Die krag van 'n belofte

Lees 2 Korintiërs 1: 17 – 24

“…Jesus Christus, die Seun van God…is nie ‘ja’ en ‘nee’ tegelyk nie. Hy is die ‘ja’ …. op al die beloftes van God” (18, 19 , 20).”

Sir William Napier gaan een aand stap. Hy kom af op ’n dogtertjie wat bitterlik staan en huil. Sy goedige ge­aard­heid reageer dadelik, en hy gaan sit op sy hurke by haar om te hoor wat die moeilikheid is. Stukkie vir stukkie hoor hy die storie. Haar ouers is baie arm. Sy is ge­stuur om te gaan melk koop. Sy het gestruikel en geval en al die melk is op die grond uitgestort. Daar is nie geld vir an­der melk nie. Sir William staan op, streel oor haar koppie en vee haar traantjies met sy eie spierwit, sakdoek af. “Moenie huil nie, Kindjie. Hier gaan koop vir jou ’n ander kannetjie melk.” ’n Blye glimlaggie breek deur haar trane. Hy steek sy hand in sy sak om sy beursie uit te haal. Sy ge­sig val. Hy het nie sy beursie by hom nie! Verleë sê hy: “Ag, Kind­jie, ek het nie geld by my nie. Maar môre­aand, dieselfde tyd, kry ons twee mekaar hier. Ek bring vir jou geld vir ge­noeg melk. Sê vir jou mamma en pappa.” Tuis­ge­kom, kom sy vrou hom met ’n breë glimlag tegemoet. In haar hand het sy ’n pragtige vergul­de uitnodigingskaar­tjie. Baie lank al wag Sir William vir ’n uitnodiging na só ’n onthaal. Dit sal sy politieke loopbaan ’n stoot gee. Op­ge­wonde neem hy die kaartjie en lees dit vinnig deur. Dit is vir die volgende aand en dit is dieselfde tyd wat hy be­loof het om die dog­terjie te ontmoet. Tot sy vrou se verbasing skud hy sy kop. “Nee, ek kan nie gaan nie. Ek het reeds ’n afspraak.” Hy vertel haar van die dogtertjie. Sir William het die gul­de geleentheid van die hand gewys, om sy belofte aan ’n klein, arm dogtertjie na te kom.

Maar sê nou, die dogtertjie het by haarself ge­dink: daardie ryk, belangrike man sal tog nie kom nie, en sy het nie vir die afspraak opgedaag nie? Hoeveel sou sy nie verloor het nie, en watter teleur­stelling sou dit nie vir die belangrike man gewees het nie! Ons hoop sy het die belofte geglo en met haar em­mer­tjie in die hand, vir hom gewag en die geskenk wat hy bedink het, in ont­vangs geneem.

Omdat God ons liefhet en ons jammer kry, be­doel hy groot gawes vir ons. Hy belowe dit. In Jesus vervul Hy sy beloftes. Beloftes is die kanale waarlangs God sy gawes na ons toe laat vloei. Paulus skryf, “Jesus Christus …is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God” (2 Kor.1:18,19,20). Onkunde oor God se beloftes in sy woord, en traagheid om Hom te glo, beroof ons van seëninge.

“Here, vandag wil ek u beloftes leer ken en glo.”