Lees Psalm 18: 1 – 7
“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil..” (3)
Die sendeling, dr. H. A. Ironside, vertel in die Alliance Weekly hoe hy onder die Laguma Indiane gewerk het en op `n dag gevra is, om daardie middag in `n dorpie, Pawate, `n diens te hou. Dit was die jare voor motorvoertuie. “Ons het in `n groot wa, getrek deur perde, vir omtrent veertien myl oor ruwe paaie gery, voor ons die dorpie bereik het. Indiane het van ooral oor aangekom,” skryf Ironside. Vyfuur die middag begin hulle die terugtog, want die aand moet hy weer in Casa Blanca `n diens hou. Nie ver nie of hulle sien `n geweldige donderbui opbou en na hulle kant toe kom. “Ons gaan sopnat reën,” sê Ironside vir dié by hom op die wa. Die wadrywer antwoord, “Ek hoop nie so nie. Daar is `n groot rots op ons pad, `n entjie vorentoe. As ons dit betyds haal sal ons droog bly.” Hy laat die perde vinniger hardloop. Nie lank nie of hulle sien die masiewe rots, voor hulle uit die plein oprys. Toe hulle nader gaan, sien hulle `n grot in die rots, groot genoeg vir die perde om met wa en al daarin te gaan. Na net enkele minute later breek die storm oor hulle los. Toe die storm buite oor die rots uitwoed en hulle veilig en droog binne in sit, begin een van die manne in die Lagunataal sing: “Ewige Rots, geklief vir my, laat my veilig in U bly.” Harry Ironside sê: “I realised the meaning of the poet’s words, then as perhaps never before.”
Vir al ons gevare is God vir ons `n veilige en oop rots om in te skuil. Maar veral vir die groot gevaar van die ewige oordeel, is die Here Jesus, die Rots wat vir ons aan die kruis gekloof is, `n veilige skuiling. Skuilende in Jesus, kan ons met geruste hart die ewigheid ingaan.
“Here, vandag kom ek in U skuil.”