SKRIFDEEL Lukas 18: 1 – 8
“Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? … Ek sê vir julle dat Hy sal hulle help, en gou ook!” (7,8)
Tydens ‘n langdurige droogte is besluit om ’n dag van gebed vir reën te hou. Baie mense het gekom en die gebede was ernstig en dringend. ’n Klein dogtertjie het met groot oë alles aanskou en aangeluister. Sy fluister vir haar pa: “Glo die mense regtig dit gaan reën?” “Natuurlik,” fluister haar pa gesteurd terug, “anders sou hulle mos nie kom bid het nie.” Na ’n paar oomblikke fluister sy weer: “Maar niemand het dan ’n sambreel saamgebring nie.” Kinderlike geloof beteken om soos ’n kind te dink en te glo: God hoor en God gaan antwoord. ’n Mens moet vir die gebedsantwoord voorberei.
Vir gebedsverhoring is ’n skoon hart nodig. Geen bewuste ongehoorsaamheid, geen be-wuste sonde, geen bewuste twisgevoel teen iemand anders nie. “As ons gewete ons veroordeel – God is groter as ons gewete, en Hy weet alles…as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God te gaan; en wat ons vra, kry ons van Hom omdat ons…doen wat Hy goedvind” (1Joh.3:20,21).
Soos ouers soms tot die beswil van ’n kind vir die kind “nee” sê, sê God ook soms vir ons “nee”. Ons hart moet naby genoeg aan God wees om dit te hoor en te verstaan, soos Paulus verstaan het, toe die Here vir hom die “doring in die vlees” nie wou wegneem nie. “Drie maal het ek die Here gebid dat dit…weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg” (2 Kor.12:7).
Ons deel ook in die beloftes wat Jesus vir sy dissipels gegee het. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14).
“Here, vandag kom ek om U aan te roep, U my nood te vertel en te weet U hoor en help my.”