Die taal uit die hart

Lees Psalm 23

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie” (1).

Eens na `n sitkamerfunksie in Enge­­land, word een van die gaste, `n bekende ak­teur, vir ’n voordrag vir die gas­te gevra,  skryf The War Cry. Hy stem in en vra of daar enige beson­de­re keuse is. Na ’n paar oomblik­ke van stilte, vra ’n ou pre­dikant, wat ook teen­woor­dig is, of hy Psalm 23 sal voordra. Vir `n oomblik huiwer die akteur, maar dan sê hy: “Graag, maar op voor­waarde dat u, my geagte vriend, na my, die­selfde sal doen.” “Ek?” vra die ou dominee ver­baas. “Ek is nie `n voordraer nie. Maar as jy dit so wil hê sal ek probeer.” Die groot akteur be­gin `n in­druk­wekkende voor­­­­drag. Sy stem­klank en stem­­­buiging is reg en pragtig. Hy boei sy ge­hoor. Toe hy eindig, word hy luid toe­ge­juig. Daar kom stil­­te en die ou do­minee kom reg­op en begin die psalm. Sy stem is ge­woon. Met eenvoud sê hy die psalm op. Geen ap­plous begroet hom toe hy ophou nie. Net dood­se stil­te, die hoof­de gebuig, meer as een oog vogtig. Dit is die ak­teur wat die stilte ver­breek. Hy lê sy hand op die ou dominee se skouer. Sy stem beef effens toe hy sê: “Ek het julle ore bereik, my vriende. Hy het julle harte be­reik. Die verskil is net dít – ek ken Psalm 23, maar hy ken die Herder.”

Hoe anders, ryker, dieper is die Here se Woord as ons Hóm ken. Dan bring die Heilige Gees God se stem en Jesus se Persoon in ons hart in. Ons ervaar kontak met ons Here.

“Here, vandag lees ek U Woord met my oë op U”