Lees Handelinge 16: 25 – 34
“Glo in die Here, Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (31).
Wanneer ’n mens die spoorwegdorp, Harriman, in oostelike Tennesee, nader, trek ’n groot, verligte kruis op een van die hoë bergrante, ’n mens se aandag, skryf dr. Paul Lee Tan. Die dorp voorsien die krag vir die verligte kruis. Die aanbring van die kruis was egter anders, as met die kruis op die kloktoring van die kerk in Pittsburgh. Harriman se kruis was die idee van `n vyfjaaroud seuntjie, Dan Denny.
Dan Denny het op ’n dag ’n kruis present gekry om mee te speel of in sy kamer te hang. Hy hang toe die kruis elke dag by sy venster uit. Later wil sy ma weet hoekom hy dit doen. Sy verduideliking: “Dalk sien iemand dit en dink dan aan Jesus en probeer goed wees.” Dit het vir sy ma so goed geklink, dat sy dit met haar vriendinne bespreek. Een van hulle se man is op die dorpsraad en sy vertel dit vir hom en wonder of hulle, as dorpsmense, nie op ’n goedgeleë plek ’n kruis kan oprig nie. Dit kom by die kerke ter sprake en nie lank nie of die besluit word geneem en die kruis word op die hoë rant, sigbaar vir almal, opgerig.
Weereens leer dit ons, dat dit nie ’n mens se ouderdom, status, gawes of geleerdheid is wat die groot rol speel, as ons van Christus getuig nie. Dit is ’n saadjie wat geplant word. Die krag is in die saadjie self. Dit is die Heilige Gees wat die getuienissaadjie laat ontkiem en laat groei.
Saai die evangeliesaad waar dit moontlik is. Jesus het in sy gelykenis van die saad gesê, baie van die saad word vergeefs gesaai, maar God laat dit ook in goeie grond val. Ons werk is om te saai. God se deel is om die saad te laat groei.
Here, vandag wil ek ook my klein saadjie saai.