Lees Kolossense 3:12-17
“En wat julle ookal sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus…” (Kol.2:17)
In vroeë Rusland, gaan die storie, het ’n ou man een koue nag van sy werk af huis toe gegaan. Hy loop by ’n jong soldaat, wat wagstaan, verby. Uit jammerte vir die bewende jongman, trek hy sy jas uit en gooi dit om die soldaat se skouers, met die opmerking, hyself sal tog net-nou tuis en beskut wees. Die ou man het vinnig weggestap. Die volgende oggend is die jong soldaat half verkluim langs sy wagpos opgetel. Geruime tyd daarna het die ou man gesterf. Kort voor sy dood, droom hy, Christus Jesus kom na hom toe nader. Tot sy verbasing sien hy die Meester het sy ou jas aan. Op sy verbaasde vraag, antwoord die Here hom: “Onthou jy dan nie? Een koue nag, toe Ek op wag was, het jy dit vir My gegee”.
Dis dalk net`n storie, maar dit dra `n belangrike boodskap. Die goeie daad wat ons aan ’n behoeftige mens doen, is` aan die Here gedoen. “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spreuke 19:17). “Here, wanneer het ons U gevoed… U gehuisves, U klere gegee… En die Koning sal hulle antwoord: ‘Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broeders van my gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Mat.25:38-40).
“Here, vandag wil ek aan iemand goeddoen.”