ek weet ek ek vertrou in Jesus as my Saligmaker.”

'n Intiem Binnekring

SKRIFDEEL:  Johannes 14 : 15 – 31

“Nog net `n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe” (19)

In Moody Monthly vertel Dr. William Ward Ayer, van `n Sweedse ou dame wat haar pre­dikant oor die kole haal, omdat hy in sy preek be­­weer het, Jesus is `n Jood en sy taal was Ara­mees. Hy is totaal ver­keerd, sê sy vir hom. Je­sus was `n Sweed en Hy het Sweeds ge­praat. Die predikant antwoord geduldig: “My liewe suster, jy sal `n probleem hê om dit te bewys.” “Glad nie,” antwoord sy, “hier het ek die be­wys daar­voor.” Sy haal haar Sweedse Bybel uit en wys hom al Jesus se woorde was in Sweeds.” Hieroor skryf dr. Ayer: “How glad I am that she thought Jesus was a mem­ber of her race, and that I think of Him as a member of my race!”

Ons het omgang met Jesus in ons eie taal. Hoe bevoorreg is ons om sy woorde in Afri­kaans te hê (in ons Bybel) en om in ons gebede met Hom Afri­kaans te praat! En so voel elk­een oor Jesus in sy of haar eie taal. Soos Hy as God, mens geword het, het hy ook na ons eie omstandig­hede toe ingekom. Deur sy Heilige Gees se werk­ing in ons eie hart, maak Jesus Homself deel van ons eie, persoonlike omstan­dighede.

 “Here, vandag geniet ek U eie nabyheid.”

'n Visserman

Lees     Markus 1: 16 – 20

“”Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak’ (17).

Paul Johnson skryf, hy het twee jong broers leer ken. Hul­le was uitermate lief vir vis­vang. Hy het ‘n naweek langs ‘n rivier saam met hulle deurgebring en baie van vis­vang geleer. Meesal vang hulle van die wal af met ‘n erdwurm aan die hoek en ‘n dobbertjie aan die lyn. Die oudste van die twee broers lees elke moont­like tydskrif oor visvang. Hy praat graag met ander hengelaars. Vir elkeen het hy een vraag: “Byt die vis? Het jy iets gevang.” As die ant­woord “ja” is, wil hy dadelik pre­sies weet watter aas hy ge­bruik het. Hy het geleer ‘n vis­ser­man moet die regte ge­reedskap hê, weet waar vis is, geduld hê, weet wat­ter tye die beste vir visvang is, weet hoe om die vis, ver­al as dit ‘n grote is, in te katrol. Hy het self egter een tegniek ge­sien, skryf Johnson,  wat absoluut noodsaak­lik is om ‘n vis te vang en waarsonder ‘n mens maar kan ver­géét om ooit ‘n vis te vang. En dit is: Die visserman moet sy lyn, met hoek en aas aan, in die water gooi!

Christene, die dissipels van die Here Jesus Chris­­­tus, is vissermanne vir Hom. Hulle roeping is om ander vir Hom te wen. Op geen ander wy­se kom die evangelie by iemand se hart uit, as dat iémand wat reeds aan die Here behoort, dit nie by die per­soon bring nie. Ons kan nie iemand vir die Here wen as ons nie eers probeer nie: miskien deur ‘n traktaatjie uit te gee, vir iemand te bid, vir iemand te vertel hoe die He­re onsself gered het, geld te gee dat ander die evan­gelie kan versprei. Daar is groot loon in die ewig­heid vir elkeen wat ‘n ander vir die Here wen, of gehelp het dat iemand gered word. “…en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre (Dan.12:3).” Jesus self het gesê: “…kyk na die lande; hul­le is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe” (Joh.4:35,36). “…ek (het) ‘n groot me­nigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie…en het voor die troon en voor die Lam gestaan. ”  (Op.7:9).

Sal dit leë hande wees

en ‘n siel oor skuld bevrees

As ek voor Hom

 by die groot witroon moet staan?

Moet my hart vol skaamte wees,

met my naam daar uigelees

En my werk geen eer vir sy geliefde Naam?

As geen siel van my kan sê:

“Ek wil jou as vriend hier hê,

Want deur jou het ek die Heiland leer bemin.”

 “Here, vandag bring ek u evangelie by iemand.”

'n Plan wat werk

Lees 1 Petrus 5: 8 – 11

“Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die dui­wel loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë”

In die internetrubriek, Pastor Bill Team Prayer, word die storie vertel van die jong de­moon, wat sy vakleer­ling­­skap by Satan loop. Hy moet sy eerste opdrag uitvoer. Die Chris­­tene se bruik­baarheid op ‘n bepaalde plek moet ge­stuit word en sy meester wil weet hoe hy te werk sal gaan. “Ek sal hulle oortuig daar is nie so iets soos sonde is nie.” Satan antwoord: “Dit sal nie werk nie, want die groot­ste deel van ons vyand se mense ken die werklik­heid van sonde te goed.” “Wel, dan” antwood die jong duiwel, “sal ek hulle oortuig dat daar nie so ‘n plek soos die hel is nie.” “’n Goeie plan,” sê Satan, “maar die werklikheid van ‘n eindoordeel is so in hul­le inge­dril, hulle sal nie val vir jou be­drog nie. Ons het ‘n strategie no­dig wat die bruik­baar­heid en die ywer van die Chris­tene kan neutraliseer. Die jong vak­leer­ling dink ‘n rukkie. ‘n Grynslag verskyn op sy bakkies. “Ek weet. Ek sal die Chris­te­ne klein en groot oor­tuig daar is geen haas nie. Ek sal in hul ore fluis­ter: ‘Jy is vandag ontsettend be­sig. Dit is nodig om vir die Here te ge­tuig en jy gaan dit natuurlik doen, maar dit kán nie vandág nie. Stel dit ‘n paar dae af tot dinge bietjie tot be­daring kom. Volgende week, miskien. Vir die mees­te sal ‘n makliker volgende week nie aan­breek nie.” “Pragtig!” antwoord sy meester met ‘n aaklige grinnik. “Ons sorg net dat hulle aan­mekaar besig bly en nie tyd kry om hulle goeie voorneme uit te voer nie.”

“Here, vandag stel ek my vir U beskikbaar.”

Vrugbare volharding

Lees Lukas 13: 6 – 9

“Maar die tuinier antwoord: ‘Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en be­mes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra” (8,9).

Baie jare gelede, in een van Engeland se groot stede, wou ‘n toegewyde jongmeisie graag in haar kerk Son­dag­skool hou. Daar was nie vir haar ’n klas nie, maar, het die predikant haar belowe, as sy genoeg kinders vir ’n klas kon bymekaar­maak, kon sy hulle onderwyseres wees. Die kerk het die gebruik gehad, om vir die kinders uit daar­die armoedige buurt, ‘n stel Sondagklere te gee, as hulle Sondagskool toe kom. Dit het hulle kerk toe gelok. Dit het die jongmeisie dus nie te lank ge­neem om vir haar ’n klas bymekaar te kry nie.

Een van die seuns wat sy so kerk toe gelok het, het van die begin af moeilikheid veroorsaak. Net na twee Sondae het hy weggebly. Sy het hom gaan soek. Sy Sondagklere was geskeur en vuil. Die predikant het egter belowe, om vir hom ’n nuwe stel klere te gee, as hy terugkom kerk toe. Hy het terug­gekom. Weer vir net twee Sondae. Die meisie het hom weer gaan soek. Die tweede stel klere was weer net so vuil en geskeur as die eerste. Sy het weer vir die leraar gaan vertel. Hy was ’n getroue herder. Na hy ’n rukkie stil gestaan en in sy hart die Here se leiding gevra het, sê hy vir haar: “Moenie moed opgee nie. As jy hom vind en terugbring, gee ons hom nog ’n kans. Die seun het terugge­kom en sy derde stel Sondagklere ontvang. Die volgen­de Son­dag was hy daar, en die volgende, en die volgende.

Vir ’n lang tyd het hy gereeld Sondagskool toe gekom, ernstig geluister en uiteindelik sy hart vir die Here oopgemaak en Christus as sy Verlosser aangeneem. Hy het lidmaat van die kerk geword. Hy het begin Sondagskool hou en met die kerk se hulp vir predikant gaan leer. Hy was die latere dr. Robert Morrison wat sendeling in Sjina geword het en die Bybel in Sjinees vertaal het.

Die vrug wat gevolg het op die predikant en die jongmeisie se volharding het oor en oor vergoed vir hulle arbeid. Hoe groot gaan hulle loon nie wees nie! Ons dien ’n lankmoedige Here. Hy gee óns oor en oor weer ’n geleentheid. Hy soek ook by ons hierdie volhardende lankmoedigheid, om ander vir Hom te wen.

“Here, vandag wil ek moedskep, met myself, en met ander wat ek graag vir U wil wen.”

Mooi maar leeg

Lees Mattheus 21:14-22

“Toe Hy ’n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry” (19)

In Illinois het rowers ’n skoenwinkel beroof, vertel die Christian Endeavour World. Die inbraak was so goed beplan, daar was geen sigbare teken van die mis­daad nie. Hulle het ’n verdere slim set uitgehaal om hulle misdaad so lank moontlik bedek te hou. Hulle het al die skoene uit die dose verwyder, en die leë skoendose in die rakke teruggepak, soos dit voor­heen gewees het. Toe die mense van die winkel die volgende dag by die winkel opdaag, het niemand onraad gemerk nie. Dit was eers toe die eerste kliënte opdaag en na die inhoud van die skoendose begin vra, dat die winkelmense die verstommende ontdekking moes maak, ten spyte van die vol rakke, was daar geen voorraad in die winkel nie.

Ons weet almal hoe bedrieglik voorkoms kan wees. Ons het ’n spreekwoord: Nie alles wat blink, is goud nie. ’n Mens se voorkoms as Chris­ten en die hart se inhoud van Christenskap, kan ook verskil. So het Jesus die Jode veroordeel. Hulle roem op hulle  gods­diens, maar hulle dade stem nie daar­mee ooreen nie: “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julle self sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie… (Luk.3:8). Iemand wat wéét: ‘my Christenlewe kom kort by my Christen-getuienis’, is gelukkig. Dit dui op die soekende en eerlike hart wat wil groei in die geestelike lewe. Selfs Paulus het getuig van gebreke in sy lewe, maar hy het ook getuig van sy verlange om in sy geestelike lewe te vorder: “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het…ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil.3:12-14).

Geen sambrele nie

SKRIFDEEL Lukas 18: 1 – 8

“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? … Ek sê vir julle dat Hy sal hulle help, en gou ook!” (7,8)

Tydens ‘n  langdurige droogte is besluit om ’n dag van gebed vir reën te hou. Baie mense het gekom en die gebede was ernstig en dringend. ’n Klein dogtertjie het met groot oë al­les aanskou en aangeluister. Sy fluis­ter vir haar pa: “Glo die mense regtig dit gaan reën?” “Natuurlik,” fluister haar pa gesteurd terug, “anders sou hulle mos nie kom bid het nie.” Na ’n paar oomblikke fluister sy weer: “Maar niemand het dan ’n sambreel saam­ge­bring nie.” Kinderlike ge­loof beteken om soos ’n kind te dink en te glo: God hoor en God gaan antwoord. ’n Mens moet vir die gebeds­antwoord voorbe­rei.

Vir gebedsverhoring is ’n skoon hart nodig. Geen be­wuste ongehoorsaamheid, geen be-wus­te sonde, geen bewuste twisgevoel teen iemand anders nie. “As ons gewete ons ver­oordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles…as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons…doen wat Hy goedvind” (1Joh.3:20,21).

Soos ouers soms tot die beswil van ’n kind vir die kind “nee” sê, sê God ook soms vir ons “nee”. Ons hart moet naby genoeg aan God wees om dit te hoor en te verstaan, soos Paulus ver­staan het, toe die Here vir hom die “doring in die vlees” nie wou wegneem nie. “Drie maal het ek die He­re ge­bid dat dit…weggeneem moet word. Sy an­t­woord was: ‘My genade is vir jou genoeg” (2 Kor.12:7).

Ons deel ook in die beloftes wat Jesus vir sy dis­sipels gegee het. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun ver­heerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14).

“Here, vandag kom ek om U aan te roep, U my nood te vertel en te weet U hoor en help my.”

Eerlik oor 'n mensself

Lees Lukas 18:9-14

“O God, wees my, sondaar, genadig” (13)

Jare gelede het die onderkoning van Napels, die Her­tog van Osuna, ’n besoek gebring aan Barcelona in Span­je. In die hawe het ’n galeiskip met gevangenes gelê. Die hertog het aan boord gegaan en die gevangenes een vir een ondervra oor die rede van sy veroordeling. Een na die ander het die veroordeeldes hulself verskoon. Elkeen het die hertog probeer oortuig dat dit nie sy skuld is dat hy ’n gevangene is nie. Een het gesê die regter is omgekoop om hom skuldig te bevind. ’n Ander een het vyande se valse getuienis die skuld gegee. Nog een het aangevoer sy vriende het hom verraai om sy eiendom in die hande te kry. Na vele van hierdie verhale van selfregverdiging, kom een van die gevangnes met ’n hangkop voor die hertog staan. Terwyl hy verleë grond toe kyk sê hy: “U hoogheid, ek verdien om hier te wees. Ek het geld nodig gehad en ek het gesteel om dit te kry. Ek is gevang en skuldig bevind en daarom is ek hier.” Uit die veld geslaan spreek die her­tog hom aan: “Nee, liewe land, kêrel! Jy is al te veel van ’n oneerlike mens om tussen hierdie onskuldige mense te bly.” En met daardie woorde is die man, wat oor homself eerlik was, sy vryheid gegee.

Dit is menslik om goed te voel teenoor iemand wat eer­lik is oor homself en die blaam vir sy foute te dra. Iemand wat sy foute goedpraat, word verag. ’n Mens doen homself ’n guns om eerlik te wees oor homself. Ook God bejeën ’n mens wat kwaad gedoen het, daaroor spyt is en dit bely, met genade. So ’n mens word deur God vrygespreek en van ’n skuldige gewete bevry. Dit was ’n gunstige aspek van Dawid se houding jeëns God, dat hy so gou was om sy verkeerdheid te besef en dit te bely. “Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus …U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God” (Ps.51:6, 19). By die herdenking van Jesus se geboorte kan ons opnuut moedskep om teenoor God oor onsself eerlik te wees. Ons word na die genade­troon geroep, want dáár het ons ook die Here Jesus as ons Hoëpriester en ons Voorspraak: “En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes …(1 Joh.2:1,2). Daarom kan Hy dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree” (Hebr.7:25).

“Here, ek kom vandag met vrymoedigheid om U my oortredinge te bely en in Jesus se Naam gelowig vergifnis te vra.”

Moenie hoop nie - Besluit

Lees Lukas 23: 38 – 43

“En Jesus antwoord hom: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’” (42,43).

‘n Man wag op die lughawe van Portland, Ore­gon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig af­ge­stap het, vertel Rev. David A. Sar­gent. Sy aan­dag word getrek deur ‘n ander man wat met twee ligte tasse in sy hande, tussen die an­der pas­­sasiers deur, aankom. ‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun ant­woord skamerig, “Ek ook, Pappa.” Die man kom reg­op en groet ‘n ander seun, mis­kien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.” ‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar kop­pie vol bevrediging teen sy skouer. Hy gee die dog­tertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoel­vol, “Ek het jou so lief!” Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Ver­leë sê hy “Wow! Hoe­lank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, bloesende vrou af te neem. “Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande weg van sy geliefdes af. Verleë prewel die sta­rende man, “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.” Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom di­rek in sy oë en met ‘n erns wat die toe­skou­er tot in sy hart tref, sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!”

Dit geld nie net vir die getroude lewe nie, maar vir al die ernstige sake in ons lewens. As daar ‘n oop weg is, moet dan nie net hoop nie. Dít bring mens nêrens nie. Besluit! Dit geld ook ons geeste­li­ke lewe. Iemand kan sê: Ek hoop my saak met God is reg. Ek hoop ek sal hemel toe gaan. Dis nie genoeg nie. Jesus Christus het die weg vir ons so wyd oopgemaak, dat ons kan besluit. “Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel… dit het alles nuut geword…Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor.5:17,20). Sélf beloof Jesus ons: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou en hy met My” (Opb.3:20). Laat die nuwe jaar `n jaar van verstan­dige, deur God geleide, besluite wees.

 “Here, vandag maak ek die deur van my hart vir U oop. Red my asseblief.”

Misgissing

Lees Amos 3: 1 – 8 OU VERTALING

“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?” (3)

John Ross vertel van die vrou wat van ’n vlieg­­tuig af­stap nadat dit geland het. Met haar dra­­sak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die ka­feteria, ’n pakkie lekker koe­kies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Sy wil ontspan voor sy die stadsge­woel aan­durf. Da­de­lik boei die hoof­be­rig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oor­kant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Geritsel van papier oor­kant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koe­rant, en so­waar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en dood­lui­ters vir hom een neem en dit begin eet. Sy ver­erg haar on­middellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die pa­pier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koe­kie. Sy kyk nog stip in die koe­rant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pak­kie koekies en opeet. Sy sien oor die koe­rant dat hy die laaste koe­kie neem, dit in die helfte breek, ’n hel­fte in sy mond steek en die ander helfte met ’n ef­fen­se glimlag na haar toe oorstoot. Sy gryp be­hoorlik die hal­we koe­kie en stop dit in haar mond. Hy from­mel die pak­­kie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rom­mel­houer verby, gooi die papier daar in en ver­dwyn tus­sen die mense. Sy is mag­te­loos kwaad. Sy tuur hom net a­gterna. Sy staan op, stamp haar stoel ag­­ter­uit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koe­rant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit. Háár pak­kie koekies lê nog onoopge­maak in haar dra­sak! Sy storm tussen die mense in om die man te soek, om ver­skoning te vra vir háár onbeskofd­heid, maar hy het tussen die mense ver­dwyn.

Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ont­ke­ten word deur toevallige insi­den­te wat verkeerd vertolk word. Die geheim is die atmosfeer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met ander hê? Is ek gewil­lig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, sus­pi­sieu­se ge­sind­heid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n misgis­sing. En, dalk is ék, soos die vrouself, die eintlike oorsaak van ’n geskil!

As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesind­he­de, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie ver­bit­te­ring soos ’n wortel uit­spruit (en) moeilikheid ver­oor­saak nie… (Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).

“Here, vandag let ek op hoe ek ander beoordeel.”

Hulle wil graag dankie sê

Lees Romeine 8: 31 – 39  “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red” (32)

Die Gospel Herald skryf dat ’n Skotse vissers­boot in die Noordsee deur ’n Nazibomwerper ge­kel­der is. Die beman­ning van tien kon in hul red­dingsbootjie wegkom. Veertig uur lank het hul­le om die beurt geroei met die hoop dat hulle deur iemand opgemerk sou word. Een vir een het hulle uitgeput geraak en opgehou roei. In die loop van die oggend van die derde dag sien hulle ’n vlieg­tuig. Gou identi­fiseer hulle die vliegtuig as ’n geal­li­eerde vliegtuig. Gaan die vliegtuig hulle op­merk? Die loods van die verkenningsvliegtuig se skerp oë merk hulle gelukkig in die onstuimige see op. Teen hierdie tyd was agt van die manne so uitge­put dat hulle op die bodem van die bootjie teen mekaar gelê het. Die ander twee het swakkies vir die loods gewaai. Die vlieg­tuig kom laag in en vlieg oor hulle. Wikkel sy vlerke. Hulle juig. Hulle is raakgesien! Die vliegtuig verdwyn in die deinse­rige lug. Die loods weet van twee mynveërs, vyftien myl weg van die toneel af. Met sy lig­te sein die vlieënier vir die skepe om hom te volg. Die vissermanne hoor weer die vliegtuig en sien toe die skepe wat nader kom. Die myn­veërs gee vir die vliegtuig die sein – GERED! Die vliegtuig wik­kel weer sy vlerke en vlieg weg. Die vliegtuig was skaars twee myl weg of een van die mynveërs gee ’n sein om hom terug te roep. Die vliegtuig keer in lae vlug terug. “Iets ver­keerd?” sein die vliegtuig. Die mynveër se ligte flikker die bood­­skap uit: “Hierdie manne wat ons opgelaai het, wil net graag sê: DANKIE!” Die Gospel Herald sluit sy storie af met die vraag: “Has this story found its answer with you? Have you ever thanked the Lord Jesus for what He has done? That He came at such great cost for you?”

Ons het Kersfees gevier. Ons het Jesus se geboorte herdenk. Hoe? God geloof? Enigie­mand wat nog nooit Jesus aange­spreek het met ’n hart­like “Dankie Sê” nie, het nog nooit besef, dat Jesus gekom het om hom/haar te red nie. Die groot, groot prys wat Jesus moes betaal om tot by ons dob­berende boot­jie te kom, het nog nooit in die hart op­ge­kom nie.

“Here, vandag dank ek U innig vir u liefde en offer vir my.”

Elkeen se goeie beurt

Lees Lukas 2 : 1 – 7

“Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neerglê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie” (7).

Eerw. Curtis Bradford van Charlestown, in die V.S.A. vertel in ’n artikel in Expe­riencing God Magazine van Desember 1955, hoe hy, as kind, op Oukers­aand in die bed gekruip het, en ge­maak het of hy slaap. Opgewonde het hy om 2 vm., toe hy seker  was sy ouers slaap, saggies opge­staan en  afge­gaan sitkamer toe waar die Kers­boom, met die ge­skenke, was. Op Kersoggend sou almal hulle ge­skenke kry en oopmaak. Daar was vir hom ’n prag­ti­ge drom, maar hy wou nie waag om selfs ’n ligte tik­kie op die drom te gee nie. Hy het ander goed gekry waarmee hy wel kon speel son­der om aan­dag te trek. Daar was ’n Cowboy-pak met ’n prag­tige rewolwer in ’n rewolwersak met gor­del en ’n groot pop, met bewegende lig­gaams­dele, wat soos ’n misdadiger, ‘n crook, aangetrek was. Opgewon­de het hy sy Kerskous leeg gemaak en die lekkers en vrugte geëet. Hy hoor ’n geluid – en daar staan sy pa wat met ’n streng gesig op hom afkyk. Vir die oomblik is Curtis verskrik, maar dan glimlag sy pa, tel hom op sy skoot en wys hom hoe alles werk. Nie lank nie of die slaap oorval hom. Hy voel hoe sy pa hom optel en terugdra kamer toe en hom sag in die bed inwoel. Die volgende oggend het die ge­sin ‘n heerlik Kersoggend, maar, sê Curtis: “I will never forget that Christmas Eve.”

Die jare het verby gegaan en een Kersaand is Curtis weer by sy pa. Maar dié aand lê die ou man in die bed, verlam na ’n motorongeluk en swak weens kanker. Hy het minder as 50kg. geweeg en hy het hewig pyn gely. Maar die ou man het daar­op aangedring om af te gaan sitka­mer toe om by te wees as die gesin hulle geskenke oopmaak. Vir ruim vyftien minute het die ou man deel gehad in die pret en toe word die pyn vir hom te erg. Hy vra Curtis om hom terug te neem kamer toe. Die, nou sterk en volwasse Curtis, tel die tengerige ou man tederlik op en dra hom kamer toe. Hieroor skryf Curtis: “As I made my way to his bedroom, I recalled the night many years before when he had carried me to my bedroom after our private Christmas Eve. Now it was my turn to carry him.” Trane het oor Curtis se wange geloop. Die ou man sien sy seun se trane en wys na ’n bandopnemer langs sy bed. Saam luister hulle twee eers na Stille Nag, Heilige Nag en toe na ’n Bybelvoorlesing: “In die huis van my Vader is daar baie woninge…(Joh.14). In sy hart dank Curtis God dat Hy hom gered het en sy vader gered het, en aan hulle daardie kosbare minute saam gegee het, en vir die baie kere toe God hulle altwee gedra het. Twee dae later is sy vader oorlede. Die herinneringe is vir Curtis eerder kosbaar as pyn­lik, en hy skryf: “Be­cause of Jesus, whose birth we celebrate on Christmas and who died to save those who believe in Him, I know I will see my father again. And what a family reunion that will be.”

By baie van ons se Kersfeesviering gaan daar dalk ook iemand ontbreek. En by baie Kersfeesvieringe gaan die rol van ouers en kinders ook omgeruil wees, omdat hulle groot geword het en die ouers oud geword het. Maar ons het almal rede tot die groot blydskap oor wat Christus vir ons gedoen het.

“Here, vanaand dank ek U vir u liefde aan ons.”

Dis regtig later as nooit

Lees Psalm 90

“Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom! (12)”Ou Vertaling.

‘n Seuntjie sit een Sondag, na ‘n vroeë mid­dag­maal, in die sitkamer en speel, terwyl sy ouers bietjie gaan dwarslê. Die staanhor­lo­sie begin twaalf-uur slaan. Uit gewoonte tel hy die slae. Soos dit maar van tyd tot tyd met ‘n slaanklok ge­beur, het iets met die slaanmeganisme verkeerd gegaan. Na die 12de slag, tot die seuntjie se stomme verbasing, hou die klok aan met slaan … 13 … 14 … 15. Hy storm slaapkamer toe en skreeu al in die gang af: “Pa! Pa! Kom kyk dit is later as ooit in ons lewe!”

Hierdie storie tref my besonderlik, want ek herhaal dit uit die dagstukkie van Desember  2003. Ons is nou tien jaar later as toe ek dit daardie aand in 2003 geskryf het. Wat het in die tien jaar, nie in ons almal se lewens, gebeur nie! Riekie, my liefste vrou, het toe nog gelewe en by my gesit. My seun Philippus was `n bedrywige sake­man. En nóú, in die geskiedenis, en in elkeen van ons se persoonlike lewens, is dit nie ook regtig later as ooit te vore nie? Natuurlik is dit met elke uur, elke minuut, elke sekonde wat verby gaan, later as ooit te vore. Die wisseling van die ou jaar en die aanvang van die nuwe jaar demonstreer dit net meer dramaties. Die gevaar van uitstel, soos in die volgende dagstukkies benadruk, is baie groot.

Die onverganklike woorde van Moses se gebed in Psalm 90:14,16, is ook op hierdie tydstip van die jaar vir ons ‘n goeie gebed: “Ver­sa­dig ons in die môre met u goedertierenheid,  sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae … en laat die lieflikheid van die Here oor ons wees …”

 “Here, ek wil U vandag, aan die einde van nog ‘n jaar, dank vir u versorgende hand wat dwarsdeur die jaar oor my was. Lei my in die nuwe jaar.

Wat jy wegsteek kom uit

Lees Josua 7:16-26

“…ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe …” (21).

In 1799 was die Amerikaanse skip, die Nancy, betrokke by smokkelhandel. Kort voordat die skip ‘n hawe moes binnegaan, gooi die kaptein van die skip, al­le dokumente waarop hy aangekla kon word, oor­boord. Hy was egter onder verdenking en hy moes voor die hof verskyn. Hy handig ver­valste dokumente in. Voor die hof han­­­­­teer hy sy saak so goed, die staat was op die punt om die aanklag teen hom terug te trek, toe luit. Hutton van die H.M.S. Fer­­ret in die hof ver­skyn. Sy be­manning het naby Port Royal ‘n haai gevang. In die pens van die haai was ‘n bondel dokumente wat aan ‘n skip behoort het. Dit was die doku­mente, wat die kaptein van Nan­cy, in die see ge­gooi het en wat hy gedink het vir goed vernietig is. Hierdie ver­doemende getuie­nis het tot die skul­dig­be­vinding van die Nancy se kaptein gelei. Die kop van die haai is vir ‘n tyd lank in Port Roy­al vertoon en is nou in Londen in die United Ser­vice Museum te sien. ‘n Voort­durende waarsku­wing: dinge wat mens weg­­steek kom weer uit.

“Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan af­sien, sal genade ontvang” (Sp.28:13). Akan het baie geleentheid gehad om met sy oortreding vo­ren­­dag te kom (Jos.7). ‘n Lang proses is gevolg om die skuldige aan te wys. Terwyl dit al nader na hom toe kom, moes hy daarmee uitgekom het en dit bely het. Hoe anders sou sy lot dan nie ver­­loop het nie. Hoe sou dit sy vrou en kinders nie be­skerm het nie! “Ellende wag vir dié wat dink hulle kan hulle planne diep wegsteek vir die Here, hulle wat besig is om dinge in die donker te doen en dink: wie sien ons? … Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm”. Die vol­har­dende sondaar en kwaaddoener loop met ‘n  toe­koms­lo­se pad. “Die oortreding van die god­delose ag­ter­haal hom, hy draai hom vas in sy sonde” (Spr.5:22).

‘n Mens wat met die Here en met sy medemens wil reg leef, trek nie ‘n sluier oor sy hart nie, maar gooi alles in sy hart en in sy gedagtes voor die Here oop. “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, onder­soek my, sien tog my on­rus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Ps:139:23,24) So ‘n openhartig­heid met God en gewilligheid om die lewe voor die Here reg te maak, is ‘n geseënde en heilsame pad. Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heel­temal dag is…(Spr.4:18)

 “Here, deurgrond vandag my hart.”

Voorbeeld van Verlosser

Lees Romeine 3: 27 – 32

“Ons betoog is tog dat ’n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie” (28).

Na afloop van ’n diens waar dr. D. M. Stearns die pre­diker was, kom een van die kerk se men­se met hom praat. “Ek hou nie van u boodskap nie. U praat te veel oor die kruis. Dit sou beter wees om oor Jesus as Leier en Voorbeeld te praat, as om so gedurig oor Jesus, as die Ge­krui­sigde Christus, te preek.” Dr. Stearns antwoord: “Sal u bereid wees om Hom te volg in alles wat Hy doen as ek Hom as Voor­beeld voorhou. “Ge­wis, ja,” sê die man met groot erns. “Nou ja, kom ons kyk dan wat die Here se Woord in 1 Petrus 2:21-22 ons leer,” sê dr. Stearns ter­wyl hy sy By­bel oopmaak en begin lees,  “‘Omdat Chris­tus self…so vir julle ’n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy het geen sonde gedoen nie…’ Kan u Hom hierin volg deur nooit sonde te doen nie?” Die man lyk verleë. “Nee,” erken hy, “ek sal dit nie sê nie, want ek is tog ook maar ’n sondaar.” Dr. Stearns glimlag. “My vriend, dan is  u eerste behoefte, ’n Verlosser, nie ’n Voorbeeld nie.”

Gelukkig berus ons saligheid nie op ons eie krag en goeddoen nie. “Dit skrywe ek aan julle…dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes…”(1 Joh.2:1,2).      Wat­ter hoop is daar dan vir ons as Chris­tene, as ons in Christus as ons Verlosser vertrou, maar in ons gedrag nog so baie kortkom? Ons vertrou in sy vergifnis as ons met nederige berou ons oortredinge en tekortkominge bely. Dan het ons die bemoediging van die krag van die Heilige Gees wat ons in ons geestelike lewe laat groei en oorwin­nend maak. “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie” (Gal.5:16).

“Here, vandag vertrou ek in U om my te red.”

Veilige Skuilplek

Lees Psalm 18: 1 – 7

“Die Here is my rots, my skuilplek en my red­der, my God, my rots, by wie ek skuil..” (3)

Die sendeling, dr. H. A. Ironside, vertel in die Alliance Weekly hoe hy onder die Lagu­ma Indiane gewerk het en op `n dag gevra is, om daardie middag in `n dorpie, Pawate, `n diens te hou. Dit was die jare voor motor­voertuie. “Ons het in `n groot wa, getrek deur perde, vir omtrent veertien myl oor ruwe paaie gery, voor ons die dorpie bereik het. Indiane het van ooral oor aangekom,” skryf Ironside. Vyfuur die middag be­gin hulle die terugtog, want die aand moet hy weer in Ca­sa Blanca `n diens hou. Nie ver nie of hulle sien `n geweldige donderbui opbou en na hul­le kant toe kom.  “Ons gaan sopnat reën,” sê Ironside vir dié by hom op die wa. Die wadrywer antwoord, “Ek hoop nie so nie. Daar is `n groot rots op ons pad, `n entjie vo­ren­toe. As ons dit betyds haal sal ons droog bly.” Hy laat die perde vinniger hardloop. Nie lank nie of hulle sien die masiewe rots, voor hulle uit die plein oprys. Toe hulle nader gaan, sien hulle `n grot in die rots, groot ge­noeg vir die perde om met wa en al daarin te gaan. Na net enkele minute later breek die storm oor hulle los. Toe die storm buite oor die rots uit­woed en hulle veilig en droog binne in sit, begin een van die manne in die La­guna­taal sing: “Ewige Rots, geklief vir my, laat my veilig in U bly.” Harry Ironside sê: “I realised the meaning of the poet’s words, then as perhaps never before.”

Vir al ons gevare is God vir ons `n veilige en oop rots om in te skuil. Maar veral vir die groot gevaar van die ewige oordeel, is die Here Jesus, die Rots wat vir ons aan die kruis gekloof is, `n veilige skuiling. Skuil­ende in Jesus, kan ons met geruste hart die ewigheid ingaan.

“Here, vandag kom ek in U skuil.”

Veilig in die testament

Lees Titus 3: 3 – 8

“So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag”  (7)

’n Seun, in ’n Christenhuisgesin, het namate hy ouer word, eiesinnige en spandabelrige ge­woon­tes aangekweek. Hy het met sy besadige pa ba­klei omdat hy hom nie die  geld, wat hy wou hê, wou gee nie. Kwaad het hy die huis verlaat en hom oorgegee aan ’n roekelose lewe. Soos die Verlore Seun in Jesus se gelykenis, het hy `n verdorwe rondloper geword. Die dag het aange­breek dat hy totaal platsak en wanhopig was. Toe dink hy aan sy pa en sy huis, maar ongeluk­kig níé soos die Verlore Seun nie. “My pa skuld my ’n be­staan,” redeneer hy met homself. “Ek sal dit self vat.” Hy hou die huis dop en een aand, toe die he­le gesin weg is, breek hy in. Hy het die huis en al die veiligheidsmaatreëls so goed geken. Die in­braak was vir hom nie moeilik nie. Hy het ook geweet waar al die waardevolle goed, ook die brandkas se veiligheidsleutel, se bêre­plekke is. In die nag­stil­te soek hy geld. Tussen ander waardevolle do­ku­mente kry hy sy pa se testament. Met nuus­kie­rige oë lees hy die testa­ment. Dit weer­spieël ’n groot boedel. Sy naam staan tussen dié van an­der erf­­­gename, met ’n groot erflating by sy naam. As sy pa sou sterf, gaan hy ’n rykman wees. ’n Moord­gedagte kom in hom op. Hy skrik vir hom­self. Hy lees die testament weer en ’n stilte kom in sy ge­moed. Die pa met wie hy so getwis het, wie hy ge­vloek en verwens het, teen wie hy so verbitter was, het nie sy naam uit die testament geskrap nie. “Kan dit wees,” vra hy homself af, “dat my pa my nog liefhet. Wil hy my, na al die skande en smart wat ek oor hom gebring het, nog as seun hê?” Her­in­neringe oor die aangename ja­re wat hy as kind en gehoorsame seun in sy ouer­huis gehad het, spoel oor sy gemoed.  Hy sien in sy gedagte die goeie jare wat vir hom kan voorlê, in sy huis by sy ouers. Hy sak in een van die groot ge­mak­stoele neer. Druk sy sakdoek teen sy gesig en be­gin huil. Later die nag kry sy ouers hom in die stoel, sak­doek nog oor sy gesig, aan die slaap. Op sy knieë lê die testament, sy vinger by sy naam. Sy pa en ma weet met diepe liefde hulle kind het huis toe gekom.

Jesus het die verhaal van die Verlore Seun vertel om Self te illustreer hoe God die mens, wat sy rug op Hom ge­draai het, Hom verag en gesmaad het, steeds liefhet en as kind wil verwelkom. Ons erflating in God se tes­ta­ment, die ewige lewe, is met Christus se bloed ge­skryf. Die Heilige Gees bring deur die evangelie die wete van ’n erfenis by God, na ons toe. Hy werk in ons hart die son­debesef en gebrokenheid, wat ons na God toe laat keer.”

 “Here, vandag kom ek na U toe”

Van die Skrywer

Lees Handelinge 8: 26 – 40

“…hy (die hofdienaar uit Etiopië), het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees…Filip­pus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig, en hy antwoord: ‘Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.’” (28,35,37).

`n Dogtertjie se pa het verjaar en sy wou so graag vir hom iets besonders gee, vertel Golden Sheaves. Sy het besluit om vir hom `n Bybel te koop. Wat gaan sy voorin die nuwe Bybel skryf? Van Maggie, dit klink so ge­woon. Van pa se klein dogtertjie, nee, dit sal nie werk nie, want hy noem haar in die laaste tyd sy groot meisie. Van een wat u liefhet, ook nie goed nie, want baie ander mense het hom ook lief. Uitein­delik gaan sy na sy studeerkamer toe en haal `n boek uit een van sy groot boekrakke. Voorin staan haar pa se naam en dan: “Van die Skrywer”. Op die pa se ver­jaars­dag maak die pa die Bybel, wat sy in geskenkpapier toegedraai het, oop. ‘n Bybel, en voor­in staan: Van die Skrywer. Hy herken haar handskriffie, maar die Heilige Gees maak dit `n pyl wat tref. Hy besef da­de­lik hy ken nie die Skrywer van die Bybel nie. Hy begin die Bybel met aandag lees. Die woorde van die Skrywer van die Bybel, God Self, dring in sy hart in en hy kom tot bekering. Hy word later `n prediker van die evangelie. As hy van sy bekering vertel, wys hy die Bybel vir die gehoor en vertel oor die inskry­wing, Van die Skrywer,  en sê: “Let us then accept it, read it, believe it, confess it, and tell to others that it is a love gift for them ‘From the Author.’”

Die Bybel, die Here se Woord, kry vir ons nuwe waarde as ons dit so `n persoonlike saak maak. God het vir my geskryf. Hierdie beloftes is vir my, hierdie waarskuwings is vir my, hierdie wegwysers is vir my. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom.10:17 – Ou Vert.).

Dit is wat met die kamerling van Etiopië gebeur het toe hy op sy wa die Bybel uit Jesaja begin lees het. Die Heilige Gees het dit vir hom persoonlik ge­maak en hy het die Here Jesus leer ken.

“Here, vandag glo ek u Woord aan my.”

Uit die mond van 'n kind

Lees Psalm 8

”Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders…tot swye gebring” (3)

’n Uitgesproke ag­nos­ti­kus het oral in Engeland ver­ga­derings ge­hou, om mense van die dwaas­­­heid van geloof te oor­tuig. Niemand het dit gewaag het om in die wel­spre­kende man se vergaderings, op te staan en vir die Here ge­tuig nie. By een so ’n ver­ga­de­ring het ’n seun­tjie en sy sussie opgedaag. Hulle het gedink die man gaan oor die Here praat. Hulle kon geen kop of stert uit­maak van wat hy so geleerd die mense voorhou nie, maar toe hy sy gewone uitdaging rig en enig­iemand wat vir die Here iets wil sê, uitnooi om dit op die verhoog te kom doen, het dié twee kinders gedink hy bedoel dit erns­tig. Hand aan hand het hulle voor almal se verbaasde oë vorentoe geloop. “Ons wil iets vir die Here sing,” verdui­de­lik die seuntjie aan die verbaasde geleerde man. Hy beduie vir hulle om voort te gaan, terwyl hy met ’n breë glimlag terugstaan. Hulle het han­de­gevat en begin sing: Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis! Verhoog sy krygsbaniere deur al die strydgedruis! Terwyl hulle sing het iemand in die gehoor opgestaan en begin saamsing en toe nog een en nog een: Die stryd lei tot oorwinning, die Heiland keer op keer, tot Hy oor elke vyand vir ewig heers as Heer. Feitlik die hele gehoor het gestaan en saam ge­sing. Die godloënaar het sy goed geneem en stilletjies padgegee.



Staan op staan op vir Jesus! Die krygsgeroep weergalm;

Begeef u in die strydperk, volg Hom met vreugdepsalm!

Kom, stryders, wees dan moedig, weerstaan met al u mag;

Die bose moet terugval, want Jesus gee u krag! (Hal.244)

Met die Here Jesus se intog in Jerusalem het Hy die krag van getuienis, al is dit uit ’n kind se mond, beklem­toon. “Maar toe die priesterhoofde…die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uit­roep: ‘Prys die Seun van Dawid!’ was hulle veront­waar­dig…’Ja,’ ant­woord Jesus. ‘Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?’” (Mat.21:14-16).

“Here, vandag wil ek vir U opstaan en U bely.”

Saad wat stadig ontkiem

Lees Markus 4: 26 – 29

“Iemand saai die saad op die land en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei.. “ (26,27).

Die beroemde prediker, eerw. John Flavel, preek een oggend oor die teks: “As iemand die Here nie liefhet nie – vervloek is hy! Kom, Here! Die genade van die Here Jesus sal by julle wees!. My liefde is by julle almal in Christus Jesus” (1Kor.16:22-24). Buitenge­wo­ne erns heers in die diens. Aan die einde lig eerw. Flavel sy hande op om die seën uit te spreek. Hy wei­fel. Laat sy hande weer sak en kyk oor die gemeente. Sy volgende woorde word deur `n diepgeraakte ge­meente aangehoor: “Hoe kan ek die seën uit­spreek, oor ’n gehoor van wie sommige, Jesus Christus nie liefhet nie, en dus, volgens van­og­gend se teks­woorde, `n vervloeking is?” ’n Seun van 15 jaar, Luke Short, het tussen die mense ge­sit. Ook hy beleef die stilte en gewydheid na eerw. Fla­vel se ernstige woor­­de. Kort na hierdie ge­beu­re sluit Luke Short by die vloot aan. Dit voer hom weg van sy ge­boorte­dorp af en vir die res van sy lewe woon hy in Amerika.

Luke Short het besonder oud geword. Toe hy by­na 100 was, was hy nog so sterk, hy kon self op sy plasie werk. Sy ge­sondheid was goed en sy ver­stands­vermoë hel­der. Uit sy vlooterva­rings en latere jongmansle­we, het hy in `n sondige man ont­aard. Hy het on­verskillig en sondig gele­we. Hy het ’n hon­derjarige son­daar geword. Hy was vir baie, baie jare nooit in `n kerk nie.

Een middag sit hy langs een van sy prag­tige lan­­de­rye om te rus. Sy gedagtes draal en vat koers, oor die baie jare heen, terug die verlede in. Daardie kerkdiens kom helder in sy herinneringe terug. Hy onthou die preek, sien in sy gees hoe eerw. Flavel sy han­de optel om hulle te seën en sy hande weer laat sak. Die Heilige Gees bring ernstige vertedering in sy hart. Die saad van baie jare gelede ontkiem. Hy hoor weer dui­de­lik in sy gedagte die gods­man se woorde: “Hoe kan ek die seën uit­spreek oor ’n gehoor van wie sommige Jesus Christus nie liefhet nie, en dus, volgens van­og­gend se tekswoorde, `n vervloe­king is?” Hy was een van dáárdie mense. Sy sondige ja­re, wat nou agter die rug lê, druk swaar op sy gemoed. Diep sondeoortuiging vat pos in sy hart. Daar langs sy land kniel John Short neer, bely sy sondige lewe aan God en neem Jesus Christus as sy Saligmaker aan. Na byna 85 jaar het die saadjie, wat John Flavel dié Son­­dag­og­gend gesaai het, ontkiem en vrug ge­dra.

Twee bemoediginge van God se genade spruit uit hier­die gebeurtenis. Die een is vir mense, wat op elke moont­like manier, die evangeliesaad saai en selde vrug sien. Gees­telike saad se ontkieming en groei en vrug kan ’n tydsame proses wees. Hou moed en saai! Die an­der bemoediging is, dat God sy liefde en genade nie som­mer na die eerste weiering van die skuldige sondaar, terug­ trek nie. Lank­moedig bly die Here in ons hart werk, om­dat hy ons liefhet. Moet net nie aanhou weier tot­dat dit te laat is nie! As u hart nou ge­re­ageer het, en u voel om nou na God se gena­detroon toe te gaan, doen dit. Ons Voor­spraak en Heiland, Jesus Christus, wag reeds daar.

“Here, vandag hoor ek, en voel ek, en kom ek. Ek bid red my.”

Oral hartseer

Lees 1 Petrus 2:1-18

“…omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het…’(21)

In How to Face Life deur Charles F. Banning, vertel hy ‘n  fabel wat die Sjinese meesters graag ver­tel. ‘n Vrou het haar enigste seun verloor. Sy was verslae van droefheid. Elke dag het sy oor hom getreur. Uiteindelik het sy met ‘n wyse ou filo­soof gaan praat. Hy het vir haar gesê: “Ek sal jou seun aan jou teruggee, as jy vir my ‘n mostert­saadjie sal bring. Daar is egter ‘n voorwaarde: die saadjie moet van ‘n huis af kom waar daar nog nóóit droefheid was nie. Sy het dadelik haar soektog begin en van huis tot huis gegaan. Elke huis waar sy gekom het, het ‘n eie droefheid gehad. “Hoe selfsugtig was ek,” het sy geroep, “droefheid is almal se deel!”

Die prediker, C. H. Spurgeon, troos ons be­droef­de harte dieper. God is in Christus Je­sus saam met ons in ons hartseer. Hy skryf (sy eie woorde, myne kom kort): “There is no pang that rends the hearts, I might almost say not one which disturbs the body, but what Jesus Christ has been with you in it all.” Voel jy die druk van armoed, gaan hy voort? Jesus het “..nie eens ‘n rusplek vir sy kop nie” (Luk.9:58). Ondervind jy die droefheid van ‘n geliefde se verlies? Jesus het by sy vriend Lasarus se graf, saam met Lasarus se susters, gehuil. Is jy beskinder en is daar van jou sleggepraat? In Psalm 69 hoor ons die Messias se stem: “U weet hoe ek beledig en verkleineer is… beledigings het my gebreek…” (20). Het jou vriende jou verraai? Jesus se eie dissipel het Hom verraai, een het hom verloën, en die an­der het wegge­hard­loop toe Hy gevange­geneem is. Bevind jy jou in ‘n storm? Jesus was elke keer saam met sy dissipels in die storms wat hulle getref het. Ly jy pyn? Wie se pyn kan vergelyk word met die pyn wat Hy aan die kruis gely het? “He cries, ‘I am with you; be not dismayed ; for I am both thy Companion and thy God.’”

“Here, vandag dank ek U dat U saam met my in my beproewing is.”

'n Veranderde Hart

Lees 2 Korintiërs 5:16-21

“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom…(17)

Louis Zamperini van Compton, California, ’n voor­­malige Olimpiese atleet en Amerikaanse vlieë­nier, moes in die Tweede Wêreldoorlog in die om­ge­wing van Oahu Hawaii, in die see, ’n noodlanding maak. Vir 47 dae het hy byna 2 000 km. ver op sy nood­vlot gedobber, voor hy deur ’n Japanese boot opgepik is. In Now vertel Tom M. Olsen, van Zam­pe­rini se ervaringe as Japanese oorlogsprisonier, voor­dat vrede twee jaar later gesluit is. Hy is uitge­honger en gemartel. Tuis het sy mense hom as dood prysgegee. Hy besit sy eie doodsertifikaat, ge­te­ken deur pres. Rooseveldt. In 1945 het Zam­perini Japan met ’n hart vol haat verlaat. In 1949 woon hy een aand in Los Angelese ’n diens by waar dr. Billy Graham die prediker was. Daardie aand ontmoet die Here Jesus Christus hom en hy kom tot bekering. Vir sy vriende sê hy: “Such a change has come into my life that I feel I have a duty to perform.That duty is to return to Japan and tell them of the saving power of the Lord Jesus Christ.” Zamperini het te­ruggegaan Japan toe met ’n lys van sy gevangenemers en tronkbewaarders se name – en ’n Bybel. Sy doel: om sy Verlosser, Jesus Christus, aan die mense wat hom mishandel het, bekend te maak.

Haat, woede en wraaksug is magtige emosies van die menslike hart. Dit is ’n ingebore deel van die sondige mens­like natuur. In die Messiaanse Psalm 22 waar die ge­­moedservaring van die lydende Messias openbaar word, lees ons die omvang van die woede van die mense, om die kruis van Christus: “’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel…soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af….soos honde omsingel hulle my…” (Psalm 22:13,14,17). Hoe het Jesus op hierdie woede en haat van sy vyande gereageer? “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk.23:34). Wedergeboorte is `n oor­dra van Jesus se lewe, deur die Heilige Gees, na `n sondaar se lewe toe.

“Here, vandag vergewe ek mense wat my kwaad aan­doen.”

'n Kruis op die toring

Lees 1 Korintiërs 1: 18 – 31

“…maar ons verkondig Christus wat gekruisig is….vir dié wat deur God geroep is… is Christus die krag van God en die wysheid van God” (23).

Die lughawe van Pittsburgh, skryf Earl C. Willer, is die grootste en bestoegerus­te lug­hawe in die land. Dit bring ’n groot lugver­keer na die stad toe. Slegs twee minute vliegtyd van die lughawe af en direk in lyn met een van die besigste aanloopbane, staan die Union Church met sy hoë toring. ”Vandat die loopbaan geopen is,” vertel eerw. William R. Ruschaput, die kerk se leraar, “dreun vliegtuie by die kloktoring ver­by soos bye om ’n byekorf.” Sy eie woorde: “”It got so bad that low-flying jets, turned our Sunday evening services into sudden prayer meet­ings.” Die kerkraad het bekommerd ge­raak, omdat die kerk­toring so hoog is en die vliegtuie, ter wille van die landing, so laag in­kom, dat die toring raak gevlieg kan word en skade en ’n ongeluk veroorsaak. ’n Drie me­ter hoë neonligkruis word toe op die toring aangebring. Die kerk staan op die hoogste punt naby die lughawe. Dit bring toe mee dat die ligkruis snags, van sover as Ohio se grens af, deur die vlieëniers raakgesien word. Hieroor het eerw. Ruschaput gesê, een van die loodse het teenoor hom die opmerking gemaak: “Most of us are using it as a guide to the field.”

Die kerk met sy hoë kloktoring, so naby die aan­loop­baan, was vir die vlieëniers toe nie meer ’n hindernis nie, maar ’n bate. Die kruis op die kerktoring was ’n letterlike hulp vir die vlieënier om ’n veilige landing op die aan­loop­baan te maak. So moet die kerk, ook in geestelike sin, ’n seën wees vir mense, om hulle veilige landing op die aanloopbaan van die ewigheid te maak. En die kerk kry dit reg, as die kruis duidelik en hoog verhef word. Die kerk beteken die lidmate, kerkraad en leraars. As die Here Je­sus Christus en sy verlos­singswerk die kerk en sy mense se middelpunt van getuienis en aandag is, wek die Hei­lige Gees in mense se harte, die verligting van geloof, wat ’n veilige aankoms in die ewigheid verseker.

“Here, vandag wil ek, deur u Gees, ’n verligte kruis uit my lewensgedrag laat skyn.”