Lees Psalm 1:1-6
“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind…”(1,2).
In ’n Oosblokland was Bybels skaars en feitlik onmoontlik om te bekom. In ’n jong meisie, Anja, se hart het die saad van die evangelie, deur die Heilige Gees se werking, selfs in ’n land soos dié waarin sy gewoon het, ’n ontwaking van geloof in Christus gebring. Meer as enige iets anders het sy verlang om ’n volledige Bybel te besit. ’n Reproduksie van ’n Bybel kon ’n gevangestraf van tot tien jaar ten gevolg hê. Gelowiges het egter so verlang na die woord van God dat hulle die lang en moeilike, en selfs gevaarlike, taak onderneem het om die Bybel deel vir deel met die hand oor te skryf. So het Anja ook te werk gegaan om haar Bybel te bekom. Waar sy ’n deeltjie van die woord van God kon kry, het sy dit oorgeskryf. Soms was sy gelukkig om ‘n paar blaaie van ’n Bybel in die hand te kry. Dit het sy in haar groeiende Bybel geplak. Anja het lank aan haar Bybel gewerk. Met uitsondering van ’n enkele skrifdeel, was haar Bybel volledig. Daardie klein deeltjie van die woord van God, het Anja se vurigste en onophoudelike gebed geword. Haar gebed is beantwoord. Op ’n dag kry sy by ’n ander gelowige ’n getikte kopié van die ontbrekende Skrifdeel. Vir Anja was dit ’n vreugdevolle oomblik toe sy die ontbrekende Skrifdeeltjie in sy plek plaas en sy ’n volledige Bybel in haar hande hou. Dit was nie ’n mooi Bybel nie. Sommige blaaie was getik, ander handgeskrewe, ’n paar gedruk. Die blaaie was van verskillende groottes. Sommige oud en verslete, ander nuut. Maar vir Anja was dit die kosbare, volledige Bybel.
’n Eie Bybel is vir ’n mens kosbaar. Dit dra die merke van ons eie geestelike lewe en ons omgang met God. Wanneer ons ons Bybel lees, word ons gedagtes met God se gedagte verenig. Dit hef ons op, maak ons wys, gee ons moed. Uit ons Bybel raak die ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van krag bewus. Wees lief vir u Bybel. Maak dit u kosbaarste besitting. Lees dit.
“Here, vandag eien ek my Bybel se kosbare inhoud opnuut vir my toe