Eerlik oor 'n mensself

Lees Lukas 18:9-14

“O God, wees my, sondaar, genadig” (13)

Jare gelede het die onderkoning van Napels, die Her­tog van Osuna, ’n besoek gebring aan Barcelona in Span­je. In die hawe het ’n galeiskip met gevangenes gelê. Die hertog het aan boord gegaan en die gevangenes een vir een ondervra oor die rede van sy veroordeling. Een na die ander het die veroordeeldes hulself verskoon. Elkeen het die hertog probeer oortuig dat dit nie sy skuld is dat hy ’n gevangene is nie. Een het gesê die regter is omgekoop om hom skuldig te bevind. ’n Ander een het vyande se valse getuienis die skuld gegee. Nog een het aangevoer sy vriende het hom verraai om sy eiendom in die hande te kry. Na vele van hierdie verhale van selfregverdiging, kom een van die gevangnes met ’n hangkop voor die hertog staan. Terwyl hy verleë grond toe kyk sê hy: “U hoogheid, ek verdien om hier te wees. Ek het geld nodig gehad en ek het gesteel om dit te kry. Ek is gevang en skuldig bevind en daarom is ek hier.” Uit die veld geslaan spreek die her­tog hom aan: “Nee, liewe land, kêrel! Jy is al te veel van ’n oneerlike mens om tussen hierdie onskuldige mense te bly.” En met daardie woorde is die man, wat oor homself eerlik was, sy vryheid gegee.

Dit is menslik om goed te voel teenoor iemand wat eer­lik is oor homself en die blaam vir sy foute te dra. Iemand wat sy foute goedpraat, word verag. ’n Mens doen homself ’n guns om eerlik te wees oor homself. Ook God bejeën ’n mens wat kwaad gedoen het, daaroor spyt is en dit bely, met genade. So ’n mens word deur God vrygespreek en van ’n skuldige gewete bevry. Dit was ’n gunstige aspek van Dawid se houding jeëns God, dat hy so gou was om sy verkeerdheid te besef en dit te bely. “Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus …U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God” (Ps.51:6, 19). By die herdenking van Jesus se geboorte kan ons opnuut moedskep om teenoor God oor onsself eerlik te wees. Ons word na die genade­troon geroep, want dáár het ons ook die Here Jesus as ons Hoëpriester en ons Voorspraak: “En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes …(1 Joh.2:1,2). Daarom kan Hy dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree” (Hebr.7:25).

“Here, ek kom vandag met vrymoedigheid om U my oortredinge te bely en in Jesus se Naam gelowig vergifnis te vra.”