Lees Mattheus 21:14-22
“Toe Hy ’n alleenstaande vyeboom langs die pad sien, gaan Hy daarheen, maar Hy het niks anders as blare daaraan gekry” (19)
In Illinois het rowers ’n skoenwinkel beroof, vertel die Christian Endeavour World. Die inbraak was so goed beplan, daar was geen sigbare teken van die misdaad nie. Hulle het ’n verdere slim set uitgehaal om hulle misdaad so lank moontlik bedek te hou. Hulle het al die skoene uit die dose verwyder, en die leë skoendose in die rakke teruggepak, soos dit voorheen gewees het. Toe die mense van die winkel die volgende dag by die winkel opdaag, het niemand onraad gemerk nie. Dit was eers toe die eerste kliënte opdaag en na die inhoud van die skoendose begin vra, dat die winkelmense die verstommende ontdekking moes maak, ten spyte van die vol rakke, was daar geen voorraad in die winkel nie.
Ons weet almal hoe bedrieglik voorkoms kan wees. Ons het ’n spreekwoord: Nie alles wat blink, is goud nie. ’n Mens se voorkoms as Christen en die hart se inhoud van Christenskap, kan ook verskil. So het Jesus die Jode veroordeel. Hulle roem op hulle godsdiens, maar hulle dade stem nie daarmee ooreen nie: “Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julle self sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie… (Luk.3:8). Iemand wat wéét: ‘my Christenlewe kom kort by my Christen-getuienis’, is gelukkig. Dit dui op die soekende en eerlike hart wat wil groei in die geestelike lewe. Selfs Paulus het getuig van gebreke in sy lewe, maar hy het ook getuig van sy verlange om in sy geestelike lewe te vorder: “Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het…ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil.3:12-14).