Lees Psalm 23
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie” (1).
Eens na `n sitkamerfunksie in Engeland, word een van die gaste, `n bekende akteur, vir ’n voordrag vir die gaste gevra, skryf The War Cry. Hy stem in en vra of daar enige besondere keuse is. Na ’n paar oomblikke van stilte, vra ’n ou predikant, wat ook teenwoordig is, of hy Psalm 23 sal voordra. Vir `n oomblik huiwer die akteur, maar dan sê hy: “Graag, maar op voorwaarde dat u, my geagte vriend, na my, dieselfde sal doen.” “Ek?” vra die ou dominee verbaas. “Ek is nie `n voordraer nie. Maar as jy dit so wil hê sal ek probeer.” Die groot akteur begin `n indrukwekkende voordrag. Sy stemklank en stembuiging is reg en pragtig. Hy boei sy gehoor. Toe hy eindig, word hy luid toegejuig. Daar kom stilte en die ou dominee kom regop en begin die psalm. Sy stem is gewoon. Met eenvoud sê hy die psalm op. Geen applous begroet hom toe hy ophou nie. Net doodse stilte, die hoofde gebuig, meer as een oog vogtig. Dit is die akteur wat die stilte verbreek. Hy lê sy hand op die ou dominee se skouer. Sy stem beef effens toe hy sê: “Ek het julle ore bereik, my vriende. Hy het julle harte bereik. Die verskil is net dít – ek ken Psalm 23, maar hy ken die Herder.”
Hoe anders, ryker, dieper is die Here se Woord as ons Hóm ken. Dan bring die Heilige Gees God se stem en Jesus se Persoon in ons hart in. Ons ervaar kontak met ons Here.
“Here, vandag lees ek U Woord met my oë op U”