Lees 2 Korintiërs 5:16-21
“Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom…(17)
Louis Zamperini van Compton, California, ’n voormalige Olimpiese atleet en Amerikaanse vlieënier, moes in die Tweede Wêreldoorlog in die omgewing van Oahu Hawaii, in die see, ’n noodlanding maak. Vir 47 dae het hy byna 2 000 km. ver op sy noodvlot gedobber, voor hy deur ’n Japanese boot opgepik is. In Now vertel Tom M. Olsen, van Zamperini se ervaringe as Japanese oorlogsprisonier, voordat vrede twee jaar later gesluit is. Hy is uitgehonger en gemartel. Tuis het sy mense hom as dood prysgegee. Hy besit sy eie doodsertifikaat, geteken deur pres. Rooseveldt. In 1945 het Zamperini Japan met ’n hart vol haat verlaat. In 1949 woon hy een aand in Los Angelese ’n diens by waar dr. Billy Graham die prediker was. Daardie aand ontmoet die Here Jesus Christus hom en hy kom tot bekering. Vir sy vriende sê hy: “Such a change has come into my life that I feel I have a duty to perform.That duty is to return to Japan and tell them of the saving power of the Lord Jesus Christ.” Zamperini het teruggegaan Japan toe met ’n lys van sy gevangenemers en tronkbewaarders se name – en ’n Bybel. Sy doel: om sy Verlosser, Jesus Christus, aan die mense wat hom mishandel het, bekend te maak.
Haat, woede en wraaksug is magtige emosies van die menslike hart. Dit is ’n ingebore deel van die sondige menslike natuur. In die Messiaanse Psalm 22 waar die gemoedservaring van die lydende Messias openbaar word, lees ons die omvang van die woede van die mense, om die kruis van Christus: “’n Wreedaardige klomp mense het my omsingel…soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af….soos honde omsingel hulle my…” (Psalm 22:13,14,17). Hoe het Jesus op hierdie woede en haat van sy vyande gereageer? “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk.23:34). Wedergeboorte is `n oordra van Jesus se lewe, deur die Heilige Gees, na `n sondaar se lewe toe.
“Here, vandag vergewe ek mense wat my kwaad aandoen.”