Drie keer geroep

Skrifdeel: Lukas 19 : 1 – 10

“(Hy) het gekom om te soek en te red…” (10)

Hy was `n tiener, vertel Rev. T. E. Ruth  van Sydney, Australie in The Christian Herald, toe hy die Sondagoggend uit gewoonte na sy kerk toe gaan. `n Vreemde hulpprediker is op die kansel. Sy teks is Josua 24:15: “Kies julle van­dag wie julle wil dien…” Die preek laat hom met homself ongelukkig voel en hy kry `n af­keer in die vreemde prediker. Op `n geleë oom­­­blik         glip hy uit. Hy verwyl die tyd en wag vir `n diens wat later in `n ander kerk gehou word. Hy gaan daarheen. Hy is verbaas toe die­­selfde prediker op die kansel verskyn en  die preek van vroeër die oggend herhaal. Daardie aand gaan hy na `n kerk toe in heelte­maal `n ander voorstad en hy is behoorlik ge­skok toe die­self­de prediker op die kansel klim en sy og­gend­preek herhaal. Rev. Ruth  skryf: “It was too much for me. That night I sur­ren­der­ed to the love that had sought me in three places.”

Nie net die inhoud en betekenis van die preek nie, maar dat die Here so herhaaldelik op die een dag vir hom gesê het: “Kies van­dag…” het hom so diep getref. Jesus sê in sy ge­lykenis van die herder en die verlore skaap in Lukas 15:4,5: “…hy gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. En as hy hom kry, is hy bly en hy tel hom op sy skouers.” Jesus roep ons nie net nie, maar Hy wil ons be­sit en gebruik. Rev. Ruth het self verkon­di­ger van die evangelie geword.

“Here, vandag hoor ek en ek wil antwoord.”