Lees Johannes 14: 15 – 31
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (23)
`n Ryk Engelsman het by sy groot versameling van kosbaarhede `n besondere viool gevoeg, vertel A. B. Rhinow in The Watchman-Examiner. Die violis, Fritz Kreisler, het die viool begeer. Die ryk eienaar het egter geweier om van sy kosbare instrument afstand te doen. Kreisler het hom gevra om asseblief net een keer op die viool te mag speel. Die geleentheid is hom gegun. Ek haal Rhinow se eie woorde aan (ek kan dit nie mooi genoeg vertaal nie): “Kreisler played as only a genius can play. He forgot himself. He poured out his soul into his music. The Englishman stood as one enchanted until the playing had ceased and Kreisler had tenderly returned the instrument to the antique box, with the gentleness of a mother putting her baby to bed.” Dit was asof die Engelsman uit `n beswyming ontwaak. “Neem die viool!” bars hy uit. “Dit is joune. Neem dit. Ek het geen reg om dit vir my te hou nie. Dit moet aan die man behoort wat dit kan bespeel soos jy dit doen.” Dit is `n ware redenasie. Die instrument moet behoort aan die meester wat die beste musiek daaruit kan haal. Hieroor sê Rhinow: “And ought not your life and mine to belong to the Master who can draw the noblest harmonies from them?”
En hierdie Meester is die Here Jesus Christus. Petrus en Johannes was net vissermanne en watter musiek het nie uit hulle lewens gevloei nadat Jesus hulle meester geword het nie! Jesus neem deur die Heilige Gees se inwoning in ons hart van ons besit en dan bring die Heilige Gees die liefde, vriendelikheid, goedheid van Jesus in ons lewens na vore. Uit ons eie kan ons nie tot God se eer musiek maak nie, maar die Meester, Jesus Christus, kan deur sy Heilige Gees se volheid in ons hart, sy lewensskoonheid in ons nietige lewens na vore bring.
“Here, vandag gee ek my hart geheel oor aan U om my te besit en te gebruik na u wil.”