Sy hande

Lees Matteus 28: 16 – 20

”Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (18,20).

Na die Tweede Wêreldoorlog het die lidmate van ’n kerk in Frankfurt, Duitsland, hulle kerk, wat deur bomme verwoes is, begin opbou. ’n Beeld van Christus wat in die kerk gestaan het, is ook erg verniel. Verskillende dele van die beeld is in die puin opgespoor. Feitlik die hele beeld kon weer herstel word. Net die hande kon nie ge­vind word nie. Die kerkraad het beraadslaag of ’n beeld­houer opdrag moet kry om die hande te maak. Die oorwe­ging is verwerp. Die beeld gaan sonder hande bly om ’n boodskap aan lidmate uit te dra. Onderaan die beeld is die volgende woor­de geskryf: “Christus het geen hande,  behalwe ons hande nie.”

Die kerk, Christus se gelowige volk op aarde, is Chris­tus se liggaam. Deur sy Gees is Hy die lewe in ons, die Chris­tene, wat sy liggaam uit­maak. Deur sy krag kan ons, wat sy liggaam vorm, sy werk op aarde doen. “Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen af­sonder­lik ’n gawe uitdeel soos Hy wil…. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan” (1 Kor.12:11,27). Al die werk vir die Here se konink­ryk op aarde word deur mense gedoen. Ons onthou die storie van die engel se beswaar na Christus se hemel­vaart. ”Here,” het hy gesê, ”is dit verstandig om nou al terug te kom hemel toe en daar is nog so baie ongedane werk op aarde. Baie lande en volke moet nog bereik word.” Toe antwoord die Here hom, ”Ek weet, maar Petrus, Johan­nes en al die ander dissipels het agtergebly om die werk klaar te maak. Ná hulle sal ander dissipels van my, deur die eeue, oral, my werk voortsit.” Ons is letterlik Jesus se hande en voete op aarde. As óns nie vír Hom loop, vír Hom handel, vír Hom praat nie, sal sy werk ongedaan bly.

“Here, vandag wil ék vir U bruikbaar wees.”