Lees Lukas 13: 6 – 9
“Maar die tuinier antwoord: ‘Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra” (8,9).
Baie jare gelede, in een van Engeland se groot stede, wou ‘n toegewyde jongmeisie graag in haar kerk Sondagskool hou. Daar was nie vir haar ’n klas nie, maar, het die predikant haar belowe, as sy genoeg kinders vir ’n klas kon bymekaarmaak, kon sy hulle onderwyseres wees. Die kerk het die gebruik gehad, om vir die kinders uit daardie armoedige buurt, ‘n stel Sondagklere te gee, as hulle Sondagskool toe kom. Dit het hulle kerk toe gelok. Dit het die jongmeisie dus nie te lank geneem om vir haar ’n klas bymekaar te kry nie.
Een van die seuns wat sy so kerk toe gelok het, het van die begin af moeilikheid veroorsaak. Net na twee Sondae het hy weggebly. Sy het hom gaan soek. Sy Sondagklere was geskeur en vuil. Die predikant het egter belowe, om vir hom ’n nuwe stel klere te gee, as hy terugkom kerk toe. Hy het teruggekom. Weer vir net twee Sondae. Die meisie het hom weer gaan soek. Die tweede stel klere was weer net so vuil en geskeur as die eerste. Sy het weer vir die leraar gaan vertel. Hy was ’n getroue herder. Na hy ’n rukkie stil gestaan en in sy hart die Here se leiding gevra het, sê hy vir haar: “Moenie moed opgee nie. As jy hom vind en terugbring, gee ons hom nog ’n kans. Die seun het teruggekom en sy derde stel Sondagklere ontvang. Die volgende Sondag was hy daar, en die volgende, en die volgende.
Vir ’n lang tyd het hy gereeld Sondagskool toe gekom, ernstig geluister en uiteindelik sy hart vir die Here oopgemaak en Christus as sy Verlosser aangeneem. Hy het lidmaat van die kerk geword. Hy het begin Sondagskool hou en met die kerk se hulp vir predikant gaan leer. Hy was die latere dr. Robert Morrison wat sendeling in Sjina geword het en die Bybel in Sjinees vertaal het.
Die vrug wat gevolg het op die predikant en die jongmeisie se volharding het oor en oor vergoed vir hulle arbeid. Hoe groot gaan hulle loon nie wees nie! Ons dien ’n lankmoedige Here. Hy gee óns oor en oor weer ’n geleentheid. Hy soek ook by ons hierdie volhardende lankmoedigheid, om ander vir Hom te wen.
“Here, vandag wil ek moedskep, met myself, en met ander wat ek graag vir U wil wen.”