Lees Handelinge 8: 26 – 40
“…hy (die hofdienaar uit Etiopië), het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees…Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig, en hy antwoord: ‘Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.’” (28,35,37).
`n Dogtertjie se pa het verjaar en sy wou so graag vir hom iets besonders gee, vertel Golden Sheaves. Sy het besluit om vir hom `n Bybel te koop. Wat gaan sy voorin die nuwe Bybel skryf? Van Maggie, dit klink so gewoon. Van pa se klein dogtertjie, nee, dit sal nie werk nie, want hy noem haar in die laaste tyd sy groot meisie. Van een wat u liefhet, ook nie goed nie, want baie ander mense het hom ook lief. Uiteindelik gaan sy na sy studeerkamer toe en haal `n boek uit een van sy groot boekrakke. Voorin staan haar pa se naam en dan: “Van die Skrywer”. Op die pa se verjaarsdag maak die pa die Bybel, wat sy in geskenkpapier toegedraai het, oop. ‘n Bybel, en voorin staan: Van die Skrywer. Hy herken haar handskriffie, maar die Heilige Gees maak dit `n pyl wat tref. Hy besef dadelik hy ken nie die Skrywer van die Bybel nie. Hy begin die Bybel met aandag lees. Die woorde van die Skrywer van die Bybel, God Self, dring in sy hart in en hy kom tot bekering. Hy word later `n prediker van die evangelie. As hy van sy bekering vertel, wys hy die Bybel vir die gehoor en vertel oor die inskrywing, Van die Skrywer, en sê: “Let us then accept it, read it, believe it, confess it, and tell to others that it is a love gift for them ‘From the Author.’”
Die Bybel, die Here se Woord, kry vir ons nuwe waarde as ons dit so `n persoonlike saak maak. God het vir my geskryf. Hierdie beloftes is vir my, hierdie waarskuwings is vir my, hierdie wegwysers is vir my. “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom.10:17 – Ou Vert.).
Dit is wat met die kamerling van Etiopië gebeur het toe hy op sy wa die Bybel uit Jesaja begin lees het. Die Heilige Gees het dit vir hom persoonlik gemaak en hy het die Here Jesus leer ken.
“Here, vandag glo ek u Woord aan my.”