Die voorreg van 'n kind

Lees 1 Johannes 5: 1 – 17

“Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is `n kind van God….En nou kan ons met vrymoe­digheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra” (1,14).

In die glorieryke dae van die Romeinse Ryk het die kei­ser `n triomfoptog deur die hoofstraat van Rome gelei. Sterk soldate moes aan weerskante van die straat, die ju­be­­lende skare van die keiser af weghou. `n Platform is langs die straat opgerig, vanwaar die keiserlike gesin son­der ongerief die optog kon dophou. Net toe die optog regoor die keiserlike platform kom, spring die keiser se ses­jarige seuntjie op, storm die platform af en nael tussen die mense deur straat toe. `n Soldaat kry hom uiteindelik beet. “Waarheen gaan jy? Dis die keiser. Bly weg daar!” skree hy vir die seuntjie. “Dis nie! Dis my pa! Los my!” skree die seuntjie.vir hom terug. Die soldate en die skare het respek en vrees vir die man op die keiserlike koets ge­had. Die keiser se seuntjie het vrymoedigheid en liefde vir sy pa gehad. Hy weet dit is die keiser, maar vir hom is dit sy pa.

Die Heilige Gees, die Gees van aanneming, wek in die hart van die mens wat in Jesus Chris­tus as sy Verlosser glo, hierdie vrymoedigheid. “Maar aan almal wat Hom (Chris­tus) aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12). “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh.3:1). “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: ‘Abba!’ Dit beteken Vader! (Gal.4:6).

`n Kind vra, en `n vader gee. “Watter mens onder julle sal vir sy seun `n klip gee as hy brood vra, of `n slang as hy vis vra? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel  is, goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?”(Mat.7:9-11).


 “Here, vandag is ek met oorgawe u kind en ek vertrou in u Gees om in my die gees van kindskap te versterk, terwyl ek vertrou in my Saligmaker en Voorspraak by die Vader, die Here Jesus Christus.”