Lees 1 Timoteus 2: 19 – 26 Ou Vertaling
“Maar vlug vir die begeerlikhede…jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met dié wat die Here uit `n rein hart aanroep” (22)
Die vlieënier, Handley Page, vertel van `n insident, wat Frank W. Boreham, in The Y. C. Companion, aan ons oordra. Page het in Kobar, Arabië, geland. `n Groot rot het ongesiens in sy vliegtuig ingekom. Na Page opgestyg het, en reeds vlieghoogte bereik het, word hy van die rot bewus toe hy `n geknaag agter hom hoor. Terwyl hy met verontrusting dink aan die skade wat die ongenadige tandjies aan die bedrading van die vliegtuig kan aanrig en die gevaar dat die vliegtuig kan neerstort, onthou hy, `n rot kan nie `n hoë atmosfeer se lugdruk oorleef nie. Hy laat sy vliegtuig dadelik hoër opstyg, totdat hyself dit moeilik vind om asem te haal. Hy waag later om weer laer te vlieg. Die geknaag is toe stil en nadat hy geland het, kry hy die dooie rot in sy vliegtuig. Hier is raad vir iemand wat onder versoeking deurloop, skryf Frank Boreham: “When we feel ourselves endangered by the pests that molest our souls, we need only to rise to a loftier level of Christian attainment.”
Uit eie krag kan ons nie `n hoër geestelike lewe bereik nie. Ons is afhanklik van die Heilige Gees se werking in ons hart. Óns deel is om die hoër geestelike vlak te soek, deur gebed en Bybelstudie en bepeinsing oor ons Here Jesus se Persoon, soos die skrif dit vir ons skilder en so nader aan God te kom.
“Here, vandag verlang ek om nader aan U te leef.”