Lees Markus 1: 16 – 20
“”Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak’ (17).
Paul Johnson skryf, hy het twee jong broers leer ken. Hulle was uitermate lief vir visvang. Hy het ‘n naweek langs ‘n rivier saam met hulle deurgebring en baie van visvang geleer. Meesal vang hulle van die wal af met ‘n erdwurm aan die hoek en ‘n dobbertjie aan die lyn. Die oudste van die twee broers lees elke moontlike tydskrif oor visvang. Hy praat graag met ander hengelaars. Vir elkeen het hy een vraag: “Byt die vis? Het jy iets gevang.” As die antwoord “ja” is, wil hy dadelik presies weet watter aas hy gebruik het. Hy het geleer ‘n visserman moet die regte gereedskap hê, weet waar vis is, geduld hê, weet watter tye die beste vir visvang is, weet hoe om die vis, veral as dit ‘n grote is, in te katrol. Hy het self egter een tegniek gesien, skryf Johnson, wat absoluut noodsaaklik is om ‘n vis te vang en waarsonder ‘n mens maar kan vergéét om ooit ‘n vis te vang. En dit is: Die visserman moet sy lyn, met hoek en aas aan, in die water gooi!
Christene, die dissipels van die Here Jesus Christus, is vissermanne vir Hom. Hulle roeping is om ander vir Hom te wen. Op geen ander wyse kom die evangelie by iemand se hart uit, as dat iémand wat reeds aan die Here behoort, dit nie by die persoon bring nie. Ons kan nie iemand vir die Here wen as ons nie eers probeer nie: miskien deur ‘n traktaatjie uit te gee, vir iemand te bid, vir iemand te vertel hoe die Here onsself gered het, geld te gee dat ander die evangelie kan versprei. Daar is groot loon in die ewigheid vir elkeen wat ‘n ander vir die Here wen, of gehelp het dat iemand gered word. “…en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre (Dan.12:3).” Jesus self het gesê: “…kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes. Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe” (Joh.4:35,36). “…ek (het) ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie…en het voor die troon en voor die Lam gestaan. ” (Op.7:9).
Sal dit leë hande wees
en ‘n siel oor skuld bevrees
As ek voor Hom
by die groot witroon moet staan?
Moet my hart vol skaamte wees,
met my naam daar uigelees
En my werk geen eer vir sy geliefde Naam?
As geen siel van my kan sê:
“Ek wil jou as vriend hier hê,
Want deur jou het ek die Heiland leer bemin.”
“Here, vandag bring ek u evangelie by iemand.”