Die verharde hart

Hebreërs 3: 7 – 15  OU VERTALING

“Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie… ( 7).

Een nag, breek ‘n inbreker in by ‘n deftige huis, in ‘n belangrike ste­­delike voorstad. Na sy strooptog in die ka­mers, neem hy sy buit na die voorhuis toe en gooi dit op die mat uit. Hy gaan sit om die beste ar­tikels uit te soek, om saam met hom te neem. Toe­vallig kyk hy op. Aan die muur hang ‘n afdruk, van die skildery van die doringge­kroonde Jesus, Ecce Homo. Hy voel die droewige oë van die lydende Heiland rus op hom. Nou kan hy nie met sy taak voort­gaan nie. Hy sug, staan op en loop na die skildery toe. Van naby kyk hy in Jesus se oë. Hy steek sy han­de uit, neem die skildery aan weerskante vas en draai dit teen die muur om. Hy gaan terug na sy buit toe. In die stilte van die nag gaan hy voort met sy taak om sy buit te keur. Die evangelie bring ons, van aangesig tot aan­ge­sig, met die gekruisigde Jesus in aanraking. Die Heilige Gees laat ons voor sy oë staan. Daar maak ek my keuse. Verhard ek my hart en gaan voort met sy sonde, of buig ek my hart, bely my sonde en neem Jesus aan as my Verlosser? Elke keer as die roepend Heiland weggewys word, word die verhardingsproses makliker.

 “Here, vandag buig ek en ek kom na U toe.”