Lees Deurteronomium 6: 1 – 9
“…die Here is ons God…die enigste Here…jy moet jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag… dit moet in jou gedagtes bly…” ((4 – 6).
Deur al die grootste stede en dwarsoor die ryslande van Japan, jaag die koeëltrein. Neil Verwey, sendeling in Japan, stuur vir ons die interessante storie wat in die Yomiuri Nuusblad in Japan verskyn het. Die trein word die koeëltrein genoem omdat die voorkant van die trein soos ‘n koeël gevorm is en dit teen ‘n spoed van 220-300 km. per uur kan ry. Een rede waarom die trein so vinnig kan ry, is dat seksies van die spoorstawe in een gelykstuk aanmekaar gesweis is om die trein stabiel te hou. Daar is geen skerp draaie in die spoorlyne nie. Borsels aan die voorkant van die trein vee hindernisse van die spoor af. Binne-in die trein lyk dit nes ‘n vliegtuig. Jou stoel kan terugleun en die tafel voor jou kan afslaan. Koeldrank, kits middagete, vrugte, koekies of roomys kan uit die peuselkroeg bestel word. Goeie kleedkamers – nes dié in vliegtuie. Drie biljoen mense het in die afgelope 25 jaar op die koeëltrein gery, sonder een noodlottige ongeval. Een miljoen mense ry daagliks op die trein. Die room van die Japannese spoorwegpersoneel dien op die koeëlsneltreine. Hulle het nog nooit ‘n ongeluk gehad nie. Dit was dus ‘n nuuswaardige gebeurtenis, toe die drywer, van so ‘n voortsnellende trein, sy stuurkontrole gelos het, na ‘n agterste treinwa geloop het, en sy hoed gaan haal het! Iemand het die owerhede in kennis gestel. Dit het drie dae geneem voordat die drywer erken het, hy het half aangetrek gevoel sonder sy hoed, en daarom het hy dit gaan haal. Die drywer het nie gedink dit is so ‘n groot oortreding nie. Onder ander omstandighede was dit nie ‘n skokkende gebeure nie, maar as verantwoorderlike drywer van die trein wat met 1 324 passasiers teen 300 km. voortgesnel het, was dit ‘n onverskillige en gevaarlike daad. Hy het duidelik nie sy prioriteite reg gehad nie.
Vir ons as kinders van God en volgelinge van die Here Jesus Christus is dit nodig om te bepaal, wat geniet voorrang in ons lewe. In wat ons doen of sê kan ons God se eer in oneer bring en Christus se koninkryk skade aandoen. Is ons prioriteite reg? “Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand….” (Luk.12:35). Ons vyand, Satan, sal probeer om ons aandag van God en sy belange af na geringer aardse sake weg te lok. “Julle is…. mense van die lig, mense van die dag…laat ons wakker bly en nugter wees…” (1 Tes.5:5,6).
“Here, vandag konsentreer ek op U belange.”