Lees Psalm 8
”Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het. So word u teëstanders…tot swye gebring” (3)
’n Uitgesproke agnostikus het oral in Engeland vergaderings gehou, om mense van die dwaasheid van geloof te oortuig. Niemand het dit gewaag het om in die welsprekende man se vergaderings, op te staan en vir die Here getuig nie. By een so ’n vergadering het ’n seuntjie en sy sussie opgedaag. Hulle het gedink die man gaan oor die Here praat. Hulle kon geen kop of stert uitmaak van wat hy so geleerd die mense voorhou nie, maar toe hy sy gewone uitdaging rig en enigiemand wat vir die Here iets wil sê, uitnooi om dit op die verhoog te kom doen, het dié twee kinders gedink hy bedoel dit ernstig. Hand aan hand het hulle voor almal se verbaasde oë vorentoe geloop. “Ons wil iets vir die Here sing,” verduidelik die seuntjie aan die verbaasde geleerde man. Hy beduie vir hulle om voort te gaan, terwyl hy met ’n breë glimlag terugstaan. Hulle het handegevat en begin sing: Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis! Verhoog sy krygsbaniere deur al die strydgedruis! Terwyl hulle sing het iemand in die gehoor opgestaan en begin saamsing en toe nog een en nog een: Die stryd lei tot oorwinning, die Heiland keer op keer, tot Hy oor elke vyand vir ewig heers as Heer. Feitlik die hele gehoor het gestaan en saam gesing. Die godloënaar het sy goed geneem en stilletjies padgegee.
Staan op staan op vir Jesus! Die krygsgeroep weergalm;
Begeef u in die strydperk, volg Hom met vreugdepsalm!
Kom, stryders, wees dan moedig, weerstaan met al u mag;
Die bose moet terugval, want Jesus gee u krag! (Hal.244)
Met die Here Jesus se intog in Jerusalem het Hy die krag van getuienis, al is dit uit ’n kind se mond, beklemtoon. “Maar toe die priesterhoofde…die wonderlike dinge sien wat Hy doen, en ook die kinders wat in die tempel aanhou uitroep: ‘Prys die Seun van Dawid!’ was hulle verontwaardig…’Ja,’ antwoord Jesus. ‘Het julle nooit gelees nie: U het daarvoor gesorg dat kinders en suigelinge u lof sing?’” (Mat.21:14-16).
“Here, vandag wil ek vir U opstaan en U bely.”