Lees Matteus 11:25-30
“My juk is sag en my las is lig” (30)
Dr. Lambie, geneesheersendeling in Abesinië, moes dikwels vinnige en diep riviere oorsteek, skryf Christian Victory. Die gevaar van die vinnigvloeiende riviere was, ‘n mens word van jou voete afgeruk en dan met die vinnige stroom meegesleur na ‘n dieper stroom, of na ‘n waterval, of dat mens teen een van die baie rotse verpletter kon word. Dr. Lambie het van die inboorlinge die geheim geleer om veiliger deur so ‘n stroom te kom. ‘n Mens soek ‘n groot klip. Hoe groter en swaarder hoe beter. Die gewig word op die skouer geneem en dit dien as ballas. Die bykomstige gewig druk die voete stewiger op die bodem vas en jy kruis die rivier met groter veiligheid. Jou voete word nie so gou onder jou uitgespoel nie. Dr. Lambie se gevolgrekking: While crossing the dangerous stream of life… we need the ballast of burdenbearing, a load of affliction, to keep us from being swept off our feet.” Romeine 5:3-5 sê: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het”.
Dwarsdeur die Skrif kry ons hierdie negatiewe elemente en swaarkry, wat gelowiges soos laste moes dra. Abraham moet kinderloos voortbeweeg, Jakob se broer veg met hom, Josef word as slaaf verkoop en beland in Egipte in die tronk, Job ervaar groot teëspoed en word deur sy vriende misverstaan, Dawid moet gedurig vir Saul vlug, Daniël beland in die leeukuil en sy vriende in ‘n brandende oond, Jeremia word vervolg en in ‘n put gegooi. So loop hierdie patroon deur die Skrif. Salomo wat geen laste moes dra nie, se voete is op die ou end onder hom uitgespoel en word deur sy vroue verlei en word ‘n afgodsdienaar.
“Here, vandag dank ek U vir die las wat my voete in die lewenstroom beter laat vasstaan.”